
Foto: Michèle Meyer; grafika: Canva
Suid-Afrika se aangewese nuwe ambassadeur na Washington, Roelf Meyer, staan nie tans onderhoude toe nie. Dit word eers teruggehou “in afwagting van die akkreditasieproses” deur die regering van pres Donald Trump, laat weet hy – diplomaties – toe hy genader word vir LitNet se Wyngaard Weekliks-gesprek.
Die gesprek gaan voort op Wyngaard Weekliks met Roland Henwood, ’n politieke kommentator verbonde aan die Universiteit van Pretoria, en Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by die Solidariteit Beweging. Die vraag waarmee die gesprek ingelui word: Wat is die doel of rol van ’n ambassadeur? In beginsel, stem Henwood en Kleynhans saam, is dit dat jy jou land in ’n ander land verteenwoordig om daar goeie verhoudinge tussen die twee lande te gaan bou.
Hoe die rol in die praktyk uitgevoer word, verskil soms. Baie hiervan hang daarvan af of die aangestelde ’n beroepsdiplomaat is en of die aanstelling ’n politieke een was, aldus Kleynhans. Henwood roep halt: In wese verteenwoordig jy jou regeringshoof by ’n ander regeringshoof wanneer jy as ’n ambassadeur van jou land aangestel word, sê hy.
Nou waarom die idee in Kleynhans se onmiddellike reaksie op Meyer se aanstelling dat dit die Afrikaner-gemeenskap tevrede moes stel? Kleynhans antwoord: “Ons het baie aanbevelings aan pres [Cyril] Ramaphosa gemaak en ons het met senior mense in die Uniegebou vergader om daardie aanbevelings te bespreek. Beide politieke voorstelle, ekonomiese voorstelle en dan mense wat bloot meer in die diplomatieke diens is en tans in die regering werk.”
Die beweegrede was om iemand te probeer identifiseer wat sensitief is teenoor die negatiewe (afsydige, agterdogtige) atmosfeer wat tans in die Amerikaanse regering jeens Suid-Afrika heers. Boonop sal ’n nuwe ambassadeur in ’n Washington, DC aankom waar daar ’n kloof tussen die regerende Republikeine en die opposisie-Demokrate bestaan. “Dit is hoekom daar niks gebeur in die Kongres nie,” sê Kleynhans. Weg van die interne politieke struwelinge bestaan daar nogtans nuuskierigheid oor Ramaphosa se verrassende aanstelling: “Sedert die [president se] aankondiging het ek baie navrae uit Washington gekry – en mens wil nie ’n in posisie beland waar [die aanstelling of jou indrukke daarvan] ’n negatiewe reaksie ontlok nie.”
Uit eie data van binne die Solidariteit Beweging, sê hy, “het die oorgrote meerderheid van Afrikaners ’n baie negatiewe beeld en persepsies van Roelf Meyer”. Waarmee Kleynhans nie bedoel dat Meyer se benoeming “verongeluk [is] nie; net dat baie meer vertroue aan Suid-Afrika én Amerika se kant ingeboesem moet word” om die aanstelling aanvaarbaar en geloofwaardig te maak.
Roland se standpunt: Wie ook al aangestel sou word, sou altyd in omstredenheid gehul wees. “Dit maak nie saak wie [Ramaphosa] aanstel nie – iewers sal iemand ontevrede wees,” sê hy. ’n Tweede punt wat hy wil stel: “Wat is die doel van ’n ambassadeursaanstelling?” ’n Derde punt: “Is die persoon bevoeg?”
........
“Ek kan aan min mense dink wat beter gekwalifiseerd en ervare is om hierdie taak te gaan verrig. Die punt wat belangrik is, is dat hy nie die afgevaardigde van my of jou of ’n politieke party is nie. Hy is die Suid-Afrikaanse ambassadeur.”
........
Om by Roelf Meyer te kom: “Ek kan aan min mense dink wat beter gekwalifiseerd en ervare is om hierdie taak te gaan verrig. Die punt wat belangrik is, is dat hy nie die afgevaardigde van my of jou of ’n politieke party is nie. Hy is die Suid-Afrikaanse ambassadeur.” Meyer het “baie ervaring in baie dele van die wêreld”. En: “Hy is ook ’n veilige aanstelling, want hy gaan nie dom dinge sê en doen en Suid-Afrika kompromitteer nie.”
’n Tussenpose: Die afleiding wat dus uit Henwood se onderskrywing van die Meyer-benoeming gemaak kan word, is dat hy nie glo dat Meyer dieselfde fout sal maak as die voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur na Washington, Ebrahim Rasool, wat kritiek teen Trump uitgespreek het terwyl hy in die amp gedien het nie. Of soos wat die nuwe Trump-gesant in Pretoria, Leo Brent Bozell III, gedoen het pas nadat hy hier aangeland het, toe hy die Suid-Afrikaanse regering se beleid – en selfs die Konstitusionele Hof – gekritiseer het nie.
Kleynhans keer ter wille van konteks van sy kritiek op Meyer dat dit darem nie sy bedoeling was om te sê jy moet ’n ambassadeur in Amerika kry wat Afrikaners verteenwoordig nie. Net een van die name wat Solidariteit voorgestel het, was in elk geval ’n Afrikaner. Maar die groter kwessie waaraan ’n nuwe ambassadeur aandag sal moet gee, is die Trump-administrasie se eise – of “five asks”, soos die Amerikaners dit noem: grondonteiening, landelike veiligheid, die sing van “Kill the Boer”, swart ekonomiese bemagtiging en die Afrikaner-vlugtelingprogram – en die verwagting in Washington is dat dit spoedig gedoen moet word om verhoudinge met Suid-Afrika te herstel. “Die oplossing hiervoor moet in Pretoria gevind word,” sê Kleynhans. “Die kopknik daarvoor moet uit Washington kom.”
En as dit nie die man in die Withuis – bekend vir sêgoed soos “A great guy!” – geval nie, dan val die oplossing plat. Henwood se raad aan Meyer in ’n kort telegram? “Jy gaan moet hare op jou tande het, maar jy het die skillsom die ding te laat werk. Doen dit vir Suid-Afrika!”
Kyk ook:

