Ek raak gewoonlik nie gou kwaad nie, maar wat my erg die moer in maak (verskoon die Engels!) is mense wat dink ek is onnosel. Dit het nou weer gebeur en die instansie waarvan ek melding maak is 'n GROOT kleinhandelaar, wie se produkte ek elke dag eet.
Dis sedert hulle klante met die blou kaart probeer lok dat ek vir myself sê wanneer ek weekliks in die gewraakte winkel kom: Jy moet werklik dink ek is onnosel as jy pryse met 5% of 10% laai en vir my elke 6 maande of jaar 1% van my aankope teruggee, mits ek my blou kaart elke keer wys. Dis kamtig vir elke klant ’n bargain maar ek het van die begin af in my binneste daarteen geprotesteer (ek praat woordeloos en moerig met hulle MD - eintlik moet ek BD sê, maar sal almal dan verstaan dat BD die besturende direkteur is?). As dit so is en die ouens wil regtig gaaf wees, gee hulle jou nie net 1% terug nie, maar sommer 3X (’n volle 3% op iets wat jy nie moes gekoop het nie!).
Hierdie kaarte moet deur die regering verbied word want daar moet ouens wees (dit sluit die manlike, vroulike en alle variasies in) wat nou net by hierdie winkel koop. Vir my is die prys die bepalende faktor en dis my hoofoorweging.
Die rede vir die brief is hulle jongste foefie. Hulle gee jou ’n allemintige 2% mettertyd terug op alles wat jy koop mits jy dit voor 19 Mei by enige van hulle groot markte doen. Hulle dink sowaar ek is dom genoeg om in my motor te klim en ’n klomp petrol uit te ry om mettertyd ’n 2% terugbetaling te kry. Ons kan begin gesels oor spesiale aanbiedings wanneer hulle my 50% afslag aanbied of miskien selfs 20% in sekere gevalle, maar hulle is blerrie fools as hulle dink ek gaan dit vir 2% doen!
Moet egter nie ’n fout maak nie. Daar moet talle gekke onder die publiek wees, want die koerant wat ek elke Saterdag koop het nou vir die tweede week die onderste helfte van sy voorblad en sy hele agterblad gebruik om met helderrooi ink hierdie armsalige afslag (2X) onder alle lesers se aandag te bring. As ’n mens in ag neem dat die advertensie minstens een ander soort huis vol geld moes gekos het, indien nie twee nie, beteken dit dat daar ’n verskriklike klomp toe ouens in ons pragtige land moet wees. En hulle dink waaragtig ek is ook een van hulle.
Alle Suid-Afrikaners (dis so ’n mooi, omvattende begrip) moet besef dat ’n besoek aan die winkel nie ’n aangename familie-uitstappie durf wees nie. Hierdie ouens is daar om geld te maak en aansienlik meer as ’n 2X of 3X wins te wys. As hulle met jou glimlag is dit omdat hulle jou al weer gevang het. Pappie of Mammie moet alleen na die winkel gaan met ’n behoorlike lys van die week se benodighede en die hele tyd op sy/haar hoede wees. (Die klomp blikke aan die punt van die ry is goed wat hulle sukkel om van ontslae te raak!) As jy hier jou groente of vrugte of vleis of drank koop betaal jy feitlik altyd te veel. As jy moeite doen met jou aankope en van verskillende handelaars gebruik maak, is dit nie nodig om met ’n armsalige 2% tevrede te wees nie. Jy sal elke week aansienlik meer spaar en die 2X aanbod verstryk in elk geval op 18 Mei.
George Bekker

