Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Dit besef ek opnuut toe ek amper drie maande gelede deur Alice op pad Fort Beaufort toe gery het. Neffens ’n ou wit-en-blou-geverfde gebou – wat waarskynlik uit die 19de eeu dateer en miskien vir sentimentele redes in stand gehou word – het ’n man gestaan. Hy het in die teenoorgesteelde rigting geryloop.
Die man was van kop tot toon elegant aangetrek. Gewapen met ’n sonbril op die oë en met ’n Amerikaanse Afro-haarstyl – soos ’n karakteristieke Jesse Jackson en Allan Boesak uit die ’80’s.
Op die oog af het die man in sy middel-50’s gelyk. Sy gedragswyse het ’n tipiese skilpadagtige geduld uitgebeeld. Sy kleredrag het ’n ouderwetsheid beklemtoon.
Hy het wraggies wit skoene aangehad. Dit het egter nie daar geëindig nie. Hy het ook ’n wit broek gedra. Ook ’n wit baadjie. “Net soos in die ou dae,” het ’n kollega die volgende dag aan my gesê nadat ek hom van die rare verskynsel vertel het.
Dié verskynsel het my herinner aan my eie paar wit skoene wat ek ’n paar jaar gelede gekoop het, maar ek het dit net – as ek reg onthou – een of twee keer gedra. Hoekom sou ek dit so min aantrek, is opgesluit in die volgende rede: dat wit as ’n skoenkleur vir mans die afgelope klompie dekades ’n “mode-faux” was – so lees ek in ’n artikel ’n paar weke gelde. Volgens dié artikel is wit skoene egter besig om terug te keer. Dit het my genoop om die volgende vraag aan kennisse en vriende te vra: Kan mans wit skoene dra? Vir dames blyk dit cool te wees, maar vir mans ontbreek konsensus by beide dames en mans.
Opvallend is baie dames dit eens – of so het die oumense altyd laat blyk, sê hulle – dat mans met wit skoene baie lief is vir die skoner geslag. Veral as hulle wit skoene met sagte sole dra, is hulle “meidebekruipers” – wat dit ook al mag beteken. Dat hulle nie vertrou kan word nie; veral as hulle getroud is.
Dat wit skoene net vir ’n “mannetjie-kat” bedoel is, het my laat lag. Ander dames glo mans met wit skoene is ware here wat die deur vir dames oopmaak en hulle soos ware prinsesse bederf.
Jong mans, soos ek, voel daar is absoluut niks verkeerd met wit skoene nie. Iemand het gesê formele wit skoene val glad nie binne sy smaak nie. Ek stem. Gemaklike wit trappers van leer sal lekker met ’n jean of linnebroek vloei.
Ek dink ook nie dit is die kleur van die wit skoene wat die probleem is nie. Die hele pakket – skoene, kouse, broek, hemp, baadjie of trui – moet lekker modieus saamgegooi word.
Die feit is, wit skoene is hier om te bly. Nou dra ek myne skaamteloos. En jy?


Kommentaar
"Meidebekruipers" is skoene met sagte sole en bokante en kan enige kleur wees. Op Engels word hulle dikwels "mocasins" genoem, dus gemaklike loopskoene. In 'n modetydskrif het ek gelees dat sokkies met die kleur van die (lang)broek moet harmonieer; nie noodwendig met die skoenkleur nie. As die skoenkleur bepalend vir die sokkies sou wees, sou 'n mens meesal swart of bruin sokkies moes dra; of deesdae ook wit, al is die skoene na enkele kere se aantrek 'n vuilwit.
Maar Jason kom nie by die punt uit nie, naamlik dat daar tradisioneel by (ontwikkelde) bruines, wat hulle dikwels/meesal in en om die Kaap bevind, 'n voorliefde is om wit sokkies te dra; maak die saak wat die kleur van die broek of skoene en hoe formeel of informeel die kleredrag is nie. Toe ek in die Transvaal gewoon het, het ek dikwels oud-UWK-student aan hulle wit sokkies uitgeken.
Johannes Comestor