Vat die pad met 'n skrywer en NB-Uitgewers

  • 0

NB-Uitgewers is op die sosiale media besig met 'n kompetisie waarin hulle hul lesers vra om hul gunstelingskrywers na enige plek saam te neem waarheen hul wil. Naomi Meyer het vir Elzebet Stubbe, NB-Uitgewers se digitale-reklame-koördineerder, oor dié kompetisie en die pryse gevra.

Hallo Elzebet, ek sien op Facebook is daar ’n foto van ’n paar skrywers in ’n kind se stootskraper. Wat maak hulle daar?

NB-Uitgewers het ’n fantastiese kompetisie op Facebook aan die gang. Daar is sketse van 20 skrywers en die idee is dat jy jou gunstelingskrywer na enige plek met jou kan saamneem. Ons het op hierdie spesifieke skrywers besluit omdat hulle verteenwoordigend is van NB-Uitgewers se drukname (soos Tafelberg, Human & Rousseau, Kwela en Queillerie) en al ons genres. Die meeste van hulle het ook nuwe boeke wat in 2013 verskyn.  

Dis waar: mense wat graag lees, wil graag hul gunstelingskrywer saamvat na plekke. Wat het jou die idee gegee om ’n sosialemedia-veldtog daarvan te maak?

Ek dink die idee het gekom van die oeroue vraag: As jy tien skrywers, lewend of dood, vir ete kon nooi, wie sou dit wees? En ek het my so ’n etenstafel voorgestel.

Wat moet mense doen om deel te neem?

Gaan na NB-Uitgewers se Facebook-blad, “like” die bladsy, en gaan na die album met die skrywers se sketse. Kies jou gunstelingskrywer (of meer as een), druk die skets, knip dit uit, sit dit op ’n stokkie of potlood (of gebruik dit sommer net so), en neem dan die “skrywer” op interessante plekke of saam met mense af. Laastens laai jy jou foto deur die kompetisieblad op en begin stemme werf deur jou vriende te vra om vir jou foto te stem. Hoe kreatiewer, hoe beter!

Wat kan mense wen, en hoe lank is die kompetisie aan die gang?

Die eerste prys is R5 000 se boeke, tweede prys R3 000 se boeke en derde prys R2 000 se boeke. Die wenners word bepaal na aanleiding van die getal stemme wat hulle gewerf het. Dus moet hulle hul vriende vra om vir hulle te stem deur hul foto op die kompetisieblad op Facebook te gaan “like”. Die boeke kan ook aan ’n skool of organisasie geskenk word.

Die kompetisie duur tot 15 Desember 2013. Die wenners sal nog in Desember aangekondig word.

As jy nie die een was wat die kompetisie uitgedink het nie, hoe sou jou persoonlike inskrywing gelyk het? Stuur asseblief vir my die foto ...

Hier is 'n paar voorbeelde soos wat ek bietjie rondgespeel het (die drie foto's van Brand Pretorius, Etienne van Heerden en Deon Meyer). Dit was baie pret!

 

 

 

 

 

 

 

Skakels na ons kompetisieblad, om in te skryf en te stem: http://woobox.com/hz2gq7.

Die album met die sketse op ons Facebook-bladsy:
https://www.facebook.com/media/set/?set=a.10151870046695279.1073741884.62312630278&type=1.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top