US Woordfeesprogram 2012: Profiele – Immergroen

  • 0
Profiele - Immergroen

Ondersteun deur Naspers, tensy anders aangedui.

Leon Rousseau 81
Dié veelsydige uitgewer en bekroonde skrywer het 'n onuitwisbare indruk gelaat met o.m. Die groot verlange, sy seminale biografie oor Eugène Marais. As jeugboekskrywer het sy Fritz Deelman-reeks generasies jongmense aan die lees gehou, soos ook sy bekende Storieman-reeks met storieboeke en kassette. Leon se seun Chris klink 'n glasie op sy vader wat op hierdie dag by die Woordfees 81 word, en Gerrit Brand lewer 'n oorsig van Rousseau se bydrae tot Afrikaans. Kom hou partytjie saam met ons! Dorothea van Zyl is die aanbieder.
5 Maart 19:00 | Boektent | 80min | R60


Nerina Ferreira 91
Nerina Ferreira wat vanjaar 91 word, het in die harte van Afrikaanse lesers, radio-luisteraars en TV-kykers gekruip as aktrise, radioregisseur en vertaler. Sy het onder meer Hergé se nimlike Tintin as Kuifie Afrikaans laat praat. Margot Luyt, Wilna Snyman en Nerina se seun Anton neem dié merkwaardige vrou se lewe en werk in oënskou. Beslis geen groentjie nie!
7 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R50

Marié Heese 70
Die gevierde skrywer Marié Heese word vanjaar 70. Amanda Botha stel 'n heildronk in op die lewe en werk van dié uitnemende woordkunstenaar wie se roman Die uurwerk kantel klassieke status bereik het. Heese lewer 'n blik op 'n skrywerslewe waarin sy ewe tuis in Afrikaans en Engels is. Aanbieder: Dorothea van Zyl. 
8 Maart 17:00 | Boektent | 50min | R60

Immergroen: Jan Rabie
Aangebied deur die Dokumentesentrum, J.S. Gericke Biblioteek
Abraham H. de Vries en Dave Pepler gesels oor die lewe en werk van een van Afrikaans se lieflingskrywers, Jan Rabie. Die uitsonderlike dokumente in die Jan Rabie-versameling van die Dokumentesentrum word belig in ’n fassinerende rondleiding.
2 Maart 12:00 | J.S. Gericke-biblioteek: Ouditorium | 120min | R50

Immergroen: Riaan Cruywagen
As nuusleser en die stem van “Haas Das” het Riaan Cruywagen een van die bekendste gesigte en stemme in die Afrikaanse kultuurwêreld geword. Deesdae is dié supergewilde ikoon selfs tuis in advertensies en musiekvideo’s. Kom luister hoe gesels een van die beroemdste Suid-Afrikaners met Isabelle de Taillefer oor sy lewe en loopbaan in die kalklig.
8 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R50

Immergroen: Patrick Petersen
Met David Pieters, Willem Fransman Jnr, Albertus Davids, Annette Fransman en Victor C Fredericks
Die digter-dominee, storieverteller en mensch, Patrick Petersen, is kort voor sy sestigste verjaardag oorlede. Willem Fransman Jnr. se KreAkon Toneelgeselskap bring hulde aan dié belangrike baanbreker van die swart Afrikaanse skryfkuns. ? Multimedia-program waarin Patrick se nagedagtenis vereer word.
8 Maart 18:00 | Boektent | 50min | Gratis

Immergroen: Sandra Prinsloo
Vroue wil soos sý wees; mans wil sáám met haar wees! Sandra Prinsloo is sekerlik die mees geliefde en gerespekteerde Afrikaanse vrou op die verhoog en op die silwerdoek. Piet Croucamp probeer uitvind hoe dié grande dame dit regkry om ewig jonk te bly en altyd die grense te verskuif.
10 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R50

Keer terug na die program-indeksblad.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top