
Wat die oog eerste sien: ’n kykie na boekomslae
Juis omdat dié gesprek deel uitmaak van die Skrywersfees, was dit ’n baie interessante variasie op die tema om ’n bietjie weg te beweeg van die woorde en te fokus op die verpakking. Die deel wat die woorde onder die leser se aandag moet kry.
Die koördineerder van die Skrywersfees, Madri Victor, het die vier elemente wat betrokke is by die maak of breek van ’n suksesvolle omslag op die verhoog bymekaar gebring. Daar was ‘n grafiese ontwerper, Mike Cruywagen, Stephan Meyer van Exclusive Books, en Theo Kemp, voormalige bemarker van NB-uitgewers en ook ‘n skrywer.

’n Debuutskrywer kan absoluut die heel beste boek ooit geskryf het, maar as hy ’n verkeerde, vervelige of vaal omslag vir die boek het, het hy heel waarskynlik moeilikheid. Self al is hy of sy gelukkig genoeg om goeie resensies op vele plekke te kry, kan voornemende kopers die resensies lees, maar teen die tyd dat hulle in ’n oorvol boekwinkel instap, sal net ’n treffende omslag daardie sneller in die geheue aftrek.
Dit is so dat skrywers baie keer redelik min seggenskap het oor hoe die omslag gaan lyk. Theo het ’n interessante opmerking daaroor gemaak, omdat hy albei kante verteenwoordig. Met die omslag van sy roman Skool was daar ’n kortlys van vyf opsies. Sy eerste keuse was nie die bemarkers se eerste keuse nie. Hy het dit gelate aanvaar en sy boek het goed gevaar. Later het hy ’n bemarker geword en besef ’n skrywer is dalk bietjie te na aan sy skepping om die regte oordeel te maak.
Volgens Mike Cruywagen is die drie elemente wat in balans moet wees die titel, skrywersnaam en ’n visuele aspek van die storie. Die een moet nie die ander oordonder nie en die visuele aspek moet nie die storie verklap nie. Weer eens is daar verwys na hoe moeilik dit is vir ’n debuutskrywer om raakgesien te word waar ’n bekende skrywer al ’n ontwerp het wat herhaal word en van ver raakgesien kan word. Deon Meyer is as voorbeeld aangehaal . Sy herdrukte reeks boeke het almal sy naam groot in ’n primêre kleur so ’n derde van bo, met die titel swart daaronder. Alles op ’n visuele agtergrond wat iets van die storie bevat. Met die ontwerp van Deon se nuutste boek, Kobra, was sy naam in rooi en die visueel was Bennie Griessel wat in ’n reënstorm staan. Om die rooi van die naam mooi te balanseer het Mike vir Bennie ’n rooi sambreel laat vashou. Hy het die ontwerp aan Deon en aan Etienne Bloemhof, Deon se uitgewer, gestuur. Hulle het albei dadelik gebel met dieselfde kommentaar: “Bennie Griessel sal nooit ’n sambreel gebruik nie!”
Om die proses te voltooi het Stephan gesê boekhandelaars het geen insae nie. Hulle moet verkoop wat hulle kry, maar dis ’n feit dat helder kleure, veral rooi, meestal werk. Hy het ook opgemerk dat Suid-Afrikaanse boeke gereeld aardse kleure gebruik en gedemp voorkom. Dit is ook baie keer ’n finansiële beperking van fondse wat ’n invloed het.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

