Tien vrae: Stephanus Muller oor Nagmusiek

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Stephanus Muller gesels oor Nagmusiek.

Waarom het jy Nagmusiek geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Nagmusiek was vir my die brug terug na Suid-Afrika nadat ek in Engeland studeer het en vroeg in die nuwe eeu saam met my gesin weer na Suid-Afrika teruggekeer het. In die laat negentigerjare het ek tydens my studies in Oxford my intellektuele stem gekry, maar terselfdertyd het ek met afgryse kennis geneem van wat in Suid-Afrika besig was om te gebeur met die WVK. So verpletterd was ek oor wat daar onthul is dat my dissiplinêre werk as musikoloog (wat ek nog altyd as kreatiewe werk gesien het) onafwendbaar begin het om 'n versigtige dialoog met my verlede aan te knoop. Dit het gekom uit 'n diep verdriet, die verlies van 'n wêreld, maar ook uit 'n hardnekkige patriotisme en verskerpte sin van hoe lief ek is vir Afrikaans en Afrikaners. Terselfdertyd was Nagmusiek 'n dialoog met my dissipline, en oor wat musiekmaak en oor musiek skryf en praat in Suid-Afrika beteken het, en nou beteken; oor wat die voorwaardes vir musiek as lewende kreatiewe praktyk hier en nou sou wees; oor wat die potensiaal van die studie van musiek in ons land sou kon wees; oor wat dit sou beteken om te skep en skeppend te leef.

Wat was die moeilikste aspek van die skryf van hierdie boek, en hoekom?

Die transgressie. Die voorwaardes vir kreatiewe intellektuele werk is ruimhartigheid en dapperheid. Vanselfsprekend is daar baie ander, meer basiese eienskappe wat skrywers moet hê om te skryf en ek sê nie dat ek al hierdie eienskappe het nie. Maar om góéd te kan skryf kan jy nie kleingeestig of lafhartig wees nie. Nagmusiek is 'n transgressiewe teks op verskillende vlakke, en om vir soveel jare in 'n proses gewikkel te wees wat deurlopend toets en verstel en torring aan die grense waarbinne ek gemaklik is – dit het my verander.

Het jy op enige plek in die manuskrip ‘n dooie punt bereik, en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Ja, dikwels. Omdat die boek oor soveel jare tot stand gekom het, was dit verskriklik moeilik om momentum te behou. Op verskillende tye het verskillende dinge gehelp. Twee jaar in die projek in het Marlene van Niekerk my aanbeveel om die boek as 'n sprokie te skryf wat ek aan my oudste seun kon voorlees sodat ek die boek beter kon verstaan. Ek het dit gedoen en dit was deurslaggewend. Later het Lou-Marie Kruger weer vir my dinge gesê oor Werner Ansbach wat my baie beter laat verstaan het wie hy is en wat my verhouding met hom is. Die presiese toonsterkte van die seksuele episodes in die boek kon ek net vind nadat my vriend Aryan Kaganof my aan die teoretiese werk van Georges Bataille bekendgestel het. So daar het jy tegniese advies, psigologiese uitleg, teoretiese ingryping – net enkele voorbeelde van dinge wat dooie punte opgelos het. Die gemene deler by al hierdie dinge is natuurlik ruimhartige vriende.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wat?)

Ek is nie 'n tegnies geleerde skrywer nie. Hiermee bedoel het dat ek nooit letterkunde bestudeer het nie, maar ander soorte tekste, musikale tekste en akademiese tekste oor musiek. En ek het baie gelees en breed gelees in die paar tale wat ek ken, soos ek steeds doen. Dus is dit miskien die veiligste om te sê ek skryf oor en oor en oor totdat iets vir my reg lyk en klink. En dan skryf ek dit wéér oor. En hierdie reg lyk en klink het baie te doen met die spanning en balans en klank van die komponente van die sin en die sin as geheel, en dan van die manier waarop die sin artikuleer na die volgende sin, ens. Uiteindelik word die grootste oorweging dan artikulasie van eenhede tot op groot strukturele vlak. Vanuit so 'n proses gesien, lyk dinge soos plot, karakter, ruimte, ens vir my soos analitiese kategorieë wat meer of minder suksesvol kan werk as leesstrategieë vir die herkenning van meer of minder konvensionele idees van genre of styl, maar nie noodwendig as skryfstrategieë nie.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?

Die manuskrip van Nagmusiek is deur baie verskillende soorte lesers gelees (akademici, kunstenaars, vriende) en gekritiseer tydens verskillende stadiums van voltooiing. Die teksredigeerder was Jeanette Ferreira. Ek het baie versigtig na al hierdie mense geluister, en die insette was telkens baie verskillend. Maar nooit het ek alle voorstelle aanvaar nie. Jeanette het grotendeels gekyk na my taalgebruik en daar is baie min dinge wat sy voorgestel het wat nie duidelike verbeterings was van die teks nie en wat my nie na 'n beter skrywer laat lyk het as wat ek is nie. Sy was 'n sensitiewe, versigtige, baie respekvolle redakteur van my teks.

Skrywers het nie ‘n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek is 'n akademikus en akademici skryf. Ons word nie juis ryk daarvan nie, maar ons vreet wel aan die salaris- en pensioenkrip. Dit is 'n baie praktiese antwoord op jou vraag. Maar een van my vorige antwoorde suggereer ook dat daar 'n eksistensiële dimensie aan my idee van skryf is. In daardie antwoord klink dit asof die dwingendheid van die idee heel eng polities is, maar dit is maar een aspek daarvan. Skryf is die ding wat ek doen waarmee ek vol in die wêreld kan wees, waardeur ek na die wêreld oopmaak en waardeur ek vir die wêreld oopmaak. Dit is my dapperste ding.

Werk jy reeds weer aan ‘n volgende manuskrip?

Daar is altyd onafgehandelde artikels en boeke waaraan ek werk, sommige konvensioneel akademies, ander meer verkennend.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Ons hou maar by die dooies; die lewendes is te lewend. Etienne Leroux groei in statuur elke keer wanneer ek hom herlees. Hy is 'n groot skrywer. Herman Charles Bosman is in 'n klas van sy eie, 'n Suid-Afrikaanse Kafka. Ek is baie lief vir Joseph Roth.

Volg jy Poolshoogte? En wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ek het sommige van die Poolshoogte-bydraes gelees. As ek terugkyk, is dit vir my duidelik dat die 20ste-eeuse kultuurprojek van Afrikaners wat gefokus het op die taal (meer as op enige ander skeppende medium), die moontlikhede oopgemaak het vir die maak van groot kuns. Die meeste van die werk wat so ontstaan het, sal waarskynlik nie die toets van die tyd deurstaan as kuns nie, waarskynlik omdat die waardes waarmee daardie nasionalistiese projek geïdentifiseer het en wat dan in kuns uitdrukking gevind het, nie durende waardes was nie. Maar die erns wat daar was oor Kultuur en die manier waarop die maatskappy kultuurdinge as belangrik beskou het, die vanselfsprekendheid van 'n strewe na grootsheid, het die omstandighede geskep waarin groot kuns (ook buite die letterkunde en buite die Afrikaanse dampkring) wel moontlik was en soms gebeur het.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

Ek het nog jong kinders, dus word my ergste instinkte altyd getemper as ek my herinner dat wat ek sien as ek vorentoe kyk, hulle toekoms is. Ek staan nie sentraal en aktief genoeg in die Afrikaanse letterkunde om uitsprake daaroor te waag nie. Maar ek moet eerlik wees en sê hierdie is moeilike tye in die klein kontekste van skepping en denke waarin ek beweeg. Moeilike tye om te dink, moeilike tye om te skep. Soms dink ek die siniese middelmatigheid van ons verwagtings op alle vlakke (behalwe miskien sport, waar dit juis die gebrek aan siniese en middelmatige verwagtings is wat sinies en middelmatig is) is rampspoedig. Maar dan ruk ek my reg en sien dit vir wat dit is: katastrofaal.

Só lyk Stephanus Muller se werkspasie:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top