
Skrywers oor hul nuwe boeke: Alta Cloete gesels oor Seisoen van lig en donker.

Waarom het jy hierdie onlangse boek geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?
Ek dink dit was die behoefte om die sirkel te voltooi wat my die boek laat skryf het. Streng gesproke was die Seisoen-reeks eintlik voltooi, maar daar was drie jong karakters uit die oorspronklike Geur-boeke wat nog gesmeek het vir ’n storie van hulle eie. Tematies sluit die verhaal ook die sirkel, aangesien depressie weer onder die loep kom, soos in die heel eerste boek (Geur van genade). Ook wat die milieu betref, is daar ’n terugkeer na die Karoo-landskap van die eerste boek.
Hoewel ek dit genadiglik nog nie met iemand na aan my ervaar het nie, het ek al genoeg van selfdood gehoor en gesien om te weet dis iets wat verwoesting laat by die agtergeblewenes en dat dit geen geringe taak is om so ’n verlies te verwerk nie. Mettertyd het die behoefte ontstaan om die effek van selfdood op diegene wat agterbly, in ’n roman te ondersoek.
Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?
Om die tema van selfdood aan te pak, was nie vir my ’n maklike onderneming nie. Daar was ook die uitdaging om die verhaal nie te swaarmoedig te maak nie, want ek verkies om in my boeke vir myself en vir die leser hoop te bring. Aan die ander kant wou ek nie in goedkoop sentiment oor so ’n ernstige onderwerp verval nie en ook nie dinge onrealisties romanties inkleur nie. Daar is niks romanties aan selfdood nie.
Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?
Ek is dankbaar om te kan sê dat dit nie gebeur het nie. Met die huidige manuskrip is dit egter anders gesteld. Wanneer mens ’n dooie punt bereik, is daar net een pad en dis vorentoe. En die pad lei na jou stoel en die leë rekenaarskerm. My ondervinding is dat mens gewoonlik uiteindelik die lig sien as jy lank genoeg na daardie skerm sit en staar. Die lig kom ongelukkig nie baie maklik as jy solank met jou lewe voortgaan en vir inspirasie wag nie. Wat my betref, is die muse ongelukkig ’n mite. Ek het nog nie veel hulp van haar ontvang nie.
Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?
My verhale begin gewoonlik by die karakters. Ek moet hulle eers baie goed leer ken voor ek by hulle storie kan uitkom. Ruimte is vir my baie belangrik en hou verband met atmosfeer. Karakters kan eers binne die regte ruimte en atmosfeer tot hulle reg kom. Die tema groei in die reël mettertyd uit die verhaal – ek besluit selde vooraf daarop. Omdat my verhale hoofsaaklik om verhoudings gaan, is plot nie so ’n belangrike oorweging soos byvoorbeeld by ’n spanningsroman nie. Dit kan egter nie ontbreek nie, want sonder spanning kan die skrywer nie die leser aan die omblaai hou nie.
Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?
Ek waag dit baie selde om van my redigeerders te verskil. Hulle is ervare mense en hulle kyk met ’n vars oog na ’n skrywer se werk. Dis ongelooflik hoe mens oor klein feitefoute of herhalings of selfs tikfoute kan lees. Daardie vars oog is onontbeerlik vir ’n afgeronde manuskrip.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?
Ek skryf omdat ek op amper vyftig die moed gekry het om dit te waag om myself ’n skrywer te noem en voluit vir ’n droom te werk wat jare lank dormant gelê het. En nou kan ek eenvoudig nie ophou nie, want die doelpale hou aan verskuif.
Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?
Ja, ’n besonder pynlike geboorteproses is amper voltooi. Na die eerste weergawe gaan daar nog baie oorskryf en herskryf moet kom. Die verhaal wyk af van die patroon wat in die Geur- en Seisoen-boeke gevestig is en die pad wat ek met die hoofkarakter stap, is vir my ’n onbekende roete. Vernuwing en groei is vir my belangrik. Ek wil nie stagneer en vir die res van my lewe presies dieselfde soort boeke skryf nie. Ek het dus geen ander opsie as om blindweg aan te stap nie. Dis die angs, maar ook die groot vreugde van skryf vir my, daardie onbekende gebied waarin jy jou moet begewe om uiteindelik die storie te vind en dit vir jou lesers toeganklik aan te bied.
Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?
Die Afrikaanse skrywer wat my die naaste aan die hart lê, is Eleanor Baker. Ook in die boeke wat sy onder skuilname geskryf het, is haar besondere hand duidelik sigbaar. Haar vroeë dood was ’n yslike verlies vir Afrikaans.
Wat liefdesromans betref, is daar seker min skrywers wat by Nora Roberts kan kers vashou. Dis ook merkwaardig hoe sy voortdurend vernuwe en gereeld ’n ander tipe verhaal aanpak.
Marian Keyes slaag daarin om my te laat lag dat die trane loop terwyl sy eintlik ernstige kwessies aanspreek. Sy is vir my ’n sprekende voorbeeld dat mens die sogenaamde chick-lit nooit as spookasem moet aansien nie.
Jojo Moyes is ’n merkwaardige skrywer van romantiese fiksie met unieke temas.
Onlangse internasionale ontdekkings sluit Wally Lamb en Khaled Hosseini in.
Die rykdom van Engelse romans is oorweldigend groot en die tyd is hopeloos te min. The book thief en The lost child of Philomena Lee was onder die juwele wat ek al vanjaar ontdek het. Die medeboekwurms op die Lekkerlees Boekrak op Facebook se aanbevelings help my baie om sinvolle keuses uit die duisternis moontlikhede te maak.
Volg jy Poolshoogte en wat sien JY, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?
Ja, veral Melt Myburg, Wilna Adriaanse en Jo Prins se bydraes het ’n snaar (of ’n hele paar snare) by my aangeraak.
As ek terugkyk, sien ek ’n letterkunde wat gaandeweg uit die benouende paradigmas van die verlede losgekom het.
As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?
As ek vorentoe kyk, sien ek ’n bevryde letterkunde waar die Afrikaanse son oor alle genres kan skyn, waar elke genre op meriete beoordeel (en nie veroordeel nie) word en waar respek bestaan tussen skrywers en lesers van letterkundige werke en ontspanningslektuur.
Só lyk Alta Cloete se werkstasie:


