The Hunger Games: ’n Puik uitbeelding van die boek

  • 0

The Hunger Games

Regisseur: Gary Ross
Rolverdeling: Jennifer Lawrence, Josh Hutcherson, Woody Harrelson, Stanley Tucci, Lenny Kravitz, Elizabeth Banks


In die boek-of-fliek?-debat sê ek al twee, maar altyd eers die boek. ’n Gemiddelde of swak fliek kan nie ’n goeie boek bederf nie, en ’n goeie fliek gee jou die geleentheid om die leesplesier te herleef.

Dus, ná ’n marathon-leessessie van The Hunger Games deur Suzanne Collins (’n mens kan dit nie neersit nie!) is ek teater toe.

Dis ’n verhaal van die land Panem (dink Amerika iewers in die toekoms), wat amper verwoes is deur rebelle-oorloë teen die onderdrukkende regering uit die hoofsetel, genoem die Capitol. Sedert die opstande finaal onderdruk is, word daar elke jaar ’n Hunger Games gehou om Panem se bevolking onderdanig te hou. Kinders van 12 tot 18 jaar in elk van die 12 distrikte word onderwerp aan die Reaping, waartydens ’n seun en meisie uit elke distrik gekies word vir die spele. Hierdie 24 kinders moet meeding in ’n kunsmatige arena, opgestel en beheer deur ’n professionele span Gamemakers, en veg totdat daar slegs een oorwinnaar oorbly. Die inwoners van die Capitol is natuurlik uitgesluit, en vir hulle is die Hunger Games ’n jaarlikse vermaakskouspel in die gees van “brood en die Spele”. Want álles word perfek gestileer, gechoreografeer en oor die TV uitgesaai, en dis verpligte kykstof vir die hele Panem.

Ons heldin is die sestienjarige Katniss Everdeen (Jennifer Lawrence) uit Distrik 12, wat sedert haar elfde jaar haar ma en sussie Prim moet onderhou ná haar pa in ’n mynongeluk gesterf het. By hom het Katniss leer jag, en sy is ’n boogskutter van formaat. Wanneer Prim se naam getrek word in die Reaping, neem Katniss haar plek in die arena.

Die fliek is in absoluut elke opsig ’n puik uitbeelding van die boek. Lees en gaan kyk! En begin dan ongeduldig uitsien na die volgende aflewering ...

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top