Stemdag kom nader

  • 1

Vir watter politieke party of partye gaan bruin mense in die komende verkiesing stem?

Dié vraag is glad nie nuut nie, want dit word elke keer voor ’n verkiesing gevra.

Partye lek hul lippe af en maak dan behoorlik jag op die bruin stem. Na die verkiesing kla amper elke bruin mens dat hulle stem net misbruik word en daarna vergeet word. Dit klink al soos ’n vervelige vervolgverhaal.

Met die verkiesing sowat vyf maande weg gaan dié vervolgverhaal hom weer behoorlik in ons openbare ruimtes afspeel.

So, wat maak die komende verkiesing anders as voriges? Nie veel nie, maar daar het intussen nuwe partye op die politieke landskap verskyn.

Nie een politieke party, soos die Vryheidsfront Plus vir Afrikaners, om die eksklusiewe belange van bruines te bevorder bestaan tans nie. Dié gedagte word egter gereeld deur sommige bruines na die oppervlak gebeur.

Die dae van ’n eie politieke party vir ’n eie volkie is egter getel. Ons kan nie weer terugkeer na ons donker apartheidsverlede nie. So ’n politieke party sal bruines net isoleer en as ’n gemeenskap van ellende en afgeskeeptes konstrueer.

Die gedagte dat bruines ’n eie politieke party moet kry, kom deesdae sterker na vore. Veral by die bruin jeug is daar ’n irritasie met die huidige politieke orde te bespeur.

My onlangse interaksie met drie jongmense, soos ek, het dié werklikheid weer bevestig. Iewers in die Karoo het ek by ’n vulstasie gestop om brandstof in te gooi. ’n Interessante gesprek het tussen my en drie jongmense ontstaan.

Hulle kla toe oor die gebrek aan ordentlike werk op die platteland en is nie seker vir wie hulle moet stem nie. Ook dat bruines, volgens hulle, moeilik werk kry. Kommerwekkend het een van hulle gesê sy hoor as ’n mens nie gaan stem nie, word jou stem outomaties vir die ANC gegee. Ek het onmiddellik gesê dit is nie waar nie en dat elke mens se stem boonop ’n geheim is.

Byna 20 nuwe politieke partye, plus oues soos die ANC, DA en andere, gaan aan die verkiesing deelneem. Hulle sal moet besluit vir wie om te stem, het ek aan hulle gesê. Die bekendstes is AgangSA van Mamphela Ramphele en Julius Malema se EFF.

AgangSA se beleid is vir my nog nie duidelik nie, behalwe dat hul leier in die openbaar verklaar het sy het R55 miljoen in die bank. Strategies was dit ’n dom openbaring, want hoe gaan armes met haar identifiseer? Wat is die verskil tussen Ramphele se rykdom en “nommer een” se Nkandla?

Sê wat julle wil van Juju, maar die EFF se beleid dat politici openbare dienste moet gebruik, word volmondig deur my ondersteun. Dit is ’n vars bries om gelykheid tussen almal te bewerkstellig. As ons almal dieselfde openbare dienste gebruik, dan sal die grense tussen ryk en arm en wit en swart verdwyn.

Bruines moet dus vir beleid en nie vir ras of etnisiteit stem nie.

 

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top