Die gebrekkige hoftolking in die opspraakwekkende Oscar Pretorius-verhoor is weer eens ‘n bewys van die Staat se onbegrip en onverskilligheid ten opsigte van taaldiversiteit en indiwiduele taalregte. Die Afrikaanse Taalraad het met groot kommer kennis geneem van die taalchaos tydens die hofverrigtinge wat nie net in Suid-Afrika nie maar ook wêreldwyd Suid-Afrika se regstelsel in ‘n swak lig gestel het. Klaarblyklik leef die Departement van Justisie verkeerdelik in die veronderstelling dat alle Suid-Afrikaners voldoende toegerus is om eentalig in Engels te funksioneer. Terwyl die Departement reg moet laat geskied aan alle Suid-Afrikaners se taalregte pleeg die Departement eintlik ‘n onreg teen dieselfde burgers wat hulle saak in die hof eintlik in hulle moedertaal wil stel, sowel as getuies en as beskuldigdes.
Bogenoemde volg kort op die debakel tydens oud-president Nelson Mandele se gedenkdiens waar uiters onprofessionele gebaretaaltolking plaasgevind het, eweneens ten aanskoue van ‘n wêreldgehoor. Die gebeure het neergekom op die miskenning van die regte en menswaardigheid van die dowegemeenskap in die land.
Die Staat is klaarblyklik onwillig of nie in staat nie om doeltreffende vertaal- en tolkpraktyk in werking te stel nie en om sodoende aan die vereistes van veeltaligheid te voldoen. Dis simptomaties van ‘n verlammende taalhouding in baie staatsinstellings – provinsiaal en nasionaal. Die feit van uitstekende vertaal- en tolkopleidingsprogramme regoor die land waar knap taalpraktisyns, ook vir diens in die howe, afgelewer word, word geïgnoreer.
Die ATR vind dit onaanvaarbaar dat swak taalbestuur deur ons owerhede die burgers van die land weerhou van regmatige toegang tot reg en geregtigheid.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

