Title: Skarlakenkoors
Author: Karin Eloff, Peter van Noord
Publisher: NB Uitgewers / Publishers
ISBN: 9780624065791
Op die uiters mooi-versierde buiteblad word Skarlakenkoors beskryf as “prikkelend, passievol, sensueel ... 44 erotiese stories wat jou bloeddruk sal laat styg.”
So word die lesersverwagting dadelik geskep vir ‘n 50 Shades of Gray-tipe van lekker naaistories. Reeds vanaf die eerste verhaal, “Vreesloos” deur een van die samestellers, Peter van Noord, is dit duidelik dat hier nie bloot ‘n gemaklike en sensuele vertolking van seks uitgebeeld word nie. In hierdie verhaal word beide seks en antiseks in ‘n grusame vertelling van ontmanning en wraak vertel. Die storie bied vir my eggo’s van Dahl se “William and Mary” en het my beslis nie in die bui vir seks gesit nie. Maar dit is ‘n sterk storie.
So ook bied die tweede verhaal, “Soethoutstasie” deur Rachell Greeff, ‘n meer literêre, superrealistiese perspektief op ‘n meer komplekse seksualiteit. Die vleeslike liefde in hierdie storie is meer kwesbaar, menslik en seer as wat dit gestileerde erotika is. “Soethoutstasie” is regtig ‘n goedgeskrewe stuk, maar vir my is daar toevallig seks in. Hier is min sprake van erotika in sy tradisionele vorm.
Dit is eers by Marlize Hobbs se “Ongelooflike verhaal van Suster E en ses ander nonne” dat mens by ‘n tradisionele lekker naaistorie uitkom. Dit bring natuurlik ook ‘n ander aspek van hierdie versamelbundel na vore, deurdat Skarlakenkoors ‘n kombinasie van gay- en straight-verhale binne een bundel byeenbring, wat bietjie van ‘n waagstuk is, omdat dat dit twee na drie heeltemal uiteenlopende teikenmarkte probeer bevredig.
Vir my was die hoogtepunte in die bundel die reeds genoemde nonneverhaaltjie van Marlize Hobbs, en Kerneels Breytenbach se heerlike “Sarie se Manier”, waarin ‘n vrou vir haar man ‘n onwaarskynlike geskenkie gee. Drie hoera’s vir Kerneels Breytenbach wat Afrikaanse erotika beslis na ‘n nuwe hoogtepunt bring. Dit is duidelik hy is ‘n ou stouterd.
Elizna Nel se “’n Boer se verlange” was ook vir my ‘n hartroerende storie oor ‘n man se verlange na sy oorlede vrou. Koos Kombuis se “Vinger van God”, alhoewel ietwat rubriekerig geskryf, het ook ‘n heel prettige perspektief op ons Calvinistiese wortels gebied.
Kleinboer se “Dors” is, soos die meeste van sy werk, werklik goed en vernuwend geskryf en daag my persoonlike voorkeur vir blondines behoorlik uit.
Eweneens is ek nie Eben Venter se erogene teikenmark nie, maar “Sterk kos” het my op ‘n literêre vlak beïndruk, deurdat dit ‘n vernuwende perspektief binne Afrikaanse erotika bied. In hierdie verhaal gaan dit meer oor die soeke na ‘n hoër sintuiglike ervaring as oor tradisionele jagsheid.
“Lyfsug” deur Bianca du Plessis en “Die Jagter” van Erla Diedericks is ook twee goedgeskrewe en werklik prettige seksasionele storietjies.
Met “Saad” bied Etienne F Britz selfs ‘n heel knap wetenskapfiksie-perspektief op seks en in “Visserman” swem die jeugverhaalskrywer Jaco Jacobs ‘n heel oulike meermin raak. Die ietwat geykte kinderstorietaal binne ‘n erotiese konteks is eintlik kostelik.
Nog ‘n hoera vir Kerneels Breytenbach met sy fantastiese fantasieverhaaltjie “Jackie”, wat laat mens wonder: Wat was eerste? Die hoender of die eier?
Karin Eloff se “Byt” is ook heel gaaf en ek het eintlik gewens dat sy die boer in “’n Boer se verlange” van Elizna Nel kon ontmoet.
“Strange bedfellows” van Joan Hambidge het my ook heerlik laat tintel.
Oor die algemeen is die gehalte van die verhale goed, die temas uiteenlopend, en die aanslag van semi-Huisgenoot tot gehalte-letterkunde. Beslis die lees werd.


Kommentaar
Die boek is interessant en te verwelkom. Mens hoor egter deesdae van gevalle - en sien dit ook op blogs - dat gayheid en streitheid by dieselfde persoon mekaar kan afwissel. Ek sal dus graag 'n storie wil sien wat 'n mengeling van gay- en streit-wees realisties en met diepte aanspreek.