Skaduwee in die kollig: Carel van der Merwe gesels oor sy jongste roman

  • 2

Carel van der Merwe se roman Skaduwee het pas die lig gesien. Dit volg op sy debuutroman Nasleep (2007), wat onder andere genomineer is vir die UJ-debuutprys en M-Net-prys, en Geldwolf (2009), wat die Eugéne Marais-prys ontvang het. Naomi Bruwer het hom in Stellenbosch uitgevra.

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415201800
Koop Skaduwee by Kalahari.com.


Also available in English as Shadow.
Buy Shadow from Kalahari.com.

Word mens as ’n skrywer gebore? Het jy nog altyd geweet jy wil ’n skrywer wees?

Ek dink jy word eerder as ’n leser gebore. Ek vermoed in baie lesers se lewe – ek was ’n baie ywerige boekwurm reeds op skool – kom daar ’n stadium waarop jy regtig skrywers begin bewonder vir hoe hulle goed kan regkry. By sommige lesers vat die idee pos: ek wil dit self probeer – kyk of ek ook ’n wêreld kan skep wat interessant is en wat ander mense kan oortuig. Ek het reeds in my hoërskooljare geweet dat ek ook eendag gaan probeer.

’n Sekere mate van aanleg vir taal is belangrik, baie selfdissipline, en die vermoë om jouself vir lang rukke te kan afsonder – dit moet deel van jou persoonlikheid wees. As jy nie hierdie eienskappe het nie, gaan jy sukkel. En baie belangrik, miskien die belangrikste vir my, veral as jy ’n roman wil skryf, is deursettingsvermoë. Om ’n roman te skryf is soos om ’n marathon te hardloop. Met die meeste ander goed wat ek al in my lewe gedoen het, kon ek altyd redelik gou bepaal of ek op die regte pad is – ek het die eksamen geslaag, die projek suksesvol afgehandel, my baas of die kliënt is tevrede, ek het geld uit die transaksie gemaak. Maar ’n roman vereis baie tyd en vasbyt sonder enige terugvoer, en ’n geslaagde uitkoms is nie noodwendig monetêr nie. En selfs na ’n paar boeke voel ek nog nie soos ’n ware skrywer nie. Elke keer is dit dieselfde stryd, dieselfde twyfel.

Dit bring my by my volgende vraag: Jy het basies begin skryf toe jy jou kreatiewe M in Engeland gedoen het – as jy nie die skryfkursus gedoen het nie, sou jy ooit ’n boek voltooi het?

Ek het reeds voor die skryfkursus ’n roman voltooi, maar geen uitgewer wou byt nie. Ek besef nou dat dit ook maar goed so was, want dit was maar ’n saai poging. Ek het kort daarna vir die MA in kreatiewe skryfkuns ingeskryf. Die mislukte roman was darem nie vir niks nie, want ek vermoed dit het die fakulteit se keurpaneel oortuig dat ek ernstig oor skryf is.

Sou jy ’n skryfkursus aanbeveel aan ’n jong skrywer as ’n voorvereiste om te kan skryf?

Nee. Ek sou eerder aanbeveel dat mens baie moet lees – soveel as moontlik in soveel as moontlik genres. Dis baie belangriker as ’n skryfkursus. Om aan te kom by ’n skryfkursus met ’n paar hoërskoolopstelle geskryf en ’n paar boeke gelees is nie genoeg nie. As jy nie baie gelees het nie, hoe weet jy wat al gedoen is, hoe dit gedoen is, wat jy wil doen, waar jy inpas?

Die gevaar van ’n skryfkursus – as jy ’n roman skryf – is dat jy te veel deur ander se opinies beïnvloed word. Partykeer moet jy in isolasie net iets eers klaarmaak, die idee uitkry. Ek het al te veel gevalle gesien waar mense eindeloos praat oor die roman wat hulle wil skryf of besig is om te skryf, en dat al die pratery en analise die dryfkrag om dit te voltooi doodsmoor. Om ’n roman in wording op ’n skryfkursus te skryf is moeilik. Jy is juis reeds onseker, en nou word jy beïnvloed en beoordeel deur ’n dosent en ander klasmaats. Beter om by die skryfkursus aan te kom met ’n boek wat reeds geskryf is en die skryfkursus dan te gebruik om verder daaraan te werk.

Dit gesê: die kursus het my wel aanmoediging gegee, en laat besef dat ek nie alleen is nie, dat daar ander mense is wat ook sukkel. Dit het my baie duidelik laat sien dat dit ’n lang pad tot publikasie is – baie wat probeer, min wat slaag. Maar so ’n kursus gee mens hoop. As jy op ’n skryfkursus is met mense wat soos jy dink, gee dit waarde aan dit wat jy doen. Veral as jy ongepubliseerd is, voel die skryfproses maar baie eensaam, met vrae soos: Wat doen ek nou eintlik? Is daar enige kans op publikasie?

Het jy nog altyd geweet jy wil romans skryf?

Ja. Ek het ’n paar kortverhale geskryf, waarvan een in Engeland in ’n kortverhaalversameling gepubliseer is, maar ek voel nie eintlik gemaklik daarmee nie. Ek wil meer ruimte hê om ’n tema en karakters te ontwikkel, waar ’n kortverhaal vir my ampers soos ’n gedig is: jy moet goed baie kragtig kan saamvat. My eerste boek, Nasleep, het as ’n kortverhaal begin, maar toe word dit net al hoe langer. Ek het begin agterkom ek wou skryf oor wat vooraf gebeur het, en ook die storie verder wil neem.

Hoe benader jy die skryfproses? Waar begin jy? Skets jy eers ’n raamwerk? Begin jy met die storielyn of die karakter?

Sover was daar altyd eers ’n tema wat my geïnteresseer het. As ek seker oor die tema is, begin ek dink aan ’n hoofkarakter. Die idee vir Nasleep het ontstaan toe ek in die laat negentigs die Waarheids-en-Versoeningskommissie op televisie gevolg het. Ek het naderhand begin wonder wat gebeur het met die ouens wat hierdie goed gedoen het. Hoe hanteer hulle die res van hulle lewens? Maar ek het nie ’n hoofkarakter gehad tot ek ’n Suid-Afrikaanse sekuriteitswag in Londen ontmoet het wat ons straat snags bewaak het nie. Hy was ’n voormalige staandemag-lid wat van sy vrou geskei was, en was in Londen omdat hy (volgens hom) nie meer werk in Suid-Afrika kon kry nie. Hy was die saadjie vir Paul du Toit, my hoofkarakter. Maar die res is fiksie.

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415200292
Koop Nasleep by Kalahari.com.


Also available in English as No man’s land.
Buy No man’s land from Kalahari.com.

Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415200773
Koop Geldwolf by Kalahari.com.


Also available in English as Shark.
Buy Shark from Kalahari.com.

My tweede roman, Geldwolf, het soortgelyk ontwikkel. Ek was lank werksaam in die sakewêreld, en wou skryf oor die najaag van geld en die uitwerking wat dit op mense het. Die hoofkarakter was toe ’n samestelling van verskillende baie ryk sakemanne met wie ek in hierdie tyd te doene gekry het.

Met Skaduwee wou ek skryf oor die ondervinding van ’n ekspat wat na Suid-Afrika terugkeer, hoe so ’n persoon die land beleef. Seker maar omdat ek self ’n ekspat vir ses jaar was. Maar ek het nie ’n hoofkarakter gehad het nie, en ek het maande voortgesukkel voor ek skielik besef het dat ek eintlik wil skryf oor die hoofkarakter van my eerste roman, Nasleep, wat aan die einde van daardie boek na Londen verhuis het.

Met al my boeke het ek ’n begin en ’n einde in my kop gehad voor ek begin skryf het. Ek skryf eers die eerste paar hoofstukke, dan ontwikkel ek ’n baie breë raamwerk en storielyn. Maar met die skryf verander dinge, en die uiteindelike boek verskil dan gewoonlik nogal baie van die oorspronklike raamwerk.

Soos jy genoem het, keer jy in Skaduwee terug na Paul du Toit, die hoofkarakter van Nasleep, tien jaar later. Hoe het jy besluit wat om van Nasleep oor te bring na Skaduwee?

Ek wou ’n boek skryf wat onafhanklik staan, dus net wat ek gedink het noodsaaklik is vir die leser om ’n bietjie insig in die karakter se verlede te kry, of hy of sy nou Nasleep gelees het of nie. Dis ’n baie fyn lyn. As jy te veel terugkyk, verloor jy onmiddellik die leser.  

Is hierdie boek basies ’n proses vir Paul om homself te vind?

In ’n groot mate. Vroeg in die boek vra Paul homself: Wat wil ek hê? En die laaste deel van die boek beantwoord daardie vraag.

Die titel, Skaduwee – hoe reflekteer dit op Paul as karakter?

Die titel het vir my op verskillende vlakke gepas. Paul kry ’n opdrag van ’n Londense finansier om iemand in Suid-Afrika te agtervolg en te beskerm sonder om opgemerk te word – om die persoon se skaduwee te wees. In Suid-Afrika moet hy ook die skaduwees van sy eie verlede konfronteer. En in Londen lei hy ook ’n tipe skadubestaan. Hy het ’n werk wat hom verveel, sy verhouding met sy lewensmaat is amper op die rotse, en hy voel nie regtig tuis in sy lewe of in Engeland nie.

In die gesprek met Louis Esterhuizen by die boekbekendstelling in Protea Boekwinkel het jy gesê jy skryf karaktergedrewe romans eerder as aksiegedrewenes?

Ja, dis hoekom ek altyd verbaas is as my boeke as spanningromans getipeer word. Ek is egter baie bly as mense die boeke as spannend ervaar, want spanning hou lesers aan die lees. Maar ek het nie so ’n genre in my kop as ek skryf nie, en ek wil my boeke ook nie so bemark nie, want sommige lesers mag dan moontlik iets anders kry as wat hulle verwag het.

My romans tot dusver het almal hoofkarakters wat op ’n plek in hul lewe is wat redelik stabiel is, dan gebeur iets wat hul lewens omverwerp. Ek werk dan uit hoe hulle hierdie krisisse te bowe kom, of nie te bowe kom nie. Ek gebruik ook die gebeure as ’n medium om kommentaar te lewer op die breë sosiopolitieke ekonomiese milieu waarin hulle hul bevind.

Aan die einde van Skaduwee het ek wel bietjie meer na die aksieroman-genre oorgehel, maar in lig van die gebeure was dit vir my geloofwaardig.

Hoe outobiografies skryf jy?

Wat karakter betref – glad nie. In terme van sommige plekke en gebeure – ja, maar baie opgedig.

Jou karakters se innerlike belewenis en groei vorm die sentrale deel van die karaktervorming. Hoe gaan jy met jou navorsing om? In Skaduwee speel die filosoof Schopenhauer byvoorbeeld ’n sterk rol in Paul se ontwikkeling. Hoe het jy by hóm uitgekom?

Ek wou onder andere skryf oor iemand in ’n midlewe-krisis, maar ook in ’n bestaanskrisis – Paul het meer as die gewone middeljarige man se probleme. Ek het begin lees oor die onderwerp en toe op die volgende aanhaling uit Schopenhauer se werk afgekom: “The safest way of not being very miserable is not to expect to be very happy.” Ek het onmiddellik besef – ja, dis hoe Paul dink.

Paul beskryf Schopenhauer in die boek: “Hy beskou die filosoof egter nie as ’n pessimis nie, maar eerder ’n realis wat die lewe beskryf soos dit is en nie soos mense dit graag wil hê nie, iemand wat nie die onaangename waarheid oor die menslike bestaan probeer verbloem nie” (84).

Na ek Schopenhauer gelees het en baie oor hom gelees het, is dit eintlik my gevolgtrekking. Schopenhauer het volgens sommige mense ’n baie pessimistiese uitkyk op die lewe gehad – baie sinies. Maar ek kan nie veel fout vind met baie van sy waarnemings oor die wêreld en mense nie.

In Skaduwee is daar raakpunte tussen Schopenhauer en Paul se denkwyse, soos:

[M]oenie jou geluk op ander mense bou nie, want jy kan daarvan seker wees dat jy teleurgestel gaan word. (69)

en

George is ’n idealis – hy reken dat geluk iets daarbuite is wat deur ’n bewuste poging joune kan word. Maar veel beter om vooruit te dink en jouself teen moontlike pyn en ongerief te beskerm – ’n stil, draaglike lewe is iets wat seer sekerlik meer binne jou bereik is. (105)

Lees ek dit reg dat hierdie denke uit Schopenhauer se filosofie kom?

Gedeeltelik. En deurgaans het Paul se lewensuitkyk ’n Schopenhaueriaanse ondertoon, soos ek ook in die erkennings aan die einde van die roman aandui. Vir Schopenhauer was plesier baie meer vlietend as pyn. So moenie plesier najaag nie, probeer eerder ongerief en pyn te verminder. Paul se lewe is by hierdie punt – sy lewe is nie juis genotvol nie, maar ten minste is dit geordend. Aan die begin van die roman is hy in ’n bevrore staat – maar dan kap die byl in die ysmeer.

Is Paul nou uitgeskryf of spook hy steeds by jou?

Nee, ek is nou klaar met hom. Hoop ek.

Jy gee nogal ’n stekie of twee in die rigting van tenderpreneurs en korrupsie in Suid-Afrika. Probeer jy ook ’n politieke opinie uitspreek deur die boek?

Paul ervaar Suid-Afrika as ’n amperse kriminele staat. Dit is ook hoe ek dit sien. Die skaal van korrupsie en diefstal is ongelooflik. ’n Groot deel van ons land is onder die beheer van rampokkers wat hulself politici en staatsamptenare en sakemanne noem. Maar die armes se geduld het ook perke, soos onlangse gebeure in ons land duidelik waarsku.

Hoekom is jy nog in Suid-Afrika?

Ek bly hoopvol, want ons weet van hierdie goed, en dit veroorsaak dat daar nog tot ’n mate perke aan die omvang van die diefstal is. Ek hoop genoeg kiesers sal mettertyd besef dat dinge nie so kan aangaan nie, en beter leiers sal verkies. Soos alle skrywers, is ek gekant teen hierdie voorgestelde Beskerming van Inligting-wet. ’n Vrye pers en ’n onafhanklike regstelsel is al wat in die korttermyn tussen ons en ’n ramp staan.

Is dit ’n skrywer se rol om openbare repliek te lewer?

Nee. ’n Skrywer moet skryf oor wat hy of sy wil, en het nie ’n groter verantwoordelikheid as enige ander burger om kommentaar oor die situasie in die land te lewer nie. Dit het egter vir my goed ingeweef by die storie, omdat my hoofkarakter na ’n dekade in die buiteland na Suid-Afrika terugkeer en dus tog ’n opinie moet hê oor hoe die land nou vir hom lyk.

Om terug te kom na die skryftegniek in Skaduwee. Wat ek opvallend gevind het, is dat Paul intens bewus is van sy omgewing. Londen verteenwoordig iets spesifiek, aan die begin, maar sy perspektief verander daadwerklik soos die karakter ontwikkel. Dit kan gestel word teenoor sy herinneringe aan Suid-Afrika en sy aanvanklike gewaarwording as hy in Kaapstad aanland van ongemak, gebind aan slegte herinneringe. Landskap en ruimte – hoe sterk speel dit vir jou ’n rol in karakterontwikkeling? Is jy bewus daarvan dat jy jou karakter se eie identiteit bou deurdat hy die landskap waarin hy hom bevind beskryf?

Nee, dit was nie ’n doelbewuste tegniek nie. Ek wou Paul se algehele gevoel van vervreemdheid wys, en die plekke waarin hy beweeg en sy ervaring daarvan was vir my ’n manier om dit te wys sonder om dit uit te spel.

Dus nie doelbewus nie, maar Paul se beskrywing van die landskap weerspieël sy identiteit, soos in Amsterdam, waar hy sê hy het geen oerverbintenis met die stad nie, maar tog is dit ’n plek waar hy kan woon. As leser wonder jy: Is dit juis omdat hy geen tuiste het nie dat hy gemaklik voel in ’n plek waarmee hy geen verbintenis het nie?

Ja. Dit is wat hom aanvanklik na Londen toe aangetrek het – dat hy anoniem daar kan lewe. Hier kan hy ontsnap van alles, vars begin. Enige plek waarheen hy gaan, bekyk hy altyd vanuit dié oogpunt: Kan ek hier woon? Dis deel van sy karakter, want hy voel nêrens tuis nie.

Gepraat van ’n reis, jy het in jou onderhoud met Louis Esterhuizen gesê die proses om die boek eers in Engels te skryf en toe in Afrikaans oor te skryf, was uitmergelend?

Dit was, want ek dink ek was te haastig om dit klaar te maak. Ek het om die een of ander rede myself onder druk geplaas om die manuskrip klaar te maak voor einde verlede jaar. Maar toe ek met die Afrikaanse weergawe begin, het ek besef dat daar nog baie werk is. Waar die ander twee boeke 90 persent klaar was met die Engelse manuskrip, moes ek hierdie een heeltyd verander gedurende die vertaalproses, en met twee boeke en twee redakteurs was dit uitputtend.

 

Videogreep: Carel van der Merwe gesels oor die proses om tergelykertyd sy boeke in Afrikaans en Engels te skryf.

Watter Afrikaanse boeke lees jy?

Soveel as moontlik. As daar ’n nuwe roman uitkom wat enigsins die moeite werd lyk, lees ek dit. Sonja Loots se Sirkusboere is ’n boek wat ek onlangs baie geniet het. Maar ek lees meer Engels – daar is eenvoudig soveel meer Engelse boeke. Ek lees ook baie niefiksie – geskiedenis en biografieë hoofsaaklik.

Wat is die toets van ’n goeie boek?

Om ’n leser se aandag tot aan die einde van die boek te behou. Mooiskryf is een ding, maar kan jy iemand aan die lees hou? Wat my afsit van baie boeke, is te veel beskrywings en irrelevante besonderhede – ’n skrywer wat te gaande oor sy eie skryfvermoë is. Ek hou nie daarvan as die skrywer te opsigtelik is nie.

• Besoek ook: Kiek-en-fliek: Skaduwee deur Carel van der Merwe bekendgestel

  • 2

Kommentaar

  • Douglas Jackson

    Ek het Skaduwee baie geniet, die enigste aspek wat vir my deurgaans steurend was, is die derdepersoonverteller. Dit skep verwarring. Ek voel dat die ek-verteller baie meer geslaagd sou wees. Oor die algemeen 'n goeie boek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top