Henry Hartman het gesê: "Success always comes when preparation meets opportunity." En Lara Foot se Scrooge behaal sukses wat toegeskryf kan word aan briljante afrigting en afronding, uitsonderlik talentvolle akteurs en die blote toeval van omstandighede.
Agtergrond
’n Scrooge, vertel Wikipedia, is iemand wat bitter selfsugtig is met ’n dodelike allergie vir enigiets met betrekking tot Kersfees. Marc Lottering vertolk die rol van Scrooge op ’n eg-Kaapse manier en ’n wyse wat jou aangryp, omdat dit so herkenbaar is. Marc se karakter word ondersteun deur Sharleen Surtie-Richards, Christo Davids en Andrew Buckland met musikale ondersteuing deur Nur Abrahams en Poseletso Sejosingoe. Die toneelstuk is geskoei op die boek deur Charles Dickens, A Christmas Carol.
Met my aankoms merk ek dat die teater oorloop van Suid-Afrikaanse media, akteurs, sangers en teater- en televisie-royalty soos David Kramer, Pedro Kruger en Zane Meas. Die openingsvertoning word opgedra aan ons geliefde Madiba en ons deel ’n oomblik van stilte ter ere van hom.
Met die ooptrek van die gordyn val my oë op die stel en daar langs mekaar staan ’n kerk, moskee en sinagoge en die boodskap is so helder soos ons landsvlag: Hierdie is ’n universele produksie en behoort aan almal!
Eerste indrukke
Vanuit die skaduwees verskyn Nur Abrahams wat die stilte breek met ’n Athan (Moslemgebedsuitroep) en vanuit die skaduwees verskyn ’n skare kinders geklee soos in die dae van Charles Dickens. Die kinders is afkomstig uit omliggende areas en skole en verleen die nodige sprankel aan die toneelstuk.
Die storie neem die gehoor op ’n reis deur die strate van Kanaladorp, die dorpie waar Scrooge bly, en ons leer dat al waarvoor hy tyd het, is sy geld en sy besigheid. Hy is blind vir die swaarkry om hom en skud dit af soos stof op sy laslapbaadjie.
Oukersaand
Op Oukersaand lê Scrooge in sy enkelbed, vingeralleen, maar nie vir lank nie ... met ’n knal verskyn die spook van Marley (Scrooge se gewese venoot) en Marley bring Scrooge hierdie nuus: Jy sal deur drie spoke besoek word, elkeen gaan jou op ’n reis neem - na jou verlede, jou hede en jou toekoms.
Christo Davids is eerste aan die beurt en vertolk die rol van “Spoek van Vervalle Kersfees”, geklee in ’n spierwit kinderrok, wit kousies en skoene en ’n grys pruik - en ons kan nie anders as om te lag nie. Briljant!
"Spoek van Vervalle Kersfees" neem Scrooge op ’n vlugtige (en ek bedoel dit letterlik) reis na sy verlede en ons sien ’n eensame seuntjie eenkant sit, ’n Scrooge as seun, sonder vriende of familie. En ons begin die storie agter die storie verstaan.
Sharleen Surtie-Richards is volgende en vertolk die rol van “Spoek van die Hede”, Sharleen is eenmaal Sharleen (soos my ouma sal sê: "Sy het nou nie op haar mond geval nie ...")en sy vertolk die rol soos Kapenaars ’n auntie ken, met skinderstories en padkos tussenin.
Laaste wonder ons wie gaan die laaste “Spoek” speel en soos ons wonder, verskyn ’n gedaante teen die stelmuur, afgeëts sien ons die skaduwee beweeg, totdat ons die grafsteen van gewese Ebenezer Scrooge sien. Gelyk besef die gehoor en Scrooge dat daar geen toekomstige Kersfees vir hom gaan wees as hy nie sy benadering verander nie.
Kersoggend
Scrooge ontwaak van sy reise en drome as ’n nuwe mens, en loop deur die strate van Kanaladorp en sien asof vir die eerste keer al die vrolike kinders en mense. Scrooge se gedaanteverwisseling het soos enige goeie daad, ’n rimpeleffek op die mense rondom hom en so word almal se lewens ryker en gelukkiger.
Laaste gedagtes
Lara Foot se vertolking van die verhaal is uniek en word verwelkom. Die komiese wyse waarop die akteurs hul rolle vertolk en die onskuldige wyse waarop die kinders hulle rol speel, is ’n resep vir sukses.
Die produksie is eenvoudig, sonder ingewikkelde toertjies, maar die boodskap duidelik. Ek kan sonder skroom sê dat dit een van my beste ervaringe was en dat ek beslis die produksie ten minste nog een keer gaan sien.
Die storie van Scrooge en Charles Dickens is dieselfde storie as dié van ons Tata. Maak oop jou hart en neem die hande van die mense rondom jou, werk saam om ’n beter toekoms vir almal te vestig. Geld en weelde kan jy nie saam met jou vat nie, maar jou legacy is jou nalatenskap en dit kan jy saam met jou vat.
Soos Scrooge het Nelson Mandela ook foute gemaak, maar die twee het een ding gemeen. Die feit dat dit slegs een persoon neem om ’n land, wêreld of iemand se omstandighede te kan verander.
Kom ons almal onthou die ware boodskap lank na Scrooge ophou speel het en Nelson Mandela ter ruste gelê is.
Ek laat julle met ’n gedagte en vra om verskoning dat dit in Engels is, ek weet sommige mense is hiper-uptight oor my taalgebruik:
With great freedom, comes great responsibility.
Dink mooi oor hoe jy die vryheid waarvoor manne en vroue geveg het, gebruik - en maak seker jy neem tyd om iets vir iemand anders te doen, nie net oor Kersfees nie, maar elke dag!
Scrooge
Baxterteater
4 Desember 2013 tot 25 Januarie 2014
www.baxter.co.za
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

