Samsa-masjien

  • 0

Agtergrond

Samsa-masjien is deur Willem Anker en Jaco Bouwer gekonseptualiseer. Die teks is deur Willem Anker geskryf.

Die drama is losweg gebaseer op Kafka se Die Verwandlung (Engels: Metamorphosis).

Die drama bevat 'n omvangryke getal temas. Hoewel die storielyn is soos wat die geheue is (selektief) en ook soos 'n droom (misleidend werklik, al is dit soms surrealisties), kan die verhaal soos volg opgesom word:

Verhaal, akteurs en ruimte

Gregor Samsa (Gerben Kamper) en sy vrou (Antoinette Kellerman) is oud en woon by hulle dogter (Ilana Cilliers) en haar man (Ludwig Binge). Gregor ly aan demensie en meen dat hy in 'n insek verander. Hy sien orals insekte en voel hulle op hom loop. Sy dogter, wat 'n kopieskrywer is, vertel nog agtergrond tot die verhaal aan haar terapeut.

Al vier die akteurs is uitstekend en vertolk hulle rolle asof hul tuis is in hulle karakters se velle.

Die rolle wat Kamper en Kellerman vertolk, is uiters fisiek en verg sekerlik hoë inspanning van die akteurs.

Die verhaal speel op drie plekke af, en hierdie ruimtes is doelbewus gekies. Die teaterganger moet hom wend tot die omgewing waar 'n betrokke deel van die drama afspeel. Soos wat die teks grense verskuif en elke woord noukeurig gekies is, is ook die stel en wáár elke toneel of tonele afspeel, fyn beplan.

Temas

Hier onder is enkele temas in die stuk. Daar is nog veel meer. Beskrywings word doelbewus vaag gehou.

Besoeke aan die sielkundige

Die gesprekke van Samsa se dogter met die (onsigbare) sielkundige help (a) om die verhaal te dryf, (b) kommentaar te lewer op 'n sekere generasie mense wat praat en praat sonder dat dit tot enigiets lei, (c) 'n mens te laat lag omdat jy aspekte van jouself in die karakter herken, (d) haar koud- en kilheid toe te lig, (e) temas van ma-dogter-verhoudinge betrek, (f) die Grensoorlog en die effek daarvan op die destydse nasionalistiese Afrikaner se psige betrek, en (g) te demonstreer dat sy 'n kind van haar tyd is ("Jou EFT is deur", terwyl sy haar selfoon in die rigting van die sielkundige swaai).

“Dis nie ’n insek nie, my gogga.”

Dit is een van die juwele in die teks. Daar is vele ander. Willem Anker speel met taal en laat die teaterganger lag, gril en verbaas wees oor watter woord volgende kom.

Is ons almal insekte? Ons gedrag is nie so vreeslik verskillend nie. Ons bou neste met onbenullighede. Ons paar. Ons kommunikasieklanke dreun en tjir ewe niksseggend.

Of juis met ewe veel betekenis? Insekte is nie betekenisloos nie. Insekte oorleef langer as enigiets.

Virus

Op 'n stadium lag en spot Samsa se skoonseun met 'n student se vraestel wat hy moet nasien.

“Woorde is virusse. Dis aansteeklik. In die begin was die Virus …” lees hy vir sy vrou voor.

Die gehoor lag ook. Hoe sinneloos is die student se gebrabbel! Maar ons almal wat gelag het, kyk toe uiteindelik op ons neus. Want dié Virus is aansteeklik. In hierdie toneelstuk steek mense se woorde en gedrag mekaar ook aan.

Generasie-Y

Samsa se dogter is 32. Sy behoort aan Facebook en bowenal aan Generasie-Y. Sy dra haar selfoon orals met haar saam, voel dat sukses haar toekom en sy daarop geregtig is bloot omdat sy bestaan. Sy is 'n netjiese, skoon karakter en haar huis is keurig, haar glase blink.

Die weggooigesprek by die dinner party wat sy en haar man aanbied – ook die gedetailleerde beskrywing van elke gereg (basmatierys, die hoenderkerriegeurmiddels), die sosiale gebruik en aksent van Engels aan tafel – is alles tekenend van 'n sekere tydsgees.

Klanke van elders terwyl die gesprek aan die gang is, lê verdere verbande tussen mens, insek en kommunikasie.

Die bou van die nes

Insekte bou 'n nes. Mense ook.

Oudword; gevoelloosheid vir ouderdom

Gregor Samsa en sy vrou word oud. Die kinders ervaar, soos teen die einde van Kafka se toneelstuk, verligting. Of irritasie weens verpligtinge wat nou volg. Daar is nie deernis by die kinders nie. Maar die kyker, daarenteen, voel geráák.

Liefde

Die liefde word nie romanties in hierdie drama uitgebeeld nie. Dis vuil, morsig en dikwels egoïsties. Maar op die ou end is daar iemand wat vir ’n ander sorg. En dalk 'n virus aansteek. Jy kan nie aan die virus ontkom nie.

Die Afrikaner

Dalk móét Gregor Samsa aan demensie ly omdat hy nie ’n keuse het nie. Hy flikker op na oomblikke van helderheid as iemand van sy seun praat wat op die Grens dood is. Hy is ontnugter deur wat die land van hom gevra het. Ook hy was, soos Generasie-Y in hierdie toneelstuk, 'n kind van sy tyd en vir altyd vasgevang in sy betrokke Zeitgeist.

Higiëne

Die seepadvertensie en die absurditeit daarvan is belangrik. In die verhaal kom 'n ma na vore wat so dikwels gestofsuig het dat sy alles na binne gesuig het.

Maar baie dinge kan nie skoongeskrop of afgewas word nie. Is dit skuld wat kriewel? Of steeds persepsies en vooropgestelde idees?

Teenoor higiëne staan ook die teenoorgestelde daarvan. Die lewe is vuil en morsig, die psige ook. Mense en hulle aksies is grillerig.

Eentonigheid

Die Samsa-masjien protesteer teen eentonigheid en daaglikse, meedoënlose herhaling.

"Gister soos vandag. Vandag was gister."

Die titel se betekenis word gaandeweg duideliker.

Klanke

Onderskeidelik die klanke en die musiek van Samsa-masjien is as 't ware karakters van hul eie en speel elk 'n veelseggende rol.

The Wire

Daar was eens 'n televisiereeks met die naam The Wire.

In hierdie reeks stem hiërargieë in twee teenoorgestelde wêrelde (die wêreld van orde, reg en geregtigheid aan die een kant en die wêreld van dwelmhandel aan die ander) ooreen.

In Samsa-masjien  is daar ook hiërargieë. Vir die normales en die malles. Daar is onnoembaar baie raakpunte tussen hierdie twee wêrelde.

Buys

Willem Anker se roman het onlangs verskyn en verken die donker dieptes van geweld, oorlog en die manlike psige.

Samsa-masjien verken die mens se psige. Die see is dikwels 'n gewilde metafoor vir die onderbewuste, maar in Samsa-masjien is hierdie plek elders. En daar ráás dit.

Ten slotte

"Stel troues en begrafnisse af om Samsa-masjien te gaan sien," skryf Murray la Vita op Facebook.

Tog sal Samsa-masjien nie in almal se smaak val nie. Dis uitdagende teater, en nie maklik nie. Let ook op die ouderdomsperk (niemand onder sestien nie).

Wees gewaarsku: jy gaan glad nie small talk ná hierdie vertoning kan maak nie. Samsa-masjien is groot, groots en grotesk. Dié drama gaan in jou onderbewuste se donkerste dieptes nesmaak, daar uitbroei en kriewel en krap. Nog baie, baie lank daarna.

Samsa-masjien is pas in elke kategorie van die kykNET Fiësta-toekennings benoem.

Lees 'n onderhoud met Willem Anker.

Samsa-masjien het op die 15de Januarie 2015 in die Baxterteater in Kaapstad geopen. Lees nog besonderhede omtrent die vertonings hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top