Hierdie fliek het ’n regte “ploiings tot pluiskeil”-storie, en is die opwindendste uit die reeks kunsfilms wat ek tot dusver gesien het.
Impressioniste soos Monet, Renoir en Degas se werk is vandag alom bekend, geliefd en gesog, maar in hulle tyd was dit allesbehalwe die geval. Impressionisme (oorspronklik ’n skeldnaam) het van ongeveer 1860 ontwikkel en het op ’n interessante buitefaktor berus: die ontwikkeling van sintetiese verf. Kunstenaars kon nou buite hul ateljees werk, aangesien hulle nie meer ’n magdom pigmente nodig had om verf te meng nie – vandaar die ligdeurstraalde tonele wat so kenmerkend van die impressioniste is.
Die kuns-establishment in Parys was egter glad nie beïndruk nie. Hoewel die Salon van 1859 aangetoon het dat vernuwing in die skilderkuns nodig was, het hulle nie verwag wat hulle gekry het nie. Pleks van tegnies perfekte uitbeeldings van grootse onderwerpe uit die Bybel of mitologie was die impressioniste se skilderye “onafgewerk” en oor alledaagse onderwerpe. Vir hierdie kunstenaars was dit belangriker om atmosfeer uit te beeld (die kunstenaar se innerlike reaksie op wat hy/sy waarneem), en hulle het dit meesterlik reggekry deur onder meer die dik aanwending van verf en slegs die suggestie van figure of gesigte deur ’n paar kwashale.
Net een man het hierdie nuwe beweging na waarde geskat: Paul Durand-Ruel, wat op 34 sy pa se boek-en-kuns-winkel in Parys teen sy sin moes oorneem. Durand-Ruel het verklaar dat Delacroix se Interior of Dominican Convent in Madrid die eerste kunswerk was wat hom werklik opgewonde gemaak het. Kort daarna het hy Monet en Pissarro tydens ’n verblyf in Londen ontmoet en het hy begin om hul kunswerke en ander impressionistiese werke aan te koop. Die beledigings en skeldname soos “malman” wat in die koerante, lesersbriewe en persoonlik by sy galery gevolg het, staan nie terug vir vandag se felle Twitter-gevegte nie. Maar Durand-Ruel het vasberade aangehou om hierdie kunstenaars te ondersteun sodat hulle hul werk kon voortsit, al het dit hom tot op die rand van bankrotskap gebring. Eers twintig jaar later het die gety gedraai ... en min het die Paryse kunskritici geweet dat die ekspressionisme nog voorlê!
Hierdie film word hoog aanbeveel vir alle kunsliefhebbers. Dis die laaste in die reeks Exhibition on Screen en wys nog net op 3 en 4 Junie by Cinema Nouveau-teaters.
Sterre: 4½



Kommentaar
Griselde Pollock het reeds dertig jaar gelede uitgewys hoe eensydig hierdie kunsgeksiedkundige weergawe van die Impressioniste was. Sien:
http://theconversation.com/the-national-gallery-is-erasing-women-from-the-history-of-art-42505