
12 Years a Slave
Regisseur: Steve McQueen
Spelers: Chiwetel Ejiofor, Michael Fassbender, Benedict Cumberbatch, Lupita Nyong’o, Paul Dano, Brad Pitt
Die spesie mens se rou, brutale wreedheid is vir my onbegryplik. Ek het dit al in talle flieks uitgebeeld gesien, maar selde nog met so ’n groot emosionele impak as in 12 Years a Slave.
Die draaiboek is gegrond op die gelyknamige boek deur Solomon Northup, die hoofkarakter (gespeel deur Chiwetel Ejiofor), en dit vertel sy lewensverhaal van 1841 en 1853. In daardie tyd het ’n swart vel ongeveer outomaties beteken jy is ’n slaaf, maar Solomon is gebore as ’n vry man en leef as sulks in New York saam met sy vrou en twee jong kinders. Hy is ’n puik vioolspeler en verdien sy inkomste deur by sosiale geleenthede vir wit mense te speel. Eendag word hy met ’n slenterslag ontvoer, al die pad na Louisiana in die suide van Amerika, waar hy onder ’n nuwe naam as slaaf verkoop word en op ’n katoenplantasie moet gaan werk.
Steve McQueen se regie is uitstekend. Die verhaal stroom voort soos ’n breë rivier, en uitstekende kinematografie maak die broeiende bayou-wêreld rondom New Orleans onvergeetlik. Karakters en insidente word deeglik en met diepte uitgebeeld. Chiwetel Ejiofor se vertolking van die hoofrol is Oscar-materiaal, terwyl die opkomende akteurs Paul Dano en Benedict Cumberbatch sterk spel lewer. Michael Fassbender staan uit as ’n wrede plantasie-eienaar, en Brad Pitt is betroubaar soos altyd in ’n klein maar belangrike rol. Die nuweling Lupita Nyong’o skitter in die rol van Patsey.
Dat hierdie film vanjaar se Golden Globe vir beste drama ontvang het, is geen verrassing nie. Dis eintlik verpligte kykstof, ter wille van ons almal se menslikheid – want die bitter waarheid is dat mensehandel en -mishandeling tot vandag toe voortduur.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

