Pretoria-PEN: Meer sigbare resultate

  • 0

Op Pretoria-PEN se webwerf staan daar dat die organisasie verbind is tot die bevordering van letterkunde, spraakvryheid en taalregte. Wat beteken dit vir julle by die nuwe Afrikaanse Skrywersunie?

Die Afrikaanse Skrywersunie onderskryf dieselfde strewes, maar sal dit hopelik met meer sigbare resultate uitleef as Obersturmbannführer Roodt se organisasie.

Daar bestaan reeds ’n PEN South Africa-organisasie. Wat dan die relevansie of nodigheid van ’n Pretoria-PEN-organisasie?

Dis ’n kwessie van taal. PEN South Africa is Engels, Pretoria-PEN is Afrikaans.

Hoe sal dit werk by die Afrikaanse Skrywersunie wanneer ’n nuwe voorsitter gekies word?

Waarskynlik volgens demokratiese beginsels: ’n meerderheid van stemme uitgebring deur lede wie se ledegelde betaal is en op ’n vergadering waar ’n kworum van lede verkry is. Ons moet nog ’n grondwet opstel, maar ek kan jou verseker dat dit genoemde dinge in ag sal neem.

Wat sal die kriteria wees om aan die Afrikaanse Skrywersunie te behoort en hoe verskil dit van byvoorbeeld South African PEN of Pretoria-PEN?

Pretoria-PEN was hoegenaamd nie ’n oorweging wat ter sprake gekom het toe ’n raps minder as veertig skrywers op 12 Maart vanjaar tydens die Woordfees op Stellenbosch bymekaargekom het om die stigting van die Afrikaanse Skrywersunie te bespreek nie. Daardie vergadering was ’n uitvloeisel van Media24 se besluit om die drie Afrikaanse dagblaaie se boekeblaaie te konsolideer onder een redakteur. By daardie vergadering is die bestaan van Pretoria-PEN ter sprake gebring, maar die konsensus was dat daar tog ’n behoefte is aan ’n groter organisasie as PEN. Die teenwoordiges het gevoel daar is ’n behoefte aan ’n organisasie wat as mondstuk vir skrywers kan funksioneer, maar ook in die breë na boekbelange sal omsien en dus ’n inklusiewe organisasie sal wees.

Waarna streef jy, as skrywer, onafhanklik van enige organisasie?

Enige skrywer streef na die maksimum lesers vir dit wat hy skryf. Organisasies soos PEN en die ter stigte ASU se rol is dié van ’n spreekbuis waarin my stem rakende dinge wat vir skrywers van belang is, gehoor kan word via PEN of ASU.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top