Athol Fugard se minder bekende Playland (teenoor ander toneelstukke uit sy pen soos “Master Harold” and the Boys en Boesman and Lena) word 21 jaar na die oorspronklike skryf daarvan deur Saartjie Botha in Afrikaans vertaal en is tans te sien by die Fugardteater.

Twee mans uit teenoorgestelde pole van die lewe ontmoet mekaar Oujaarsaand van 1989 in ’n afgeleë plattelandse dorpie op ’n skouterrein genaamd Playland. Die een man, Gideon le Roux (Albert Pretorius), is ‘n ouddienspligtige met die Grensoorlog nog (te) vars in sy geheue en die ander man, Marthinus Zoeloe (Mbulelo Grootboom), is die nag- en dagwag van Playland. Alhoewel hierdie mans met aanvanklik lyk asof hulle niks gemeen het nie, word die waarheid – na báie spanning en konflik – ontbloot en karakters word (figuurlik) gestroop tot op die been, totdat elkeen ’n rou erkenning van sy oortreding van die sesde gebod gee: Jy sal nie moord pleeg nie ...
Alhoewel Le Roux die oorlog oorleef het en “bevryding” ervaar het, soek hy in sy drome desperaat vergifnis van die slagoffers se oorblywende familielede. Zoeloe, aan die ander kant, is lankal vergewe (deur die Here en deur die dominee wat hom in die tronk gesien het), maar hy is nie in staat om bevryding te ervaar nie en pleeg elke aand in sy drome die moord oor en oor. Le Roux se skuld spook by hom, maar dit is juis die afwesigheid van skuld wat by Zoeloe spook. Sulke teenstrydighede heers deurentyd in die toneel.
Maritz se regie en stelontwerp, Botha se vertaling en die akteurs se spel maak dit moeilik om te glo hierdie toneel was nie oorspronklik in Afrikaans geskryf nie. Playland lig glad nie gemoedere nie, nog skep dit die illusie van ’n kammawêreld. Dit vertel die storie van twee mense wat ervarings moes meemaak en sekere dinge moes doen as gevolg van besluite wat hulle en hulle leiers/regering gemaak het. Dit is debatteerbaar tot watter mate dit regverdig is dat die gevolge van die regering se keuses deur hierdie individue gedra moet word (wat hierdie toneelstuk beslis ’n universele tema gee).
Playland is ’n storie van versoening en verlossing. Mense sal altyd verskil en daarom sal daar altyd oorlog gemaak word. In Playland word die brutaliteit van oorlog asook die onregverdigheid van die lewe uitgebeeld. Dit is egter ook ’n storie van hoop: hierdie oënskynlik onversoenbare mans vind gemeenskaplike grond en daar word – miskien met ’n tikkie Fugard-optimisme en romantisisme – ’n vriendskap tussen “ou Gids” en “Martiens” gesmee.

Pretorius se spel laat ’n mens sprakeloos. Sy indringende karakterisering en duidelike toewyding tot die rol sorg vir ’n kleurvolle palet van emosies wat in die gehoor gewek word. Alhoewel Le Roux nie ’n aangename karakter is nie, grootliks as gevolg van die posttraumatiese stres waaraan hy lyi na die gewelddadige Grensoorlog, vind Pretorius die balans tussen mens en monster en kan ’n mens nie anders as om hom jammer te kry en selfs medelye teenoor hom te voel nie. Grootboom speel die opregte, Godvresende Zoeloe wat tot die laaste oomblikke in beheer van homself bly voor hy voor Le Roux se onophoudelike torring aan hom swig. Verskille oor ras- of kultuurverskille heen word blootgelê en die gehoor word gekonfronteer met twee mense en die kruis wat elkeen dra as gevolg van besluite wat hulle en hulle leiers geneem het.
Maritz slaag daarin om ’n onheilspellende en makabere atmosfeer van ’n reisende pretpark te skep, kompleet met onbetroubare kragopwekkers, geblikte stemme, mense wat skreeu soos hulle op die ritte ry, en natuurlik die onmiskenbare musiek wat oor die luidsprekers speel. Vir Engelse Fugard-aanhangers is daar voorsiening gemaak met subtitels wat elektronies bo die verhoog verskyn.
Eerlike toneelspel en treffende inhoud – gaan kyk Playland.
Dramaturg: Athol Fugard
Regisseur: Albert Maritz
Vertaler: Saartjie Botha
Stel en Beligting: Albert Maritz
Stelkonstruksie en stilering: Koos Marais en Gaerin Hauptfleisch
Kostuumontwerp: Koos Marais
Playland speel tot 15 Februarie by die Fugard Teater. Bel die kaartjieskantoor om plek te bespreek. Kaartjies is ook beskikbaar by Computicket.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

