Platform 9 vermaak

  • 0

 

Platform 9 open met twee vriende wat wag op platform 6 vir die trein van Kaapstad na Johannesburg. Ongelukkig vir die vriende is die platform waarop hulle eintlik behoort te wag platform 9. Ten spyte van ’n desperate gejaag na die regte platform, mis hulle die trein – en so begin die reeks verhale waaruit die toneel bestaan. In die tyd wat hulle gevolglik op die platform deurbring, wagtend op die volgende trein na Johannesburg, maak hulle kennis met ’n reeks karakters. Gedurende die vertoning beleef die gehoor iets van die ware voordele, nadele en toetse van vriendskap. Die produksie vertel eg Kaapse- en Suid-Afrikaanse verhale met karakters wat ’n mens daagliks op straat sien. Die akteurs spreek dikwels die gehoor direk aan, wat bydra tot die gevoel van bekendheid rondom die verhale wat vertel word.

Christo Davids is verantwoordelik vir die skryf en regie van die stuk en bekende televisie-akteurs Maurice Paige en Theodore Jantjies word op die verhoog gesien. Ten spyte van die akteurs se vermoë om gemaklik en vinnig van karakter te wissel, voel dit steeds asof die fyner nuanses van die karakters verlore gaan. Hiermee verwys ons na elemente soos aksente en stemgebruik. Die verhaal is byna oorvereenvoudig om ruimtelik plek te skep vir klughumor. Hiermee wil ons nie sê dat klughumor iets is wat nie in die teater hoort nie, of liefs op Amerikaanse “blockbuster”-films te sien moet wees nie. Dit is egter jammer dat die produksie hierin verval. Dit is ’n bewese feit dat mense lag vir dit wat hulle herken. Ons meen eerder dat indien meer tyd bestee is, beide in teks en spel, aan die ontwikkeling van karakters waarmee die gehoor kennis maak, die produksie steeds die gehoor sou laat skaterlag: dié slag nie vir ’n oordrewe vorm van realiteit nie, maar eerder vir ’n eerlike weergawe daarvan.

Ten spyte hiervan was die produksie vermaaklik en grootliks deur die gehoor geniet. Die produksie is tot 25 Januarie 2014 by die Baxter Golden Arrow studio te sien. Kaartjies kos tussen R80 en R100 en is by Computicket beskikbaar.

Besoek die webwerf van die Baxterteater vir nog inligting.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top