Ouerskap se kernverpligting

  • 0

Naomi Meyer het vir haar vierjarige kind uit Mummy never told me begin voorlees:

Mummy never told me that life is full of little secrets ... Why must I go to school when Mummy was expelled from hers? Why do Mummy and Daddy lock me out of their bedroom? Where do they go at night?

Die illustrasies in die boek toets ook grense. Kaal mans en vroue jaag mekaar deur die blaaie.

Vir die (voor)lesende ma was daar rede tot gesprek. Met haar kind én met volwasse kenners. Sy het ’n paar kundiges op die gebied van kinderboeke uitgesoek en vir hulle gevra wat hulle van boeke soos hierdie dink. Sommige van die kundiges het gekies om die vrae as ’n geheel te beantwoord. Hier is die vrae en die antwoorde volg daarna:

Wanneer is ’n boek nie geskik vir kinders nie, en wanneer is ’n boek ’n goeie manier om ’n oop gesprek te hê?

Wat hierby aansluit, is: Moet oop gesprek deur ’n boek aangemoedig word? Is dit nie ewe moralisties of aanmatigend as om te sê ’n onderwerp is taboe nie? En is ’n boek nie bedoel om sommer net genot te wees nie – waarom ’n boek aan omstrede onderwerpe koppel? 

Hoe ver het Suid-Afrikaanse (Afrikaanse!) boeke nog nodig om te vorder voordat hulle die stof van omstredenheid afgeskud het en sommer net vrolike en tong-in-die-kies boeke raak? (Met ander woorde – ek sien kontroversie hier raak, maar dalk is hierdie onderwerpe bloot storiemateriaal as die kultuur waarbinne dit verskyn, nie eng en verstok dink nie.)

Boeke is wonderlike media om te gebruik met kinders, want om stories saam met kinders te lees en inligting aan hul oor te dra is een van die kernverpligtinge van goeie ouerskap.

Hier lê die knoop natuurlik: die “saam met ouers”-ding. Met ander woorde, ons kan nie net vir die 6-jarige ’n boek oor homoseksualiteit in die hand stop en dink dat hy goeie sin daaruit gaan maak nie. Tot op 12 is volwassene-begeleiding uiters belangrik. Die rede daarvoor is nie net moreel/kultureel nie, maar ook neurologies. Die brein groei merendeels eers klaar op 13. Voor dan is die kind nie in staat tot metakognisie nie – dws denke oor my denke/gevoelens/gedrag. Morele ontwikkeling trek eers weg (op ’n baie stereotiepe wyse) teen die ouderdom van 14. ’n Sesjarige is konkreet, begin so pas met die interpretasie van simbole (lees en skryf), en is alleen ingestel op onmiddellike behoeftebevrediging. Die 4–5-jarige is nog presimbolies.

Dis nou nie ’n platform vir die bespreking van kinderontwikkeling nie, maar die punt bly staan: die deel en deurwerk van leesstof benodig volwassene-begeleiding. So die vraag is nie eintlik waarvoor kinders gereed is nie, maar eerder of die volwassene ver genoeg van sy eie vooroordele staan om leesmateriaal gebalanseerd te kan vertaal en interpreteer. As dit byvoorbeeld gaan oor die aanvaarbaarheid van homoseksualiteit, gaan die homofobiese, fundamentalisties-gelowige ouer dalk verwronge inligting oordra, nie as gevolg van die boek nie, maar as gevolg van hul eie eng waardestelsel.

So, die geskiktheid van die boek hang baie saam met die bevoegdheid (en leesvaardigheid) van die ouer. Vir my bly die kern dat ons nie vir kinders moet lieg of feeverhale vertel oor die lewe nie. Noem ’n ding op sy naam, verduidelik konkreet en so volledig moontlik. Die kind sal meer inligting vra soos hy dit verwerk en dan nuwe insette benodig.

Boeke is nie net daar vir “nice warm feelings” nie – dit moet natuurlik moeilike onderwerpe aanroer – self by kinders, byvoorbeeld die dood, egskeiding, siekte ens. Dis ’n eeue oue menskenmerk dat ons dinge aanleer deur stories. “Kontroversieel” hang sekerlik af van die ouer se eie wêreldbeskouing – die eng, of ongeletterde, ouer gaan waarskynlik nie omgee vir die bestaan van sulke boeke nie – hulle sal dit doodgewoon nie koop nie.

Mens sal darem nie alle Afrikaanse kinderboeke wil tipeer as verstok nie – daar is werklik oulike boeke vir kinders wat handel oor moeilike onderwerpe. Daar is egter ongelukkig steeds die oorblyfsels van ’n eng “Christelike-Nasionale” moraliteit wat steeds eggo in sekere kerke en skole – ’n behoudende afwysendheid vir enigiets wat ons grense bietjie wil verskuif. ’n Voorbeeld: ’n sekere kerkgroepering het nou die dag eers “Stille Nag” as deel van hul liederebundel aanvaar. Die debat oor kleinlikhede hou baie Afrikaanssprekendes nog vasgekluister aan opvattings wat eintlik die omgang met die leefwêreld vir die kind bemoeilik en nie vergemaklik nie.

Die keersy tot die konserwatiewe ouer is natuurlik daardie liberales wat dink dat jong kinders klein grootmensies is en oor die kritiese vermoë beskik om “vir hulle self” te besluit – sonder dat daar behoorlike begeleiding is.

 

<<< Keer terug na die indeksblad vir hierdie seminaar.
 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top