Miskien sou dit heel veilig wees om te sê die rugbybaas Oregan Hoskins is die Allan Hendrickse van die nuwe Suid-Afrika – veral gegewe die gelykvormige raakpunte tussen Hoskins en wyle eerwaarde Hendrickse, eertydse leier van die Arbeidersparty (AP).
Met die aanwysing van Peter de Villiers as eerste bruin Bok-afrigter in 2008 is dit die einste Hoskins wat Div in die rug gesteek het. Hoskins het gesê Div is nie op “gehalte” of “meriete” gekies nie. Dit het die vermoede laat deurskemer dat Div ’n politieke aanstelling was.
’n Paar dae later het Hoskins egter dié (gewraakte) stelling teruggetrek. Hoskins het dit reggestel deur te sê Div het meer punte as enige ander kandidaat in die onderhoud gekry.
Die skade was egter reeds aangerig. Hoskins se uitlating was selfs erger as toe wyle Blackman Ngoro in 2005 gesê het bruines is kultureel minderwaardig en dat hulle ’n spul dronklappe en vuilbekke is.
Diegene van ons wat goed onderlê is in die politieke argitektuur van die land, sal terug kan verwys na hoe die AP in 1983 in Eshowe die bruin mense onder Hendrickse se leierskap verraai het.
Hendrickse het die AP-kongres vernuftig gemanipuleer om ten gunste van deelname aan die destydse driekamerparlement te stem.
Die AP het die “bruin verkiesing” in 1984 gewen en Hendrickse het as “bruin eerste minister” verskeie bruin “eie sake” met ’n beperkte begroting en mag bestuur. Dit was teen die wil van anti-apartheidsorganisasies, omdat swartes by 1983 se grondwetlike bestel uitgesluit is.
Die ommeswaai van Hendrickse, wat sommige jong bruines gehelp het om klarigheid in hul in koppe te kry oor die politiek van die jare ‘70 en ‘80, het groot ongelukkigheid en politieke verwarring onder bruines veroorsaak.
Dié besluit was die verskansing van bruin chroniese ellende wat vandag bekend staan as die “afskeep of kantlyn toe stoot van bruines”. Dit ten spyte van die feit dat die meerderheid bruines beide die 1984- en 1989-verkiesings verwerp het.
Miskien is dit nog steeds dié “politieke verwarring” wat die meerderheid bruines vandag aanpor om vir die eertydse verdrukker, eers die NP en nou die DA, te stem.
Hoskins se “gewraakte stelling” volg De Villiers vandag nog steeds soos ’n afkop spook. So erg, dat die politieke ontleder Theo Venter onlangs op RSG gesê het dat “ons nou ’n Bok-breier (Heyneke Meyer) het wat weet wat hy doen”. Asof Div nie geweet het wat hy doen nie.
Veral wittes vergeet dat Div en sy Drienasies-kampioene in 2009 deur president Jacob Zuma uit Nieu-Seeland terugverwelkom is as “spesiale landsburgers” omdat hulle die vorige vyftien maande rekord na rekord in die geskiedenisboeke herskryf het. In verlede jaar se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Australië het Div se Bokke die spel op die veld gewen, maar op die telbord verloor.
Wat doen bruines as hul leiers hulle vermoëns tot sukses bevraagteken? Wat doen bruines as bruines in hoë posisies so min begrip toon vir die uitdagings van ’n getransformeerde samelewing, waar ras of etniese afkoms geen rol hoef te speel nie?

