In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Suid-Afrikaanse hofverslae wemel van hofstories waarin verskillende motorfabrikate een of ander rol speel. Meestal gaan dit oor 'n motor wat in 'n ongeluk betrokke was waaruit skade vir iemand voortgevloei het, soos byvoorbeeld die horde derdeparty-eis-gedinge waaroor verslag gedoen word. Dikwels handel hofverslae ook oor misdrywe wat met motors gepleeg is, en ewe dikwels oor motor-huurkooptransaksies wat suur geword het of waarby een of ander skelmstreek betrokke was.
Kom ons kyk na 'n paar voorbeelde wat ek sommer lukraak geneem het sonder om aan enige motorfabrikaat voorkeur te verleen.
Die eerste van die baie kere wat die naam Volkswagen in ons hofverslae vermeld word, is in Rex teen Molapo1, 'n saak van 1957, waarin die beskuldigde aangekla is dat hy 'n ongelisensieerde Volkswagen op 'n openbare pad bestuur het. Dit was 'n Volkswagen-kewer wat op 'n stadium omtrent die volopste motor op ons paaie was. Daarom dat kewers ook in baie ongelukke betrokke was. In Terblanche teen Minister van Vervoer2 het 'n ooggetuie van só 'n ongeluk die volgende gesê: "Nadat die Volkswagen die pad verlaat het, het ek 'n skuurgeluid en nog 'n paar slae gehoor." Die kewer het 'n hele paar keer gerol en het 60 treë van die pad af in 'n wingerd tot stilstand gekom. Die bestuurder het die ramp oorleef, hoewel hy erg geskok was.
Die naam Chevrolet kom minder dikwels as die Volkswagens in ons hofverslae voor. Die saak Van Wyk teen Otten3 het gehandel oor 'n kêrel wat vir sy 19-jarige seun 'n Opel wou koop, maar toe oorreed is om liewers 'n Chevrolet Corvair te koop. "Want," het die verkoopsman gesê, "General Motors sal nie 'n swak produk op die mark plaas nie." Ongelukkig was die Corvair een van Chevrolet se grootste mislukkings. Die motor het 'n ses-silinder lugverkoelde enjin gehad wat, soos die Volkswagen-kewers se enjins, agter gemonteer was. Dit was nooit 'n sukses nie en na 'n kort tydjie het General Motors opgehou om met lugverkoelde masjiene te eksperimenteer. In dié besondere saak het die masjien van die Van Wyks se Corvair gou die gees gegee en het die stryery gegaan oor presies wat die waarborg bepaal het.
Ons lees in die hofverslae 37 keer van 'n wonderlike Duitse motor, die Borgward, 26 keer van die Amerikaanse Buicks, en 127 keer van die Valiant. Hierdie groot motors uit die Chrysler-stal was baie gewild as taxi's voordat die minibussies op die toneel verskyn het.
Baie hofsake handel oor misdrywe wat met Valiants gepleeg is – soos byvoorbeeld die smokkel van dagga.
Mercedes-Benz se naam word, soos Volkswagen s’n, talle kere in hofverslae genoem. Die bekendste saak oor 'n Mercedes is sekerlik Du Toit teen Atkinson's Motors4 – 'n appèlhofsaak oor 'n ou wat 'n agt-silinder 350 SE gekoop het.
'n Kaartjie wat in die vertoonlokaal op die Merc se dak geplaas is, het aangedui dat dit 'n 1979-model is. Die koper het, toe hy die motor in ontvangs neem, 'n kontrak geteken wat hy volgens sy eie erkenning nie gelees het nie. ‘n Klousule van daardie kontrak het onder meer bepaal dat die koper die jaar van vervaardiging van die motor soos in die lisensiedokumente aangegee word, aanvaar. Drie maande nadat hy sy Mercedes gekoop het, het mnr Du Toit egter agtergekom dat dit eintlik 'n 1976-model was. Hy het sy saak om kansellasie van die koop – gegrond op misleiding deur die verkoopsman – uiteindelik in die appèlhof gewen.
Ons hofverslae praat net twee keer van 'n Ferrari – in die een geval nogal 'n Testarossa, waarop beslag gelê is en waarvan melding gemaak word in 'n hofuitspraak van 19955.
'n Ander luukse sportmotor waarvan ons in die hofverslae lees, is die Jaguar. Die mooiste Jaguar-storie lees ons in Rex teen Reed6 – 'n uitspraak van die vermaledyde Rhodesiese (vandag Zimbabwiese) appèlhof. Dit het gehandel oor 'n geel E-tipe Jaguar wat indertyd 'n baie gewilde en vinnige sportmotor was. Van dié legendariese motors kry ek nou net 'n prentjie van 'n rooie:

In die hofverslag lees ons: "On the night in question this motorcar (dis nou die geel Jag) was seen to be travelling at a very high speed and it was chased by an inspector of the police driving a Peugeot motor car." Wat 'n prentjie!
Natuurlik het die polisie in hul stadiger Peugeot 404 nooit geweet wie die bestuurder van die Jaguar was wat so vinnig gejaag het nie, maar hulle kon darem die registrasienommer neerskryf, en toe het hulle sommer die geregistreerde eienaar aangekla. Die Rhodesiese appèlhof het bevind dat daar geen vermoede in die reg is dat 'n oortreding deur die geregistreerde eienaar van 'n motor begaan is nie en die vinnige geel Jag se eienaar, ene mnr Reed, is toegelaat om vry uit die hof te loop.
Engeland (of is dit deesdae Duitsland?) se bekendste motor, die Rolls Royce, word 13 keer in Suid-Afrikaanse hofverslae genoem. In Johnson teen Jainodien7 lees ons van 'n ou wat hof toe gegaan het omdat 'n afslaer vir hom gesê het dat hy aan hom 'n Rolls Royce verkoop, terwyl dit agterna geblyk het dat hy aan hom 'n Austin verkwansel het. Dit was darem nie net só 'n Austin nie – dit was die luukse Vanden Plas Princess R-model wat, soos die "R" indertyd aangedui het, met 'n 4-liter-Rolls Royce-enjin toegerus was. Nie baie suksesvol as motor nie, en sekerlik nie 'n volbloed-Rolls nie.
Ons lees die naam Ford ver meer as 'n 1 000 maal in ons hofverslae, maar dis regtig misleidend in dié speletjie wat ons nou speel, want te midde van al die Sierras, Lasers, Cortinas, Granadas, Capri's, Fairlanes en selfs Zephyrs waarvan ons in die hofverslae lees, is daar ook baie mense met die naam Ford wat in die verslae genoem word. Ons lees van 'n advokaat Ford; daar word melding gemaak van 'n prokureur met die naam Ford wat êrens in Natal gepraktiseer het; selfs oudpresident Ford van die VSA se naam word by geleentheid genoem; en dan is daar talle “gewone” mense met die naam Ford wat as partye in hofsake genoem word. Só is daar byvoorbeeld 'n spul Fords wat geskei het, want 'n mens lees dikwels in die hofverslae van Ford vs Ford.
Die naam BMW word nie minder nie as 63 keer in één saak genoem. Dit het gehandel oor 'n swendelary met 'n huurkooptransaksie. Die (vir BMW) onvleiendste storie is die saak van 'n mnr Thomas teen die Suid-Afrikaanse vervaardiger van dié Beierse pronkmotor8. Dit is opgeteken in die 1996-hofverslae. Mnr Thomas het met sy luukse BMW 535i gery toe die spoedbeheer buite beheer raak en hy die motor nie tot stilstand kon bring nie. Daar was 'n ongeluk en hy het 'n eis van meer as R200 000 teen die Suid-Afrikaanse BMW-fabriek ingestel. Die Kaapse hof het – sover ek weet – nie beslis of BMW aanspreeklik was of nie; die saak wat voor die hof gedien het, het oor 'n interessante tegniese punt gehandel, naamlik of die hof in Kaapstad wel jurisdiksie gehad het om die saak te verhoor. Mnr Thomas se BMW het binne die jurisdiksie-gebied van die Kaapse hof aan 't hol gegaan, maar BMW se Suid-Afrikaanse hoofkantoor is in Gauteng. BMW het aangevoer dat die Kaapse hof nie jurisdiksie oor die saak gehad het nie. Hierdie punt is egter ten gunste van mnr Thomas beslis en my raaiskoot is dat BMW daarna met hom geskik het.
Toyota-liefhebbers hoef nie afgeskeep te voel nie. In Staat teen Adams9 lees ons: "In die Toyota het Carstens 'n drie-kwart vol bottel whisky gevind." Carstens was 'n polisieman en Adams is aangekla dat hy sy Toyota onder die invloed van drank – in dié geval whisky – bestuur het. Nie 'n goeie advertensie vir Toyota-bestuurders nie!
Nissan, en sy voorloper, Datsun, se naam word 205 maal in die hofverslae genoem; die ou Amerikaanse weeldemotor die De Soto 9 keer; die warmbloedige Italiaanse motor Alfa Romeo 32 keer, en dié van Land Rover 51 keer – laasgenoemde meestal in verband met sake waarby die polisie of die weermag betrokke was, asook hier en daar 'n saak oor 'n uitstappie in die natuur.
In die hofverslae lees ons 90 keer van Opels. Sekerlik die bekendse Opel-storie vind ons in Steyn teen LSA Motors10. Dit is 'n appèlhofuitspraak oor 'n amateur-gholfspeler wat aan 'n gholftoernooi deelgeneem het. By die 17de putjie is 'n Opel van LSA Motors wat indertyd R50 000 werd was, uitgestal. Daar was 'n uitnodiging aan gholfspelers om by daardie putjie te probeer om 'n volmaakte gelukskoot te speel – oftewel 'n "hole in one", soos dit in Engels bekend is. Die eerste ou wat dit op die betrokke dag kon regkry, sou met die Opel kon wegry. Al die beroepspelers wat aan die toernooi deelgeneem het, was onsuksesvol met hul probeerslae by daardie 17de putjie, maar ene Steyn, 'n amateurspeler, het wel met 'n volmaakte gelukskoot geslaag. LSA Motors het egter geweier om die Opel aan hom te oorhandig, want, het hulle aangevoer, die kompetisie vir die Opel was net oop vir beroepspelers. Ongelukkig vir mnr Steyn het die appèlhof met LSA Motors saamgestem, en pleks van 'n blinknuwe Opel het hy met 'n dik spul regskoste gesit.
Nog motor-stories volg in hierdie "motormaand", so aan die einde van 2012. In week 2 vertel ek van die ou wat sy Volkswagen-kewer dronk bestuur het (hét hy dit "bestuur”?). In week 3 vertel ek die verhaal van die swaaiende Austin Mini-stasiewa; en dan sluit ons die jaar af met die droewige verhaal van die begrafnisondernemer se Cadillac wat iewers in die Transkei gaan staan het.
1977(3) SA 462
31963(1) SA 415(O)
41985(2) 893(A)
5Vgl Holz v Harksen 1995(3) SA 521(C)
61971(1) SA 643(RA)
7Vgl Johnson v Jainodien & Another 1982(4) SA 599(C)
8Vgl Thomas v BMW South Africa (Pty) Ltd 1996(2) 106(C)
91983(2) SA 577(A)
10Vgl Steyn v LSA Motors Ltd 1994(1) SA 49(A)
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

