
Akkedis (Likkewaan): Die tweede keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Tweede verslag: Akkedis (Likkewaan)
Jy het die verhaal goed hersien. Ek dink die likkewaan pleks van die akkedis is sterker, ek wonder net of die likkewaan (wat as “allemintig” beskryf word – skrap dit liewer?) nie te groot is nie. As sy ’n akkedis agter in die hoek van die klas sien, kan dié maklik weggeglip het as sy weer kyk, maar nie ’n likkewaan nie, veral nie in ’n vertrek met min meubels nie. Plaas ’n lendelam ou kas in die hoek of ’n hoop bokse vol ou handboeke waaragter die likkewaan kan inglip?
Vervolgens ’n klompie dinge wat nog verfyn moet word, gemerk met onderstreping:
- die seuns storm dol agter dit aan – overstatement, skrap eerder.
- “Julle twee is dan nou mos al groot. Hou nou tog net op!” – hierdie twee sinne is goeie voorbeelde daarvan dat bywoorde meer in Afrikaans gebruik/opgestapel word as byvoeglike naamwoorde – drie of vier van laasgenoemde so opgestapel sal in die meeste kontekste heeltemal oordrewe klink (anders as wat die geval met Engels sal wees – daar word adjektiewe met gemak opgestapel). Maar selfs bywoorde kan oorgebruik word in geskrewe Afrikaans, daarom stel ek voor dat jy die onderstreeptes skrap.
- Die stof wat in die lug hang is smorend. – versmorend is die meer algemene woord.
- Ek proes dit uit. – sal ’n juffrou regtig water uitspoeg op die skoolterrein?
- waar daar net ’n stofvloer en stukkende vensters is. – die gebruiklike vorm is grondvloer.
- “Qooiiii”, antwoord die kinders ademloos. – nee, gits, ’n goeie skrywer soos jy moet wegbly van so ’n cliché.
- Hy glo dat ’n voorvader of God – maak dit een van die twee. Jy is die skrywer, jy weet/kies wat dit moet wees.
- Die man was ontsteld toe hy wakker word die volgende oggend. Hy besef dat sy vrou hom en sy kind liefgehad het.” - skrap die tweede reël, dis stating the obvious. Ek stel voor die eerste reël verander as volg: Die man hy het gehuil toe hy wakker word die volgende oggend. – dis dan die slotreël.
- Ek probeer om te glimlag en neem dit by haar. – dis baie onsimpatiek gestel, wys ’n bietjie deernis?
- van die vreemde tong – direkte vertaling van die Engelse tongue, dit moet taal wees.
- Lefu stamp vir Sehlolo op die grond. “Wat gaan hier aan! Lefu, hoekom het jy vir Sehlolo op die grond gestamp?” – onnodige herhaling, skrap die onderstreepte in die laaste reël.
- Sy stowwerige tone boor in die sand. – oi, weer ’n aardige cliché.
- Die sleepsels op die grond het die skrik aangeja – dis te veel van ’n buiteperspektief, beskryf dit direk vanuit die verteller se perspektief.
- Die hitte is krapperig – hitte kan nie krap nie, dit máák jou krapperig (geïrriteerd).
- Ek wil die volgende klein verandering aan die slot voorstel, dis net effens te abrup:
Reg voor my staan ’n kind. In sy hand ’n lem wat flits.
Agter in die klas lê ’n kind in ’n plas bloed.
Botshabelo stink na likkewaan en bloed.
• Lees die tweede weergawe: "Akkedis (Likkewaan)"
• Lees die eerste weergawe: "Akkedis (Likkewaan)"
• Lees die eerste keurverslag oor "Akkedis (Likkewaan)"
• Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

