Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd: Eerste keurverslag van "Akkedis"

  • 0

Akkedis: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


Jy het ’n goeie skryfstyl, vloeiend en helder soos water, sodat die leser maklik tot op die bodem van die storie kan sien. Die akkedis word puik as metafoor gebruik. Verder is die verhaal eg en oortuigend, met die onderbeklemtoonde slot as ’n sterk punt.

Daar is wel belangrike, fyn skaafwerk wat ’n mens aan die verhaal kan doen, maar dit kan oorstaan tot die tweede verslag.

Punte wat nou aandag moet kry:

· Dis belangrik dat jy so gou as moontlik vir die leser ’n aanduiding gee van die kinders se ouderdom en die graad waarin hulle is. Ek het vir die grootste deel van die storie gedink die kinders is taamlik klein, hier by graad 3 rond (omtrent nege jaar oud), aangesien hulle nog eenvoudige spelling en wiskunde leer en stokmannetjie-prente maak. Maar vir ’n kind om ’n ander kind én ’n grootmens met ’n mes aan te val, moet die aanvaller darem seker ten minste elf wees, eerder twaalf. Ouer kinders in die laer grade is natuurlik algemeen in voorheen benadeelde skole – die inligting oor hierdie klas se ouderdomme moet net terloops aan die leser oorgedra word.

  • Pasop vir té digte woordkonstruksies, byvoorbeeld: ryssak-sokkerbal – verduidelik vir die leser hoe hierdie sokkerbal van ryssakke gemaak is, hoe dit lyk, ens. Twaalfuur Afrika-somerson – om dit nou so uit te druk, hierdie is ’n tipiese wit manier van omgaan met Afrika, asof die verteller nie self in Afrika is nie. Bloedige stof – nee. Stoftone – stowwerige tone.
  • Bladsy 3: Só vertel Letlotlo haar storie in Sesotho (vul die regte taal in, ek het sommer Sesotho geraai). Rede vir die byvoeging: die storie word weergegee in netjiese Standaardafrikaans, maar ek twyfel of Letlotlo se Afrikaans só goed sal wees. Die implikasie is dus dat die juffrou Sesotho (of wat ook al) verstaan en die storie as’t ware vertaal vir die Afrikaanse leser – dan maak die goeie en korrekte Afrikaans sin. Die alternatief sou wees om die hele storie in “swart” Afrikaans te vertel (waarvan daar hier en daar tekens is – hou dit so), wat nie ’n aanvaarbare opsie is nie.

· Hantering van tyd: Bo-aan bladsy 3 het die verlede tyd (die verteller dink terug aan die gebeure) reeds oorgegaan na die historiese presens: Dit is Letlotlo se beurt. (Verander asseblief die vorige twee sinne ook na historiese presens – die konvensie is om so gou moontlik oor te slaan van die verlede tyd na die historiese presens.) Gebruik van die laaste paragraaf op bladsy 4 weer die historiese presens: Vir kuns vou ons ... tot die einde van die paragraaf (... klokkespel daaruit getoor).

  • Bladsy 6, middel: Die son bak net al warmer ... Hier moet aangetoon word dat ons terug is in die huidige tyd van die verhaal. Iets soos: Ek kyk op my horlosie. Pouse is amper verby. Die son bak net al warmer ...

Die woord “vies” word drie keer gebruik – die emosie is baie sterker, dit moet eerder “kwaad” wees vir die eerste twee en dan “geïrriteerd”.

 

Lees die eerste weergawe van Akkedis

Nuwe Stories 2014: Verhale en keurverslae

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top