![]() |
| Luka Dreyer |
![]() |
|
Nuwe Stories 3 Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn |
Nuwe Stories 3 is pas gepubliseer as eindresultaat van die Nuwe Stories-skryfkompetisie wat deur Human & Rousseau in samewerking met LitNet aangebied is. Al die kortlysverhale is op LitNet gepubliseer saam met die keurverslae deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Die skrywers kon skaaf aan hulle verhale terwyl lesers ook kon baat uit die wenke en raad. Die finale weergawe is opgeneem in Nuwe Stories 3. LitNet het aan die skrywers wat in die bundel opgeneem is 'n paar vrae gevra.
Wat was die inspirasie agter jou verhaal wat in Nuwe Stories 3 opgeneem is?
Ek het die verhaal so lank gelede geskryf (aanvanklik as 'n skoolopstel in graad 11 in 2012), maar ek onthou nog die hoofgedagte wat my geïnspireer het om dit te skryf. My suster, wat ook skryf, het vir my gesê dat sy vir 'n kompetisie 'n moordverhaal wil skryf. Maar 'n moordverhaal wat werklik iets om te sê het, nie net steun op spanning en naelbytoomblikke nie. Ons het toe begin gesels; sy't vir my haar idees vertel en ek het van my eie ook genoem. Ek weet nie of sy ooit die storie wat sy beplan het geskryf het nie, maar my idee het in my kop gebly en ek wou myself uitdaag met die doel van 'n moordstorie skryf wat oor meer as net die moord gaan.
Ná die aanvanklike keuring het jy die geleentheid gehad om die kortverhale persgereed te kry met die hulp van keurverslae en 'n werkswinkel. Hoe het jy hierdie proses vanjaar ervaar?
My verhaal het so baie verander in hierdie tydperk, en ek het werklik ander mense se raad en opinies gewaardeer. Wat wel moeilik was, was om te besluit watter opinies ek na sou luister, want soms verskil twee mense s'n so drasties van mekaar – elke een trek die storie in 'n ander rigting. Die werkswinkel was vir my 'n wonderlike ervaring. Dit is daar dat ek die kern van my storie en wat ek daarmee wil sê, eenhonderd persent begryp het. Ek is dankbaar aan Suzette vir al haar hulp by die werkswinkel. Sy het die ongelooflike vermoë gehad om presies raak te sien wat elkeen van ons met ons stories wou doen en sê. Sy was nie geïnteresseerd daarin om die aard van ons stories te verander nie, maar liewer om ons te help om so na as moontlik aan die kern van ons stories te kom en alles wat onnodig is, te los, sodat die suiwer doel van elke storie sou blootgestel word.
Wat is vir jou die moeilikste aspek as dit kom by die skryf van 'n kortverhaal?
Ek het nog nie genoeg kortverhale geskryf om onmiddellik aan iets te dink nie, maar wat ek altyd in gedagte hou, is dat elke deel van die storie saam moet werk in ondersteuning van die tema. Dus is dit soms vir my moeilik om te besluit watter aspekte van die verhaal onmisbaar is en watter op die ou end nie die suiwer tema of gedagte van die verhaal ondersteun nie.
Het die omgewing waar jy tans woon en werk, 'n invloed op jou skryfwerk of put jy inspirasie uit ander bronne?
My omgewing het nie 'n besonderse invloed op my Nuwe Stories 3-verhaal gehad nie, maar die natuur wat my omring in Hermanus (asook ander landskappe oor die land) het wel 'n invloed op ander stories wat ek skryf en nog wil skryf. Dit is ook nie die enigste bron nie; ek glo inspirasie kom van alles wat 'n mens beleef.
Wat is jou gunsteling-aanhaling deur 'n skrywer?
"My task which I am trying to achieve is, by the power of the written word to make you hear, to make you feel – it is, before all, to make you see. That – and no more, and it is everything. If I succeed, you shall find there according to your deserts: encouragement, consolation, fear, charm – all you demand – and, perhaps, also that glimpse of truth for which you have forgotten to ask." – Joseph Conrad
As daar een boek is wat jy wens jý het geskryf, wat sal dit wees?
Ek het al baie boeke gelees wat my laat dink het: "Dít is die tipe boek wat ek wil skryf," maar ten spyte van hoeveel ek 'n skrywer of boek bewonder, het ek nog nooit gewens dat ek daai boek geskryf het nie.
Wat lees jy op die oomblik en wat is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse boek wat die afgelope jaar of twee verskyn het?
Ek lees op die oomblik Esme Mittner, my ouma, se tweede roman: Daar's edelvrot in die wingerd. Ek dink nie ek het al 'n Suid-Afrikaanse boek gelees wat binne die laaste twee jare verskyn het nie (behalwe Nuwe Stories 3). Ek vind meer en meer Suid-Afrikaanse boeke wat my interesseer, maar sover is hulle maar almal ouer boeke. Die ouderdom van 'n boek maak nie vir my te veel saak nie.
Wat is jou skryfplanne vorentoe?
Ek gaan skryf elke slag wat ek kan en iets om te skryf het. Dit is definitief iets wat ek vir my hele lewe wil doen en ek hoop om nog in die toekoms my skryfwerk te publiseer. Ek gaan van nou af 'n oog oophou vir ander skryfkompetisies en geleenthede om my stories bloot te stel.
Lees die tweede weergawe van "Een in 'n miljoen"



