Nuwe Stories 2013-onderhoud: Jeanette Ferreira

  • 0

Hoe het jy begin (kortverhale) skryf – van waar die inspirasie? Wat was jou eerste gepubliseerde storie en waar het dié verskyn?

My eerste kortverhaal het in Die Transvaler verskyn, toe ek agt jaar oud was. Antieke tye, dus. Ek kan regtig nie sê waar die inspirasie vandaan gekom het nie. Woorde op papier was van kleins af my manier om uiting te gee aan idees en emosie. Eers in my dagboek (’n kladboek) met ’n Bic-pen), sedert ek kon skryf. Die dagboek het voor in die kladboek begin en die stories op die agterste bladsy. Op ’n stadium het dié twee genres mekaar iewers in die middel van die kladboek ontmoet.

Hoe sien die literêre landskap vandag daar uit wat kortverhale aanbetref? Wat het verander sedert jou dae as jong of aspirantskrywer?

Dit lyk asof die roman-in-schuifjes, of die sogenaamde kortverhaalroman, nou weer besonder gewild is. Dit is die ideale manier om met kort tekste ’n groter geheel te verweef, maar dit is uiteraard nie eenvoudig nie. Ek dink Afrikaanse skrywers het dit makliker gehad in die dae toe ek begin skryf het. Afrikaans is indertyd breër gebruik, wat publikasiemoontlikhede vergroot het. Die grootste probleem met jong skrywers vandag is vir my dat te veel van hulle duidelik nie ook lesers is nie – reuseverhaalspronge wat in flieks afgekyk word, te min vaardigheid wat karakterisering op papier betref. Mens moet ’n kunsvorm intiem ken en kan waardeer voor jy dit kan beoefen.

Hoe vergelyk die destydse publikasieproses met vandag se digitale omgewing?

Ek glo nie ons moet die digitale omgewing as ’n bedreiging vir die skryfkuns sien nie. Die verspreidingskanaal verander, maar die kuns leef voort. Wat wel verander, is dat meer skrywers hulle hand in die digitale wêreld aan selfpublikasie waag, omdat dit maklik geword het. Dit hou egter voordele sowel as nadele in. Die keurder- en redakteurshand wat saam met gedrukte boeke gaan, is nie ’n beletsel op skryfwerk nie, maar ’n beskermingsmeganisme en terselfdertyd ’n leerskool. Laat ek dadelik byvoeg: dit sal kortsigtig wees om alle digitale selfpublikasie as minderwaardig af te maak – so eenvoudig is dit nie. Daar is skrywers wat digitaal publiseer wat ’n natuurlike gawe het, maar so ’n mens word natuurlik nie elke dag gebore nie.

Wat is vir jou die kenmerkende eienskap(pe) wat kortverhale van ander skryfvorme onderskei?

Die vermoë om met volledige sinne ’n lang verhaal so kort as moontlik te vertel. Die vermoë om ’n karakter en dié se motivering met ’n paar kwashale te skets.

Wat is die beste skryfraad wat jy ooit ontvang het, of die grootste slaggat wat skrywers (van kortverhale) moet vermy?

Die beste skryfraad: Skryf is ’n harde, eensame werk. Dit vra sorg en tyd, kennis en verbeelding. Mens leer meer by jou kritici as by diegene wat jou lof toeswaai. Die grootste slaggat: Moenie dink jy kan skryf as jy nie kan lees nie.

Het jy enige mentors in die vorm van mens of boek (gehad)?

Bartho Smit en Piet Roodt het my waardevolle lesse geleer oor selfkritiek en die waarde van buitekritiek.

Wat is volgens jou die beste kortverhaal?

Een wat met drie duisend woorde ’n breukdeel van die menslike kondisie kan omvat.

Hoe lyk jou eie skryfroetine/skryfgebooie?

Daardie gesteelde tyd waarvan ’n vryskutredakteur min het. ’n Bekende omgewing. Stilte. Of musiek. Kerse. Om uitgelos te word. En die wete dat skoonheid in ’n nederige huis woon.

Klik hier vir Jeanette Ferreira se profiel in die ATKV-Skrywersalbum.

Klik hier vir nog inligting oor die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2013.

Klik hier vir die kortlys.
 




Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top