Nuwe boeke by LAPA Uitgewers hierdie Oktober

  • 0

Klik op boekomslag en bestel hierdie boeke nou by Kalahari.net!


Driehoek
Sophia Kapp
ISBN: 9780799361476
Prys: R215

Driehoek is Tessa se verhaal. Tien jaar het verloop nadat ons Tessa in Die verhuising leer ken het. Sy is nou 32, ? vryskutjoernalis in Johannesburg en swanger by ? man wat nooit vir haar vertel het hy is nog getroud nie. Vir die eerste keer in haar lewe is Tessa in ? hoek waaruit niks haar kan help nie. Dit is eers as sy in dieselfde rehabilitasiesentrum beland as waar Danelle se ma was, dat sy besef hoe verskriklik sy as mens gefaal het.

Maar Driehoek is ook Amanda se storie – die ander vrou in die liefdesdriehoek. Ten spyte van Tessa se pogings om die verhouding stil te hou, vind Amanda uit dat haar man haar verneuk het, en sy moet toekyk hoe die gesin waarom haar hele lewe gewentel het, uitmekaar val. Sy probeer vergewe en vergeet, maar dit help nie – haar man het ? mens geword wat sy nie ken nie en wat sy nie meer in haar lewe wil hê nie. Uiteindelik is haar woede en wrokkigheid oor sy verraad so erg dat sy nie net haar huwelik vernietig nie, maar haar kinders – en haarself – in die proses skade berokken.

In die ander hoek staan Hertzog van der Walt, Amanda se broer en ? professor in teologie op Potchefstroom. Hy is die een wat moet toekyk hoe sy suster en haar dogters swaarkry. Tessa is ? doring in sy vlees. Sy is in elke moontlike opsig die teenoorgestelde van wat hy in ? vrou bewonder, maar dit keer nie dat hy van haar bewus is nie – verskriklik bewus is nie – en elke onderonsie wat hy met haar het, versterk die bewustheid honderdvoudig. Uiteindelik moet hy erken dat hy, ten spyte van homself, op haar verlief geraak het. Om hierdie emosies te verwerk, moet hy net so veel groei toon as Tessa.

Driehoek is geen ? konvensionele liefdesroman nie. Dit stel besondere eise aan die hoofkarakters en die leser, en daar is nêrens ? maklike oplossing nie, maar vir almal wat bereid is om hulle bagasie, hulle vooroordeel en hulle voorbehoude neer te lê, is daar ? tweede kans en ? geleentheid om ten volle te mag liefhê.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Driehoek nou van Kalahari.com!

 


Ek het gemartel
Elaine Bing
ISBN: 9780799360141
Prys: R190

Daar het ek gesien, 'n tjoeb werk nie so goed soos ’n Pick n Pay-sak nie. 'n Tjoeb werk goed, maar daai plastieksak is nog beter, want hy luister heeltyd terwyl jy met hom praat en hy praat al hoe minder, waar met ’n tjoeb is dit: Onmiddelik is sy suurstof is afgesny. Met 'n plastieksak kry hy nog ... hy kan asemhaal, hy kan asemhaal tot op 'n punt, dan kan hy nie. Dit is stadiger, maar dit werk beter. Ons het begin om te spesialiseer. Met 'n tjoeb het ek geweet, as hy homself natmaak, dan moet jy ophou, want dan is hy tot op sy ...

Skokkende verklarings wat mens in afgryse laat terugdeins. Watter soort mens sê en doen sulke dinge? Hoe sou hy lyk? Wat is sy agtergrond? Is hy ernstig mishandel as kind? Het iets wat hy ervaar het veroorsaak dat hy hierdie dinge gedoen het?

Hierdie boek, gebaseer op die outeur se doktorale tesis, is ongewoon en nog nooit voorheen gedokumenteer. Drie polisiemanne vertel met afgryse wat hulle gedurende die apartheidsjare gedoen het. Hulle probeer nie om hul skuld aan die gebeure te ontken nie en het ook 'n reuse-risiko geloop deur hul stories te vertel.

Hulle verduidelik hoe hulle betrokke geraak het, wat hulle gedoen het, die effek wat dit op hulle gehad het, en watter aanpassings hulle moes maak nadat hulle opgehou het om mense te martel. Die boek bied ook agtergrondinligting oor posttraumatiese versteurings waaraan hierdie mans ly asook die politieke omgewing waarin die polisie van die apartheidsera gewerk het.

 

 

Gerook
Eldridge Jason
ISBN: 9780799362145
Prys: R110

Cobie het lank uitgesien na die Desember-skoolvakansie. Om ’n paar weke by sy ouma op Vaalberg te kom bly, was egter beslis nie deel van sy vakansieplanne nie. Maar dié Weskusdorpie is nie heeltemal so vaal en vervelig soos sy naam sê nie ...

Is dit sy verbeelding, of hou iemand hom dop?
Wie is die geheimsinnige Lady Zee wat hom skielik op Mxit kontak?
En is dit waar dat Vaalberg saans ná sononder in ’n gevaarlike tik-nes verander?

Hierdie opwindende, spannende jeugroman stel die leser bekend aan ’n skemerwêreld van dwelms en tienergevare waaroor daar nog baie min in Afrikaans geskryf is.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Gerook nou van Kalahari.com!

Vallei van melk en heuning
Riana Scheepers
ISBN:
 9780799360318
Prys: R375

 

Reuben Riffel het op ’n dag vir Riana Scheepers gesê: “Om só te kan kook, is hemels”. Dit nadat sy vir hom die bestanddele vir die dag se ete uitgepak het: Spinasieblare, tamaties, eiervrugte, appelliefies, vye, kruie, ‘n mandjie skarreleiers, ’n skaapboud uit die Tankwa Karoo, ’n bottel rooiwyn.

Alles het gekom uit haar tuin, haar kelder, haar weiland.

Riana Scheepers is ’n skrywer wat dit nog altyd dit reggekry het om harte te verower: met haar literêre trefferverhale, kontreistories, spookstories en lagstories het sy rekordverkope gehad en die mensdom aan die lees en aan die lag gekry. Sy doen dit nou weer, maar hierdie keer loop die pad na haar lesers se hart deur die maag.

Vallei van melk en heuning is ’n unieke kookboek, want dit is nie net die byeenbring van ’n opwindende versameling resepte uit haar kombuis en kontrei nie. Dit is ’n kuierboek, ’n geselsboek, ’n organiese leefstylboek, maar veral ’n boek wat spreek van die oorvloed van eenvoud. “Ek het grootgeword met die wete dat niks verlore mag gaan nie. Daarom maak ek kos uit die oorvloed van wat my tuin en ons vrugbare vallei my bied, hierdie vallei van melk en heuning.”

Met haar kenmerkende sprankelende skryfstyl beskryf die skrywer die uitdagings, en die opwinding van die plaaskombuis. Sy neem die leser deur die seisoene van ’n Bolandse wynplaas. Van somer, die juweelseisoen van oorvloed; na herfs, die seisoen van welbehae; na die fluweelseisoen van winter, en die vonkelseisoen van lente. Die resepte is alles gebaseer op dit wat seisoenaal beskikbaar is en die groot verskeidenheid van dinge wat gedoen kan word wanneer daar ’n oorvloed van produkte is. “As jy een vyeboom het, dan het jy nie vier vye nie, dan het jy duisende!”

Van die resepte is letterlik eeue oud, soos haar familieresep vir doekpoeding, die Middeleeuse resep vir gestoofde pere met moerbeie en gode rede wyne (good red wine) en !Xhomvleis (fynvleis uit die jagtersveld). Ander geregte, weer, is splinternuut, soos die tiramisu-koketkoekies, suurlemoenverbena-sap en springbokfilet wat in fyn biltong gerol en gerooster word. Deurgaans is dit duidelik dat hierdie boervrou se hande vir niks verkeerd staan nie; nie as die jagter se vrou wat ’n springbokboud ontbeen, vul en rol nie, en ook nie as die gasvrou op ‘n wynplaas wat buitelandse gaste moet onthaal nie.

Die uitmuntende stilering en fotografie van Vallei van melk en heuning is alles op die plaas De Compagnie en met die skrywer se persoonlike breekware en huisinhoud gedoen. Die eindresultaat is ’n boek wat nie net in die kombuis ‘n plek gaan kry nie, maar ook in die voorhuis op die koffietafel.

Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur 11 gedeel kan word
Jaco Jacobs
ISBN:
 9780799362404
Prys: R110

Martin Retief se hele lewe verander toe sy pa een middag stilhou om aandete te koop. Maar dan ontmoet Martin vir Drikus. Drikus wat aan ’n siekte ly en sy eie zombiefliek wil maak. Wat volg is ’n avontuur vol skouhoenders, skelms, mooi meisies, wiskunde, kammabloed en zombies.

Dié teks is een van Jaco Jacobs se donkerste boeke nog, maar dan ook een van die beste. Oud en jonk sal die genotvolle boek met die geweldige lang titel kan geniet.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur 11 gedeel kan word nou van Kalahari.com!

Seisoen van vervulling
Alta Cloete
ISBN:
 9780799361544
Prys: R195

Seisoen van vervulling is die derde boek in Alta Cloete se Seisoen-reeks. Die verhaal speel gedeeltelik in die Noorweegse winter en gedeeltelik in die hitte van ? Bolandse somer af. Die hoofkarakters, Ben en Emily, is beide sterk persoonlikhede, gevestig in hul onderskeie beroepe en wroeg nie oor dinge waaraan hulle niks kan doen nie.

Wanneer hulle mekaar egter in Noorweë vir Wim en Amanda, die hoofkarakters in die voorafgaande Seisoen van vergifnis, se troue ontmoet, is die vonk van ? dekade gelede weer daar. Albei is onwillig om in ? verhouding betrokke te raak, maar laat hulself tog betrek in ? vakansieromanse. Daarby is hulle nie heeltemal eerlik met mekaar nie.

Die gevolg is dat Emily teen wil en dank vir Ben bystaan toe sy agterkom hy moet behandeling ondergaan vir testikelkanker, wat hy as ? geweldige verleentheid ervaar (want mans práát gewoon nie oor sulke goed nie), en dat ? baie onwillige Ben later in Suid-Afrika by sy naderende vaderskap probeer aanpas.

Die verhaal volg egter nie die ooglopende en maklike pad waar Ben bloot lief raak vir Emily en besluit hy wil eintlik die baba hê nie. Nee, die karakters moet saam die verlies van die baba wat hulle met vrees en later met vreugde ingewag het, hanteer en juis hierin lê die persoonlike groei wat hulle tot nuwe deernis en volwassenheid bring.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Seisoen van vervulling nou van Kalahari.com!

 

Spoorvat
Riana Scheepers en Leti Kleyn
ISBN: 9780799360318
Prys: R185

As skrywers het hulle reeds naam gemaak; hulle het literêre pryse gewen, die harte van lesers verower en het diep spore getrap in die Afrikaanse kultuurwêreld. Vir die publiek is hulle openbare figure wat leesgenot verskaf, maar wat van hulle intiemste, mooiste of soms selfs pynlikste jeugherinneringe? Was hulle as kinders reeds sensitiewe waarnemers en kunstenaars in wording? Is daar iets van hierdie jongmensherinneringe wat later sou neerslag vind in hulle werk?

Riana Scheepers en Leti Kleyn (samestellers van die trefferboek Die Afrikaanse Skryfgids) het skrywers gevra om hul kinder- of jeugervarings te woord te stel. Daar was geen beperkings of voorskrifte nie, maar slegs gepubliseerde skrywers is om bydraes gevra.

Die resultaat is ’n unieke bloemlesing waarin 36 skrywers se herinneringe opgeneem is. Die titel is Spoorvat. Saam-saam volg ons die spoor terug na die verlede; ’n verlede wat net so kleurvol, vrolik, hartseer, innig en uiteenlopend is soos die mense van hierdie land. Party verhale laat jou uit die maag uit lag – soos die keer toe ’n sesjarige Louis Esterhuizen ’n biduur tot stilstand geruk het met ’n gebed waarin hy bieg dat hy kwansuis oor die tou sou getrap het daardie dag. Zandra Bezuidenhout se gestroopte waarneming van ’n buitekamer laat jou weer met ’n knop in die keel. Clinton V. du Plessis onthou die maanlanding. Jaco Jacobs verduidelik waar hy geleer het om dat stories hulle eie loop te laat neem, Dana Snyman probeer generasieverskille oorbrug en Ingrid Winterbach vang ’n herinngering in amber vas. Daar is 30 ander wat nog nie eens genoem is nie.

Spoorvat is ’n belangrike werk, nie net oor die voortreflike tekste van skrywers wat reeds hul kleim afgesteek het nie, maar ook omdat dit terselfdertyd ook unieke outobiografiese sketse is. Die leser kry ‘n intieme en eerlike blik op die leefwêreld van ’n jong kind wat later in sy/haar lewe groot hoogtes bereik het.

Klik hier en koop jou eksemplaar van Spoorvat nou van Kalahari.com!

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top