N is vir Neurose: ’n swart komedie oor die sogenoemde "quarter-life crisis"

  • 0

Hallo Roeline, dankie vir die geleentheid tot gesprek. Heel eerste: vertel my van N is vir Neurose.

N is vir Neurose is ’n swart komedie wat losweg oor die sogenaamde quarter-life crisis handel. Dit open met drie beste vriendinne by die een se kombuistee. Hulle maak geskenke oop, drink sjampanje en praat nonsens, maar iets is nie lekker nie. Namate die drank sterker vloei en ’n buitestander ook die binnekring betree, verloor hulle alle inhibisies.

Die geselskap is almal tussen 24 en 27, so daar is ’n goeie skeut van ons eie ervarings en vrese daarin. Ons het lang gesprekke gehad oor ons eie issues, situasies waarin ons al was en kitchen teas en dinner parties wat ons al bygewoon het. Die vriende wat al die teks onder oë gehad het, het elke paar reëls bevestig: "Hel, dit klink net soos so-en-so" en "Ek worry ook altyd oor dit en dat!"

Wie het die stuk geskryf en hoe het julle almal saam daarby betrokke geraak?

Ons wou eintlik aanvanklik ’n bekende Amerikaanse komedie vertaal en verwerk, maar die regte en al daardie administrasie het onnodig gekompliseerd geraak. Ek en die skrywer-regisseur, Christiaan Olwagen, het toe ’n afspraak met Saartjie Botha, dramakoördineerder van die Woordfees, gehad, waarin sy ons aangemoedig het om eerder ’n nuutgeskrewe teks te skep. Christiaan het reeds ongelooflike werk gedoen met die verwerking van stukke soos Romeo en Juliet, Hamlet, Die huis van Bernarda Alba en Woza Albert, dat ons die volste vertroue in hom gehad het. Die res van die geselskap is Hannah Borthwick, Mariechen Vosloo en Wessel Pretorius.

Ons is almal oudstudente van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement wat intussen Kaapstad toe getrek het. Ons is vriende wat gereeld kuier (ek en Hannah is selfs woonstelmaats) en mekaar se werk ondersteun. Ons reken toe ons kan net sowel ’n projek saam aanpak. Almal dra dieselfde finansiële risiko en alle take, van rekwisiete opspoor tot bemarking doen tot plakkate opsit, word gelyk verdeel. Ons doen dit onder die vaandel van ’n teaterkollektief genaamd Polony, wat ook twee ander stukke by die Woordfees aanbied, naamlik Ont- en Sister Mary Ignatius Explains It All for You.

As ek die opsomming van julle stuk so kyk, lyk dit vir my ook N is vir Woody Allen – is ek reg? Spreek julle die soort temas aan wat mens in ’n fliek uit sy pen kan verwag, of maak ek te ’n groot interpretasiesprong hier?

Goeiste, nog glad nie so daaraan gedink nie, maar dalk effens! Die neurose is natuurlik ’n raakpunt ... En sy films gaan tog by uitstek oor verhoudings - met familie, met vriende, en romantiese verhoudings - en dit doen ons beslis. Daar is tematies natuurlik ’n bietjie Bridesmaids en stilisties dalk ook ’n bietjie Modern Family.

Gaan mense meer lag of meer huil as hulle die stuk kyk? Of dink, of kwaad of mismoedig wees? Watter soort reaksie probeer julle uitlok? Of is dit nie waaroor dit vir julle gaan nie?

Dit is ons eksplisiete missie om relevante teater vir jonger teatergehore te maak en ek hoop ons kry dit reg om daar ’n snaar te tref. Dit is natuurlik nie te sê dat ouer gehore nie ook behoort te kom nie - dalk bied dit ’n blik op ons generasie wat al soveel keer gelabel is. ’n Eienskap van al Christiaan se vorige werk is sy vermoë om terselfdertyd glad nie high-brow of ontoeganklik te wees nie, maar ook bietjie stof tot nadenke te bied. Alhoewel ons worstel met komplekse kwessies rondom grootword en verantwoordelikheid en lewensveranderende besluite, is daar beslis pret ook. En ’n lekker bietjie popkultuur rondom nostalgie vir die ’90's waarin ons grootgeword het: die dae van Egoli, Moomin en Spice Girls. Ek hoop nie dit sal enigiemand mismoedig laat nie! Ek dink die gevoel van solidariteit met ’n generasie is nogal vertroostend.

Na watter items sien jy persoonlik uit om by die Woordfees by te woon?

Op my feeslysie is Thom Pain (based on nothing), Sister Mary Ignatius Explains It All for You, Ou Blare (my ma, Elsabé Daneel, speel daarin ...) en die feeskunstenaar Paul Emsley se tentoonstelling. Ek wens ek kon ’n Lewe in die teater sien, maar my skedule gaan my ongelukkig nie toelaat nie. Stukke wat ek reeds gesien het en beslis sal aanbeveel, is Die rebellie van Lafras Verwey en Ont-.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top