Is jy 'n Afrikaans-onderwyser? Klasgids is een van die ATKV se hulpmiddels vir onderwysers. Hoe kan dit jou lewe makliker maak?
Naomi Meyer het by Naomi von Branden, ATKV se bestuurder: Taalprojekte, gaan vasstel.
Hallo Naomi, onderwysers sukkel om nuut en vars vir hul klasse voor te berei. Wat is die ATKV se Klasgids en wat is die doel hiervan?
Klasgids is ’n inisiatief van die ATKV in samewerking met sy uitgewer, LAPA. Hierdie publikasie vier in 2015 sy 50ste verjaardag. Na soveel jare is dit steeds die Afrikaans-onderwyser se regterhand in die klaskamer. Ons wil reeds in 2014 Klasgids ’n paar “ontrimpelings en ander verslankingsprosedures” laat ondergaan.
Dus, in 2014 verskyn daar jaarliks vier uitgawes - een per kwartaal - vir elk van die hoërskole en die laerskole. Elke vlak se behoeftes word so ver moontlik deur absolute deskundiges op die verskillende gebiede behandel.
In Klasgids word onderwerpe soos die volgende streng volgens die NKABV bespreek:
- Leesbegrip
- Skryf en aanbied
- Luister en praat
- Assessering
- Lees en kyk
- Taalspeletjies
- Wenke van vakadviseurs, ens.
Bydraes oor alle fasette van Afrikaans-onderrig word deur gesoute onderwysers ingestuur, waarna die redaksionele komitee dit assesseer en redigeer. Die uitnodiging is steeds oop vir alle onderwysers om enigiets van waarde wat hulle graag met ander onderwysers via Klasgids wil deel, in te stuur. Die adres en verantwoordelike persone word op die aangehegte vorm aangedui.
Maar moet onderwysers nie by ’n spesifieke leerplan hou wat die skool voorskryf nie? Sluit Klasgids se inhoud hierby aan, of is die materiaal hier iets heeltemal anders, amper aanvullend?
Die inhoud van Klasgids is geheel en al op die huidige kurrikulum (NKABV) gebaseer. Enige onderwerp of inhoud wat in Klasgids bespreek word, is dus so ter sake soos mielies vir ’n hoender.
Vir watter klasse (ouderdom kinders) is Klasgids bedoel?
In Januarie 2014 het twee uitgawes van Klasgids die lig gesien: een vir die laerskool en een vir die hoërskool, elk met presies die nodige inhoud soos deur sy verbruikers verlang.
Watter vakrigtings word deur Klasgids gedek?
Op die oomblik word slegs aan die onderrig van Afrikaans in die klaskamer aandag geskenk.
Alles het in die onderwys verander. Bied alle skole nog Afrikaans as vak aan? Hoeveel skole kan dus by Klasgids baat vind?
Afrikaans se gô is nog lank nie uit by skole nie! Afrikaans word definitief nog by baie skole aangebied, hetsy op huistaal-, eerste addisionele of tweede addisionele vlak. Dis verbasend hoe gewild hierdie vak weer word, veral onder die tradisioneel niemoedertaalsprekers.
Klasgids verskyn in Januarie, April, Julie en Oktober. Kan Klasgids help om leerplanne vir die jaar saam te stel, of dalk ook idees gee vir toetse en eksamenvraestelle?
Klasgids is ’n inisiatief vir die onderwyser, deur die onderwyser. Kundiges span saam om van hierdie tydskrif ’n absoluut onontbeerlike hulpmiddel in die klas te maak. Gelukkig dek die NKABV die leerplanne, maar as dit kom by idees vir die aanbieding van die verskillende onderafdelings, soos toetse, begripstoetse, opsommings, taalleer, ens, is Klasgids ’n baie goeie naslaanbron.
Hoe lyk die Afrikaans-uitslae van die klas van 2013 en hoe beïnvloed dit Klasgids se doelwitte?
Ongelukkig is die individuele uitslae per skool of distrik of provinsie nog nie aan jan alleman bekend nie, maar ek kan skat dat die slaagpersentasie, nes al die vorige jare, in die omgewing van 90–95% is. Afrikaans het nog altyd ’n baie goeie (en hoë) slaagsyfer gehad. ’n Mens kan dus sê dat Klasgids definitief ’n bydrae tot die goeie uitslae lewer aan diegene wat daarvan gebruik maak.
Sal jy asseblief vir my ’n voorbeeld stuur van iets prakties wat in Klasgids verskyn – sodat onderwysers kan sien hoe julle te werk gaan?
Ek heg ’n voorbeeld aan van die inhoudsopgawes van die twee nuutste Klasgids-uitgawes (Januarie) vir laerskool en hoërskool.
Hoe maak onderwysers om Klasgids in die hande te kry? Kan die skool dit vir hulle aankoop, of teken hul privaat hierop in? Waar word dit dan afgelewer?
Ek heg ook ’n intekenvorm vir Klasgids aan. Onderwysers moet vry voel om enige tyd hulle bestelling te plaas. Ons nooi almal graag uit om deel van hierdie unieke taalhulpmiddel te word. Die ATKV wil graag op hierdie wyse die onderrig van Afrikaans op skool vir nog minstens vyftig jaar ondersteun! Klasgids kan deur enigeen aangekoop word, hetsy dit ’n skool, onderwyser of persoon in sy/haar private hoedanigheid is. Selfs ouers wat tuisonderrig aanbied, koop ook Klasgids aan. Klasgids word aan elke intekenaar gepos. Indien enige probleme in hierdie verband ondervind word, moet Eunice Scharnick so gou as moontlik gekontak word, sodat sy die probleem kan oplos (faks 011 919 9129; e-pos: EuniceS@atkv.org.za; of telefonies 011 919 9018).
Het julle enige idees om Klasgids uit te brei sodat dit vir nog meer vakke beskikbaar en tot hulp kan wees – mits dit Afrikaanstalig is?
Op die oomblik? Nee, ek glo nie so nie. Ons het vanjaar vir die eerste keer die hoërskool-inhoud van die laerskool-inhoud geskei deur twee aparte Klasgidse uit te gee. Ons sal hierdie inisiatief eers graag stewig wil vestig voordat ons nuwe waters sal wil invaar. Maar dan word ons ook absoluut gelei deur die behoeftes van die onderwysers en die leerders. Niks word dus nou op hierdie stadium heeltemal afgeskiet nie. Ons mag dalk ons vlerke iewers in die toekoms nog verder sprei.
Laai die inskrywingsvorm vir Klasgids hier af.
Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


Kommentaar
Sal lekker wees om interessante stories en idees te kry.
Ek wil graag uitvind wat is die koste van die klasgids?
Hallo Chrisna, hier is nog besonderhede omtrent LAPA se klasgidse: https://www.lapa.co.za/klaskamerhulp/klasgids. Groete, Naomi Meyer, LitNet: inhoudsbestuurder
Ek gee onderrig vir Gr 6, Afrikaans tweede en selfs derde taal. Ons woon in Ballito, KZN. Dis regtig n Engelse kolonie en die leerders se Afrikaans is uiters swak. Sal bg. tydskrif my kan help? Enige stories waarvan hulle sal hou? Ek het Saartjie en Trompie boeke, maar dit werk glad nie.
Hallo Hannelie, hier is nog besonderhede oor LAPA se Klasgids: https://www.lapa.co.za/klaskamerhulp/klasgids. Op LitNet is die volgende afdeling vir skole en hier is ook hersieningsmateriaal: https://www.litnet.co.za/category/akademies/skole/. Persoonlike opmerking: Ken jy die boeke van Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo? Google hierdie skrywers se name en kry hul boeke vir jou leerders in die hande. Groete, Naomi Meyer