MK is ... die naam van ’n Prestige Pendoring

  • 0

MK is ... was ’n advertensieveldtog wat sosiale media aangewend het om die lewens van ’n paar jongmense uit te beeld. Hierdie mense het die produk MK (die musiekkanaal op DStv) verpersoonlik. Die advertensie is deur Ogilvy Johannesburg gekonseptualiseer en het by 2012 se Pendoring-toekennings die Prestige Pendoring ontvang.

Mariana O’Kelly van Ogilvy Johannesburg was die skeppende direkteur van die MK is ...-advertensieveldtog. Sy het met Naomi Meyer oor die wen-advertensie en oor die reklamewêreld gesels.

Hallo Mariana, en baie geluk met jul Prestige Pendoring. Hoe belangrik is dit vir julle om erkenning te kry in die Afrikaanse reklamewêreld? Was hierdie advertensieveldtog van julle ook by die Loeries benoem? 

Mens is altyd dankbaar vir enige erkenning vir ’n veldtog wat mens jou hart en siel in ingesit het. Wat dit besonders maak in hierdie geval, is dat MK as Afrikaanse musiekkanaal geloods was ‘n hele paar jaar gelede, en alhoewel ons die teikenmark wou uitbrei met hierdie veldtog oor taal- en kultuurgrense heen, was dit belangrik om steeds spesifiek die Afrikaanse jeug te oortuig dat MK net so cool is soos al die internasionale kanale waarmee ons kompeteer en dat Afrikaans ’n taal is waarin jy steeds kan rock.

Ja, ons het erkenning gekry by die Loeries ook. Ons het goud gewen in die “TV Trailers, Channel and Station Promos”-kategorie, silwer in die "Digital and Mixed-media Campaign”-kategorie, en brons in die "Integrated Campaign”-kategorie.

Hoe is hierdie advertensie gekonseptualiseer? Waar het die idee van MK is ... ontstaan? 

Dit was belangrik vir ons gewees dat die teikenmark met MK kon identifiseer en dat ons die kanaal nie te veel wou “boks” nie – after all, dis rock ‘n roll wat ons verkoop.

Ons het besef dat die jeug, of "Facebook generation", ook nie hulself boks nie en in een dag verskillende identiteite kan aanneem met hulle “status updates”. Ons het besluit om die kanaal te verpersoonlik – nie rêrig ’n nuwe idee nie, maar wat ons gedoen het wat anders was, was om MK in “real time” oor vyf verskillende kommunikasie-platforms te laat bestaan. Deur die loop van die 60-dae-veldtog was geen stories ooit twee keer herhaal nie. 

Elke dag het begin met ’n “status update” van MK wat op die MK-kanaal gespeel het. Op dieselfde tyd kon jy na MK se persoonlike blog, Facebook of twitter gaan en al die agtergrondstories lees, asof MK rêrig bestaan. MK het vrae beantwoord op sy Facebook, terug-getweet en in gesprekke betrokke geraak met nuwe vriende wat enigiets onder die son bespreek het. Op hierdie manier het MK deel geword van die teikenmark. 

Ons het 22 nuwe bands se musiek geïntegreer met al die MK-stories en het dit op hierdie manier aan ons mark bekend gestel. Aan die einde van die veldtog het van hierdie bands live gespeel by die MK pop-up bar en kon hulle lewend in aksie gesien word.

By die Pendoring-toekennings het dit vir my gevoel of advertensies deesdae probeer om sosiale kommentaar te lewer. Soms lyk dit of dit vir die mense wat die advertensies maak, meer gaan oor die gehoor se reaksie – gaan hulle geroer wees, gaan hulle lag? - as wat dit handel oor die Groot Idee, waarvan die oorspronklike Ogilvy, na wie die advertensiegroep vernoem is, gepraat het. Watter soort advertensies verkoop produkte in hierdie land? En is daar ’n goeie skeut geluk ook nodig as mens wil hê ’n advertensie moet mense iets laat koop (of op ’n idee inkoop)?

Ek glo wel dat kommunikasie moet aanpas by die mark met wie dit praat en dat die werk baie keer die mark reflekteer, maar as jy die produk verloor in die kommunikasie, weet ek nie hoe doeltreffend dit ooit kan wees nie. Ons moet seker maak ons praat duidelik sonder om onsself te ernstig op te neem. Dit is ’n fyn balans wat altyd gehandhaaf moet word, omdat jou mark jóú kies. Jy moet net sorg dat jy relevant en interessant genoeg is en bly wees dat hulle dit wel doen. En as hulle jou gekies het, sorg dat jy ’n verskil in hulle lewe maak en dat jy dit kan bied wat die kompetisie nie kan bied nie. Mens moet lojaliteit nooit as vanselfsprekend aanvaar nie, maar elke dag nuwe maniere soek om relevant te bly.

Nico Nel, kykNET, MK & Koowee se Waarnemende Bemarkings- & Publisiteitsbestuurder, vertel wat die toekenning vir dié kanale beteken.

"Dit is vir MK geweldig belangrik om dié jaar bekroon te word met ’n Pendoring-toekenning, veral vir ‘n digitale projek so uniek en verfrissend soos MK is …

Omrede ons MK-kykers altyd die eerste mense is wat nuwe tegnologie en die nuutste internetvermaak identifiseer, is dit vir ons bitter noodsaaklik om nuwe en innoverende projekte aan te pak en aan ons kykers te bied met die hulp van een van SA se mees merkwaardige agenskappe, naamlik Ogilvy."

Kyk na foto’s van die Pendorings se gala-aand van wenners.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top