MH17: 'n Blikkie Coke in Afrika

  • 2
Bettina Wyngaard

Maak nie saak hoe tegnologies gevorderd ons samelewing word nie, in sommige opsigte is ons maar een klein treetjie verwyderd van ons voorouers wat deur mitologie en die vertel van simboliese verhale probeer sin maak het van die wêreld en gebeure om hulle.

Ons is doodbang vir wat ons nie verstaan nie, vir dit wat anders as ons is. Ons praat van die “global village” om te spog met ons gevorderde tegnologie, maar terselfdertyd is dit ook ’n kopknik na ons interconnectedness as ’n spesie. En nêrens word daai interconnectedness vinniger tuisgebring as wanneer ons ’n ramp belewe wat oor landsgrense en kulture en tale en gelowe heen tref. En telkens is dieselfde tegnologie waarmee ons spog, sentraal aan die ramp.

Die afgelope week het ons hope geleentheid gehad om ons global village weer onder die fynkam te plaas. Die Maleisiese vlug MH17 was skaars afgeskiet, of Israeliese troepe bombardeer ’n hospitaal in Gaza. Dit laat die skermutseling van onske Julius en kie in die Gautengse parlement soos kinderspeletjies lyk.

Die nuus dat vlug MH17 afgeskiet is, het beswaarlik ons televisies bereik, of die stories om sin te maak, om te troos, om te verseker, en om te verwar begin. Dis missiele. Dis ’n bom. Dis die Russe. Dis Oekraïnse rebelle. Nee, dis die Amerikaners wat weer ’n oorlog probeer ontlok. Daar was 100 Vigs-aktiviste aan boord. Nee, ons kan net ses prominentes bevestig.

Op MH17 was daar 297 stories. Sommige van daai stories was maar nog op die eerste paragraaf, ander het einde se kant toe begin staan. Elkeen, sonder uitsondering, se storie was waardevol, maar die meeste daarvan sal ons seker nooit hoor nie. Hulle was nie prominent genoeg, of bekend genoeg, of berug genoeg nie. Soms word die storie die beste vertel met ’n foto van ’n babalykie wat eenkant in die Oekraïnse veld lê, weggeslinger van sy ouers.

Op daai vlug was daar twee stories wat ek wil uitlig, omdat hulle stories nie net nou verweef is met ons in Afrika, en meer spesifiek, Suid-Afrika, nie, maar omdat hulle stories sprekende voorbeelde is van global interconnectedness. Dis die stories van Joep Lange en Lucie van Mens, twee Vigs-aktiviste.

Hulle was verreweg nie die enigste aktiviste op die vlug nie. Aanvanklike berigte het die getal aktiviste en navorsers op 107 geplaas; later was dit 100. Die International Aids Society (IAS) na wie se konferensie beide Lange en Van Mens op pad was, kon net bevestig dat ses “prominente” leiers in die veld oorlede is, terwyl daar moontlik nog meer aktiviste aan boord was. Watter indictment is ons geneigheid om net die prominentes te onthou en uit te sonder.

Joep Lange het in Soweto deurbraak gemaak met die gebruik van bekostigbare ARV’s wat moeder-na-kind-transmissie voorkom. Hy was een van die eerstes wat begin werk het aan die antigen-toets, wat die vroeë aanduider van MIV-teenliggame in die bloed is. Hy was, tesame met Kanadese navorsers, aan die voorpunt van navorsing wat gelei het tot die ontwikkeling van die sogenaamde triple cocktail, die kombinasie van pille waarop die oorgrote meerderheid van MIV+-persone vandag nog leef. Sy werk het van ’n gewisse doodvonnis ’n hanteerbare, chroniese siektetoestand gemaak. Hy was egter nie net ’n navorser nie. Hy was ook ’n aktivis wat farmaseutiese maatskappye kaalhande gepak het wanneer hulle minder effektiewe, meer winsgewende medikasie op mense probeer afsmeer het. Hy’t geveg daarvoor dat medikasie bekostigbaar vir elkeen moet wees. “If we can get a cold can of Coke to any part of Africa, we can certainly deliver Aids treatment.” Dit was die motto waarop Joep Lange sy lewenstaak baseer het, en wat hy ongetwyfeld gestand gedoen het.

Bron: http://wall.alphacoders.com

 

Baie van ons het ’n persoonlike verhaal rondom Vigs. As jy in die Vigs-sektor werk, is die frase “infected or affected by Aids” ’n frase wat jy herhaaldelik elke dag hoor. My neef Craig was ’n hemofiel. Die geringste skrapie of stampie, en hy’t onbeheerbaar aan die bloei gegaan, want sy liggaam kon nie die stollingsfaktor VIII produseer nie. Hy moes gereeld bloedoortappings kry, en een van daai oortappings was met die bloed van ’n MIV+-persoon. Dit was in die tagtigs, voordat elke besending bloed getoets was. Voordat ARV’s beskikbaar was. Dit was in die tye toe daar ’n kennisgewing op die hospitaaldeur geplak was, en die verpleegpersoneel met gesigmaskers en rubberhandskoene met Vigs- pasiënte gewerk het. Dit was ’n skande om te erken jy’t Vigs.

Craig is dood op twaalf. Joep Lange se werk was te laat om hom te help, maar ten minste word derduisende ander ma’s die hartseer gespaar om hulpeloos toe te kyk terwyl hulle kind wegkwyn.

Vir Lucie van Mens, die ander aktivis, was dit nie genoeg om Vigs te behandel nie. Haar passie was om seker te maak dat MIV voorkom word. Sy het vroeg besef dat jong meisies in Sub-Sahara-Afrika 25% van alle nuwe infeksies uitmaak, baie keer met hulle eerste seksuele kontak. Daar was ’n plastiek vroulike kondoom beskikbaar, maar dit was skaarser as hoendertande. Lucie se lewenstaak was om die femidom so wyd en so vryelik moontlik beskikbaar te stel oral oor die wêreld, maar veral in Sub-Sahara-Afrika.

Ek was by ’n vergadering in Kaapstad toe die femidom die eerste keer vryelik en op groot skaal versprei is. Een van die dapperder aktiviste het aangebied om dit te toets, of, soos sy dit gestel het, “vir ’n steekproef te neem”. Sy’t belowe om terugvoering te kom gee.

“It kills the mood dead,” was haar eerste woorde by die volgende vergadering, met ’n koor van onderlangse gegiggel en onbehoorlike grappe. Daai femidom was aaklig en lomp en het geritsel soos ’n Simba-pakkie wat jy skelm in die kerk probeer oopmaak. Almal het gekla, maar ons was bewus dat die mood killer vroue meer keuses, groter beheer en beter beskerming teen seksueel oordraagbare siektes en ongewenste swangerskappe gee. Lucie se naam was nie daai dag genoem nie, maar die kanse is goed dat sy een van die dryfkragte agter die verspreiding was.

Joep Lange en Lucie van Mens was baanbrekers in hulle veld. Al twee was invloedryke aktiviste wat toegang tot die corridors of power in verskeie lande gehad het, en wat beleid kon beïnvloed. Die onmiddellike paniekbevange reaksie toe die nuus breek dat daar Vigs-aktiviste aan boord MH17 was, is dus verstaanbaar. Wat as die kuur vir Vigs aan boord van die vlug was? Het die stryd teen Vigs ’n terugslag belewe? Hoe gaan die werk nou voort?

Partykeer is die eenvoudige antwoord die beste een. Elke lewe is kosbaar, en elke bydrae is waardevol. Ja, vir seker is daar ’n leemte gelaat waar hulle nie meer ’n bydrae kan lewer nie. Hulle invloed in die corridors of power sal nie oornag vervang of gerepliseer kan word nie. Hulle besondere dryfkrag en charisma en visie is nie meer daar nie. Maar nie een enkele aktivis werk in isolasie nie. In Vigs-kringe, veral, moes aktiviste noodgedwonge gewoond raak aan sterftes, en nuwe maniere kry om seker te maak kennis gaan nie verlore nie. Daar is nie plek vir ego en divaskap wanneer jy teen ’n monster veg wat meer kere wen as verloor nie. Elke jaar, by elke vergadering, is daar iemand wat eers siek is, en later te swak is om vergaderings by te woon. Die volgende keer is daar ’n oomblik van stilte vir ’n gevalle comrade. Maar daar kom nuwe gesigte by. Dis die cycle of life.

www.aidsday.co.za

Ek vermoed ons gaan hernude ywer sien by dié wat agterbly, om die legacy van dié wat gesterf het, ongeag of dit 6 of 100 is, te bewaar. Dis ’n sektor wat al heelwat verliese gely het, en wat weet hoe om aan te gaan, ten spyte van die oorweldigende odds. In Suid-Afrika het ons Sarafina, die beet-en-groente-dieet, die stukkende-kondoom-verspreiding, die Mbeki-denialism, die Zuma stort-petalje, die ARV-tekorte, die befondsingkrisis en meer oorleef. By tye het ons gesteier soos ’n dronk man met ’n klip in die skoen, maar ons het staande gebly. Maar elke keer terwyl ons steier, en probeer herstel, terwyl ons ons balans probeer herwin, sterf mense. Vigs wag nie tot jy jou huis in orde het nie.

In 2014 is daar steeds 22 miljoen MIV+-mense wat nie toegang tot behandeling het nie. Die meeste van hulle is in Afrika. Die werk moet aangaan, en die werk sál aangaan, steierend of te not. Maar talle mense wat ’n kans op oorlewing sou gehad het as vlug MH17 in Australië geland het, se hoop het gesneuwel in die lugruim bo Oekraïne.

Daar’s hope teorieë oor wie die vliegtuig afgeskiet het, en hoekom. Die “wie” is nie relevant nie. Die “hoekom” ook nie. Wie ook al die vliegtuig afgeskiet het, het gedink aan wat hulle daardeur gaan wen. Niemand het gedink aan wat Afrika gaan verloor nie. Hulle het nie in hulle wildste drome gedink dat hulle ’n doodsvonnis teken vir ’n vrou aan die ander kant van die wêreld wat nou moeiliker ’n femidom in die hande gaan kry, of ’n MIV+-man wat vir dae of weke gaan sukkel om toegang tot ARV’s te kry nie.

Ek weet nie of ’n skoenlapper wat in Kanada haar vlerke klap, ’n sikloon in Thailand veroorsaak nie. Wat ek wel weet, is dat ’n mortier geskiet in Oekraïne talle voorkombare sterftes in Afrika waarborg.

Want nie almal dink dis winsgewend dat ARV’s in Afrika so geredelik beskikbaar soos daai blikkie Coke is nie.

Lees ook: MH17: Uiteindelijk zegeviert het leven  

Lees ook: MH17: Nederland rouwt  

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top