Kobus het ongevraag maar onpartydig en besadig skeidsregter gespeel in my stryd met Wouter (SêNet, 8 deser). Hy het 0 punte aan my en 10 aan Wouter toegeken. Sy spirituele benadering het weer eens vrugte afgewerp. Ek het tot inkeer gekom. Ek besef nou dat ek my naam groot skade aangedoen en swak smaak geopenbaar het. Hoe kan ek my aanmatig om te wil toets of Wouter 'n boek gelees het en of hy daarna 'n mening daaroor kan formuleer? Deesdae word selfs kinders nie meer behoorlik getoets nie. Dit is ongehoord dat 'n bedremmelde bejaarde, wat klaarblyklik nie met die veranderde tye tred hou nie, kan verwag dat 'n ontluikende jongeling aan 'n toets onderwerp moet word wat hy kan druip. Die sielkundige skade aan so 'n onbedorwe gees kan onberekenbaar wees.
Ek moet bely dat ek nie Wouter se DNS afdoende in ag geneem het nie. Hy is wesenlik 'n reaktiewe wese. As iemand iets op skrif stel, kom sy uitgebreide kennis in rat en vee hy die vloer met die skrywer. SêNet-lesers wen in diepte en breedte danksy sy bydraes. Maar dit is onbillik om van hom te verwag om sonder aanleiding spontaan 'n meesterstuk te lewer. Voorheen het ek gedink dat hy en Kobus nie elke dag sê vyf of ses briewe moet publiseer nie, maar dat hulle eerder een brief per dag, of verkieslik per week, moet skryf en iets oorspronklik moet lewer wat goed geformuleer is. Maar ek besef nou dat net soos 'n mens leer loop deur te loop, 'n mens leer skryf deur (te veel) te skryf.
As SêNet daagliks altesaam 'n dosyn bydraes maar van net twee outeurs, Kobus en Wouter, sou plaas, behoort dit in die smaak te val. Dit is so dat Kobus jaar na jaar eintlik net een tema het, naamlik godsdiens, maar hy vergoed met sy besonder eiesoortige vertolking. Die onderwerpe in Wouter se arsenaal dek 'n wye spektrum en kan dus as goeie aanvulling vir Kobus se eensnaarbenadering dien. Daarbenewens stel iedere skrywe van Wouter interessante uitdagings aan die leser. Die gat-oor-kop-inslag bring mee dat die leser self moet probeer vasstel wat bedoel word en hoe om ten beste die inligting te sistematiseer. Maar my beskeie mening is dat Wouter, soos Leibniz van ouds, 'n wandelende ensiklopedie is; met dié verskil dat syne internetgebaseer is. Hy is as't ware SêNet se inwonende Wikipedia.
As iemand wat besig is om grafwaarts te gly, behoort ek my te verootmoedig en in pas met die werklikheid te kom. Ek moet leer om die skitterende pêrels wat die nuwe Suid-Afrika oplewer, te waardeer. Voorheen was ek geneig om foute raak te sien sonder om die groter prentjie in ag te neem. Ek het my gekwel oor bv die slaggate in ons paaie. Maar dit is tog sekerlik moontlik dat daar met Afrika-oplossings voor 'n dag gekom kan word. 'n Klein motor (soos my Uno) kan in so 'n slaggat geplaas word sodat die blouligbrigades, die luukse ampsmotors en die minibusse steeds gemaklik die pad kan gebruik. Ek is in die skuld by die nuwe Suid-Afrika weens al die bevoordeling wat ek destyds ontvang het. Die verlies van my motor sou 'n klein opoffering wees. Wat belangrik is, is die regte gesindheid. Die Zimbabwe-krisis is bv vindingryk met 'n Afrika-benadering opgelos deur te ontken dat daar 'n krisis is.
Vandag se mooi woorde kan môre vergete wees. Religieuse bekering word nie noodwendig volgehou nie. Nie omdat die sondaar in daardie stadium onopreg was nie, maar weens die mens se verdorwe natuur. Omdat ek my bydraes nie tot 'n enkele onderwerp beperk nie, gaan ek volgende keer nie oor Zimbabwe nie maar oor Namibië skryf. Die probleem is dat al my stiksienigheid en arrogansie dan weer na vore kan tree. Vir 'n ou hond is dit bitter moeilik om nuwe toertjies te leer.
Johannes Comestor


Kommentaar
Johannes,
Jy is besig om dit te verloor, Old Timer... nou kom so 'n onwelriekende poespas van smaad en druppende sarkasme ook nog boonop, onder jou andersins minder emosionele hand deur.
Dit is soos met die ou wêreld se boksers - op 'n dag kampioen, maar dan kom daar 'n tyd wat hulle moet padgee - en die teken is wanneer dit duidelik word dat hulle besig is om dit te verloor. Want dan is daar nie meer krag in daardie wankelrige maar-eens-dawerende houe nie, dan soek hulle plek om kinderagtig geniepsig te raak.
Jy moet dus miskien maar besin , Old Timer, jy moet miskien maar eerder besin...
Groete, en sterkte vir jou.
Kobus de Klerk.
...sê Kobus terwyl hy klem aan die geroeste stuurwiel van sy Swart-kat-grondboontjiebotter-deksel-wiele-draadkar wat hy stoot deur die stofstrate van sy godsdiens.
Wat sal die volgende in praktyk beteken wanneer Comestor die volgende skryf: