Logiese liefde (en ander gedigte)

  • 7

Logiese liefde

Jy is die lyngrafiek wat deur
my hart loop
die eenheid wat saak maak
jy is die kwadratiese vergelyking
(sonder oplossing)
die afwyking wat my rigting
beïnvloed
die frekwensie wat my lewensdata
sinvol maak
ons liefde is enkelvoudig
saamgestel en kompleks   
jy is die geldige antwoord
my basis my hoogte
my lengte my breedte
my waarskynlikheid van liefde is
jy …

Afdruk

Jy was saam met my binne-in mamma se maag,
jy was toe al besonders,
anders tog eenders
al kon ek jou nie sien
het ek geweet jy was
jy kon op my spoeg my persifileer
my irriteer
ek sou dit agterweë laat
as jy my hand vat
was vergifnis maklik.

Jou sarkasme en status
gewoonte vir jou
ek sou dit nie anders wou hê
van jou hart sal ek moet afstand doen
ons paaie sal skei
maar onthou vir jou sal ek altyd lief bly
want jy was saam met my in mamma se maag.

Progressie

Elke gedagte
is ’n gedagte sonder jou
elke aksie
is ’n reaksie sonder jou
elke afdraaipad
is na ’n plek wat jy nooit sal bereik
elke tree
is ’n afstand weg van jou
elke asemteug
bloot vir ’n voortbestaan
elke hartklop
nou, volkome, my eie …

Terapie

Ek wil liefhê, met ’n hele hart sonder haat
ek wil uitreik, sonder vrees
ek moet myself wees
nie jy.

Ek struikel oor voorskriftelike beginsels
ek moet sê wat ek bedoel
en jy verwerp alles wat ek regtig
daarmee bedoel?

Ek wil weet
hoe jy emosieloos kan wonder
hoekom ek my gevoelens neerpen
op papier
’n afdruk los op jou hart
terapie vir my
tydmors vir jou.

My gedig

Ek wou ’n liedjie vir jou skryf
my note was vals
ek stemloos

Ek wou ’n brief vir jou skryf
my papier was klaar
ek wou die son vir jou vang
die sonskyn in alles vir jou wees
maar die reën het my begeertes gestaak

Teleurgesteld skryf ek toe
’n eenvoudig gedig
wat menswees nie sal verstaan
tensy jy dink

Sonder enige leestekens
maklik
sonder moeite
want my wese het geweet
dis vir jou …

  • 7

Kommentaar

  • Christel van der Linde

    Ek het die skryfskool te Bloemfontein bygewoon op die 25e Augustus en dit baie leersaam gevind, baie dankie aan almal wat dit moontlik gemaak het, ek glo almal wat die geleentheid gehad het om dit by te kon woon het iets geleer en iets daarby gebaat. 

    Ek het baie geleer en het met almal wat saam met my ’n tafel gedeel het, ’n heerlike dag gehad. Tannie Martie van Rouxville, ons het ’n lekker dag gehad, ek kom volgende jaar Bloem toe en sal dan aansluit by die vereniging, ek besig met ’n nuwe gedig en hoop om van julle te hoor ! 

    Moenie ophou skryf nie, ons sien mekaar weer volgende jaar

     

    Groete

    Christel

  • Dedre Lombard

    Hi my naam is Dedré Lombard 

    Ek is maar 'n plein meisie van die plaas en is mal oor gedigte skryf.
    Ek bly in Indwe en gaan in die Vrystaat skool.
    Waarheen kan ek my gedigte stuur....?
     
  • Hi, Christel, Dedre,
    Ek is al 'n toppie, en is mal oor skryf, gedigte, 'n boek en kortverhale, maar die mense sê daar is fout met my literatuur, wat dit ookal beteken, sien van die skryfskool wat Christel van praat, waar, wanneer, en hoe weet ek van die datum???
    Nico Els

  • Lize-Marie le Roux

    Hey julle, ek is Lize-Marie le Roux 'n Liedjieskrywer en sangeres, Ek is al uit idees uit vir liedjies, is daar enige iemand wat belang sal stel om vir my 'n paar gediggies te stuur, ek wil nie gedigte maar net vat nie, netnou word ek beboet lol ... As julle belang sal stel ek sal net die wysie bysit, al wat ek nodig het is die woorde ... dankie baie xxx

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top