LitNet Akademies-leesgoed: Pieter Verster

  • 0

Pieter Verster deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.

 

Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989 deur Leopold Scholtz

Leopold Scholtz lewer ’n deeglike en indringende ontleding van die rol en optrede van die SAW in die grensoorlog. Geen oppervlakkige bespreking word gegee nie, maar die historiese en militêre omstandighede word op grond van omvattende bronnestudie en onderhoude op ’n uiters hoë vlak ontleed. Die afgryse van oorlog word nie misken nie, maar tog word die sin van ’n bepaalde optrede in historiese verband na vore gebring.

Die waarde van die studie is nie alleen vir soldate van belang nie, maar vir elkeen wat die verlede billik wil beoordeel en self ook na ’n toekoms wil strewe waar die ellende van oorlog teëgewerk word met alles waaroor ons beskik.

Koop dit by Kalahari.com


The Book Thief deur Markus Zusak

Verskeie lesers sou al The Book Thief gelees het en ook die rolprentweergawe gesien het. Die slotreël van die verteller, die dood, bly my egter steeds by: “ I am haunted by humans.” Die roman het my deurgaans geboei weens die menslikheid te midde van die dood se bedreiging.

Die skrywer neem ’n mens mee op ’n indrukwekkende reis met die dood as metgesel, maar ook met flitse van hoop wat onder die haglike omstandighede van oorlog deurflits. Selfs al stuur die boek op die eindreël af, is daar tekens dat die roman self die wyse word waarop die hoop deurbreek. Miskien kan ons daarom met die dood saamdans in die hoop op lewe.

Koop dit by Kalahari.com

 

Moord en roof in die kop van ’n baasspeurder deur Albert Blake

Die ontstellende weergawe van die rol van ’n baasspeurder in die vorige bedeling is geen sitkamerleesstof nie. Die menslike aspekte van die speurder wat onder onmenslike omstandighede moes optree onder ’n allesbehalwe gewaande bedreiging word goed uiteengesit. Die politieke leiers se miskenning van betrokkenheid en die wyse waarop hulle die voetsoldate (polisie) in die steek gelaat het, word indringend bespreek.

Die boek is egter ook nie ’n regverdiging vir die optrede van die polisie nie, maar gee ’n baie meer gebalanseerde blik op die verlede as deur verskeie politieke kommentators. Dit is in uitstekende Afrikaans geskryf en lees soos ’n roman. Dit roep ook die vraag op hoe daar onder bedreigings opgetree moet word en hoe daar uit die verlede geleer moet word om na geregtigheid te strewe.

Koop dit by Kalahari.com


Die Groot Gryse deur Anna M Louw

En dan het ek ook die ou klassieke werk Die Groot Gryse van Anna M Louw weer gelees en was ek weer onder die indruk van die ongelooflike gehalte daarvan.

Koop dit by Kalahari.com

 

Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top