LitNet Akademies: Die impak van Waarderende Ondersoek in leierskapontwikkeling

  • 0

Die artikel deur Jannie Pretorius in LitNet Akademies, Jaargang 9(1), “’n Positiewe profiel van ‘n buitengewone hoofmeisie as rolmodel: Emma-Lancia Veronique Faro van die Sekondêre Meisieskool Oranje”, poog om ’n Waarderende Ondersoek (WO) van ’n spesifieke individu te doen ten einde die hoedanighede van ’n charismatiese rolmodel – eienskap, kwaliteit, besondere aard – te bestudeer en ’n leierskapsprofiel saam te stel.

WO is ‘n metode om positiewe veranderinge in veral maatskappye teweeg te bring deur dit wat “werk” in die maatskappy te identifiseer en dan te poog om daarop voort te bou. Die doel is dus nie bloot om vas te stel wat die ideaal is nie, maar om dit te dupliseer en uit te brei. Daarom het WO, soos ook blyk uit Pretorius se artikel, vier fases:

  • Ontdekking of “Oop-dekking” (Discovery). Hierdie fase behels die identifisering van die onderwerp van waardering en die agenda van verandering, maw dit wat funksioneel en positief is en verandering kan inisieer en volhou.
  • Droom (Dream). Hierdie fase behels die visie, wens of ideaal waarna gereik word.
  • Ontwerp (Design). Tydens hierdie fase vind dialoog plaas rakende wyses waarop die agenda van verandering geïmplementeer kan word om die droom te bereik en volgehoue verandering te bewerkstellig.
  • Bestemming (Destiny). In die finale fase word die ontwerp prakties geïmplementeer en gepoog om die model van verandering volhoubaar te vestig.

Pretorius slaag daarin om die belangrikheid van positiewe rolmodelle binne die Suid-Afrikaanse onderwyssisteem te motiveer. Hy gebruik die eerste twee fases van WO doeltreffend om Faro se leierskapskenmerke te identifiseer en te bevestig dat dit ooreenstem met wat in die bestaande leierskapsliteratuur as uitstaande leierskapskenmerke beskou word. Die artikel wek ’n optimisme by die leser, want dit bevestig die bestaan van uitstaande leierskap op skoolvlak – ’n feit wat kan inspireer en hoop kan laat opvlam dat alles nie verlore is in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel nie. Dit laat die leser met ’n diepe waardering vir die edele karakter van ’n besonderse jongmens wat beslis as ’n charismatiese rolmodel getipeer kan word.

Die trefkrag van die ondersoek word egter ernstig geknou deur Pretorius se besluit om die derde en vierde fases van WO uit sy studie te laat en “vir voltooiing aan huidige en toekomstige skoolleiers en onderwysers oor (te) laat” – moontlik mense wat nie die eersterangse blootstelling aan die charismatiese invloedsfeer van hierdie besonderse leier gehad het nie. Dit laat ook die vraag ontstaan of hierdie studie nuwe insigte gebring het of net bevestig het wat reeds bekend is, aangesien die profiel van suksesvolle leiers wyd bekend en goed gedokumenteer is. ’n Verdere vraag is of charismatiese leiers gekweek kan word en of hulle nie dalk oor besondere aangebore kwaliteite beskik nie – vandaar die frase “gebore leier”. Dit is die tipe vrae wat met vrug in die derde fase van WO bespreek kon gewees het, veral aan die hand van die antwoorde van onderwysers en leerders op die vraag wat toekomstige hoofmeisies by Faro kon leer. Die antwoorde identifiseer spesifieke aspekte van emosionele intelligensie, wat verder verfyn sou kon gewees het deur onderwysers en skoolleiers wat die uitbeelding van buitengewone leierskap eerstehands ervaar het, want die fokus van vrae en besprekings in die derde fase sou verskuif het en spesifiek gemik gewees het op hoe dit wat geïdentifiseer is, aan andere oorgedra kan word – ’n fokus wat tot die verdieping en verryking van die geïdentifiseerde temas kon gelei het. ’n Verdere fokus van bespreking kon ook gewees het om te identifiseer watter kenmerke van Faro se leierskapstyl bygedra het tot die feit dat haar leierskap onvoorwaardelik deur haar medeleerders en haar onderwysers aanvaar is.

Tydens die vierde fase sou die identifisering van wyses waarop hierdie kennis oorgedra kan word, die grondslag kon gevorm het van personeelontwikkelingsessies of leierskapseminare binne Oranje Meisieskool. Wanneer dit suksesvol geïmplementeer kon word binne die skool, sou pogings aangewend kon word om suksesse met omliggende skole te deel.

Sonder die voltooiing van die WO-proses loop die studie die gevaar om afgemaak te word as net die verheerliking van ’n individu – en die waarde van Faro se moontlike bydrae as rolmodel is te groot om verlore te laat gaan. Daarom doen ek ’n beroep op die persone wat by die studie betrokke was om daadwerklike pogings aan te wend om haar nalatenskap meer blywend te maak deur die WO-proses te voltooi en die insigte wat hierdie studie na vore bring, doeltreffend in leierskap-ontwikkelingsprojekte te integreer.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top