Dit is baie moeilik – ek weet nie moet ek opgewonde of hartseer vir Lindiwe Mazibuko wees nie.
Mazibuko se skielike bedanking as parlementêre leier van die DA het vriend en vyand op die politieke toneel onkant betrap.
Oor die werklike redes vir haar bedanking sal daar nog lank bespiegel word. Skinderstories is dat Mazibuko en Helen Zille se verhouding toenemend gespanne geraak het.
Volgens mediaberigte het Mazibuko en Zille veral oor omstrede koukusbesluite gebots. Gevolglik het Mazibuko onder kritiek by Zille deurgeloop. Dit sluit in die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming, wat die DA onder Mazibuko se leiding aanvanklik “per abuis” gesteun het. Zille het agterna gesê die besluit was ‘n “vliegramp”.
Wie weet, miskien skryf Mazibuko nog ‘n boek en vertel ons presies wat agter die skerms tussen haar en Zille gebeur het. Net soos die destydse jong en dinamiese DA-LP Raenette Taljaard ons in haar boek vertel het hoekom sy en die voormalige DA-leier Tony Leon so heftig verskil het oor transformasie binne en buite die DA dat sy besluit het om te bedank.
Ek is egter baie bly vir Mazibuko (34) omdat sy besluit het om ‘n jaar lank ‘n meestersgraad aan die gesogte Harvard-universiteit in Amerika te volg. Sy is jonk, dinamies, welsprekend en intelligent en kan net verder groei en ontwikkel. Haar soeke na kennis, groei en ontwikkeling behoort ‘n inspirasie vir alle jong Suid-Afrikaners te wees.
Miskien het Mazibuko te vinnig en te hoog opgang in die politiek gemaak. ‘n Menigte politici, meningsvormers en sekere mense in die DA was met haar verkiesing as parlementêre leier in 2011 skepties dat sy nog te jonk en onervare vir dié uitdagende posisie was.
Sy is ook al deur ANC en ander opposisie-LP’s oor haar “hare”, “klere” en “figuur” in die gesig gevat. Julius Malema het haar prontuit ‘n “nikswerd-teemaker” genoem.
Die DA moet gelukgewens word omdat die party toenemend veral jongmense na vore stoot vir leierskapsposisies. In Mazibuko se geval was sy miskien te vroeg met min parlementêre ervaring in die veld gestoot. Sy het ‘n mentor in die parlement nodig gehad wat haar vir parlementêre leier moes voorberei het. Zille, wat as Wes-Kaapse premier in die Wes-Kaape parlement dien, was te ver om haar in die parlement te mentor.
Buite die parlement het Mazibuko ook geen magsbasis binne die DA gehad nie, omdat sy van KwaZulu-Natal is. Die DA se magsbasis was nog altyd in die Wes-Kaap, maar dit het nou verskuif, omdat die party tydens die verkiesing meer stemme in Gauteng gekry het.
Die Gauteng-magsbasis kan veral Mmusi Maimane, wat na alle waarskynlikheid vir Mazibuko gaan opvolg, tot voordeel strek. Maimane kan dalk dieselfde paadjie as Mazibuko loop, omdat hy ook jonk en onervare is en geen parlementêre ervaring het nie.
Die Suid-Afrikaanse politieke landskap sedert 1910 is veral konserwatief jeens jonges en meer gunstig teenoor ouer partyleiers ingestel. Jong leiers moet meer ervaring kry voordat hulle partyleiers word. Die politiek is wreed, en selfs Jacob Zuma word nie ontsien nie. Kyk hoe oud word hy voor ons oë.

