LAPA het ’n stalletjie by die Suid-Afrikaanse Boekebeurs wat van 13 tot 15 Junie in Kaapstad gehou word. Kom besoek ons gerus daar, en kom luister na ons skrywers wanneer hulle optree.
Eendag op ’n reëndag

Wendy Maartens is aan die woord
Kinderboekskrywer Wendy Maartens se werk wissel van liriese, aktuele prenteboeke soos Prinses Mossienes en Lena se bottelboom tot vermaaklike hervertellings van bekende volksverhale en fabels in bundels soos Eendag op ’n reëndag en Die mooiste dierestories. Kom luister hoe Wendy meer vertel oor haar storiereis – en die betowering en genot van stories.
Vrydag 13 Junie; 11:00; Literary Forum 2
Twee kante van die Kaap
Nanette van Rooyen en Eldridge Jason in gesprek
Nanette van Rooyen se Ek was hier en Eldridge Jason se Gerook is albei realistiese tienerverhale wat in die Wes-Kaap afspeel. In Ek was hier word Seepunt en sy bonte mengelmoes van karakters ingespan as agtergrond vir ’n liefdesverhaal oor twee tieners wat deur middel van omgewingsvriendelike graffiti kommunikeer. Gerook delf na die donker onderwêreld van tik op ’n skynbaar idilliese klein Weskusdorpie. Hierdie twee Kaapse jeugboekskrywers tree vir die eerste keer met mekaar in gesprek oor hul werk en die Kaapse ruimte waarin dit afspeel.
Vrydag 13 Junie; 12:00; Literary Forum 1
Tuis se uitsoek- agterbladskrywer en bobaaskok

Niël Stemmet praat oor erfenis + kos
Neil Stemmet is ’n storieverteller. Hy het aan die voete van sy oupa geleer van stories. Sy passie in die lewe is erfeniskos en dat die stories oor onthou en kos vertél moet word. Omdat ons almal heengaan, is stories die enigste wat oorbly in die wêreld. Daarom ook is resepte deel van sy stories, en is suiwerder kos, soos ons uit oorvertel geërf het, so belangrik.
Vrydag 13 Junie; 14:00; Kamer 1.44
Beleef die emosie
Kristel Loots, Elsa Winckler, Jacolet van den Berg in gesprek met Chanette Paul
Kristel Loots was in die 2013-finansiële boekjaar 23 weke lank op die Nielsen-lys van Top verkopers met haar LAPA-boeke. Elsa Winckler verkoop uitstekend in Afrikaans en is ’n uitblinker in Engels op Amazone. Jacolet was verlede jaar agt weke lank op die Nielsenlyste, en is hierdie jaar weer besig om weer haar plekkie warm te hou daar. Hoe kry ’n mens dit reg om jaar ná jaar jou lesers se voete onder hulle uit te slaan? Lesers kan hulle gunstelingskrywers van aangesig tot aangesig kom aanskou. Chanette Paul lei die gesprek.
Saterdag 14 Junie; 13:00; Kamer 1.41
Ek is ’n Babalela!

Kom ontmoet die Babalela en luister na stories
Kom ontmoet die Babalela! Gewoonlik woon die Babalela diep, diep in die donker bos, maar ons het gevra, mooi gevra of die Babalela nie wil kom kyk na al die boeke nie ... Die Babalela het ja gesê!
Saterdag 14 Junie; 13:00; Kidzone
Sondag 15 Junie; 13:00; Kidzone
Hardebaard
Deon Meyer, Chanette Paul en Karin Brynard in gesprek
Drie van Suid-Afrika se beste misdaadskrywers deel ’n verhoog. Gou maak, plek is beperk!
Saterdag 14 Junie; 15:00; Literary Forum 1
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

