Oktober 2012 is hier – nou kan die gewag op die eindtyd en al die voorspellings van profete en kwaksalwers wat verkondig ons planeet gaan in hierdie maand vergaan omdat ’n antieke Suid-Amerikaanse beskawing se kalender dit kwansuis sou voorspel, finaal verkeerd bewys word.
Maar as ons op die oggend van 1 November 2012 wakker word en sien die son skyn nog en die aarde beweeg steeds in ’n wentelbaan om ons moederster, sal dit die einde wees van kultusgiere en doemvoorspellings deur irrasionele mense wat enigiets aangryp om misteries te verklaar?
Beslis nie – die geskiedenis van die mens is ’n verhaal deurspek met bygeloof en môre sal daar ’n nuwe kultusleier opstaan om genoeg volgelinge sonder onsinverklikkers aan hul neuse te laat lei.
Verlede jaar het die vooraanstaande Brits-Ierse astrofisikus Jocelyn Bell die Maja-kalenderonsin in ’n reeks lesings, ook in Suid-Afrika, deeglik en punt vir punt wetenskaplik weerlê. Bell, die ontdekker van pulsars, het elkeen van die voorspellings wat die einde van die wêreld in Oktober 2012 aangekondig het en wat op foutiewe kwasi-wetenskaplike aannames die internet laat gons, volgens bewese natuurwette ontleed en beoordeel en as tipiese kultusvoorspellings geïdentifiseer. Haar lesing hieroor by die Britse Royal Society in Februarie 2011 is hier beskikbaar by en is die moeite werd, omdat dit wys hoe maklik dwaal- en drogstories as die waarheid verkondig kan word en waarom dit belangrik is dat wetenskaplikes soos Bell nie hieroor moet stilbly nie.
“Dit is die doel van wetenskap: om die heelal minder vreemd te maak, maar net in die sin dat dit meer voorspelbaar word. En in daardie sin is die heelal nie naastenby so vreemd as wat dit voorheen was nie. Die boodskap wat die publiek huis toe moet neem, is dat dit nie die sieners en fortuinvertellers is wat die toekoms kan sien nie, maar die wetenskaplikes,” skryf die Amerikaanse fisikus Robert Park in sy boek Voodoo science – the road from foolishness to fraud (Oxford University Press). Sy woorde is deeglik van toepassing op die falanks van onwetenskaplike denke wat oor die sogenaamde Oktober 2012-eindtyd deur profete en kultusleiers op die internet versprei word.
In 2009 het die nuusredakteur van Kerkbode, Jean Oosthuizen, in ’n artikel in Rapport geskryf dat indien daar enige twyfel was of Angus Buchan en die Mighty Men-verskynsel ’n kultus was, dit uit die weg geruim is toe Buchan Lasarus-agtig uit die dood opgestaan het ná sy beswyming op die verhoog. Op Stellenbosch is daar ook die kultusagtige Shofar-beweging van Fred May, ’n geheimsinnige leier wat heelwat van die kenmerke van ’n kultusleier vertoon.
In 1996 het prof Margaret Singer in haar boek Cults in our midst: The hidden menace in our everyday lives (Jossey-Bass-uitgewers) geskryf twee-derdes van kultuslede kom uit normaal funksionerende families en toon geen abnormale gedrag voordat hulle by die kultus aansluit nie.

Kyk maar net na die onlangse geskiedenis van kultusse: Marshall Applewhite en sy Heaven’s Gate-kultus, wat selfmoord gepleeg het om ’n gewaande ruimteskip in die stert van die komeet Hale-Bopp te gaan ontmoet; Jim Jones, wat honderde laat sterf het in die woude van Guyana; David Koresh van die Branch-Dividiaanse religieuse sekte, wat saam met sy verslaafde volgelinge buite Waco in Texas in ’n vlammehel omgekom het; en Shoko Asahara van die Aum-Shinrikyo-kultus, wat sy volgelinge sarin-gas in die moltreine van Tokio laat gooi het.
Die Amerikaanse skrywer en wetenskapskommunikeerder Michael Shermer sit in sy boek Why people believe weird things – pseudoscience, superstition, and other confusions of our time (Henry Holt & Co) die kenmerke van ’n kultus uiteen. Dit behels die volgende:
- Eerbetoon aan die leier wat grens aan feitlike heiligmaking en goddelikheid.
- Volmaaktheidvan die leier. Volgelinge glo die leier kan niks verkeerd doen nie. As ’n mens die reaksie op Oosthuizen se artikel in Rapport volg, voldoen Buchan aan hierdie aspek van Shermer se definisie van ’n kultusleier. So ook die kommentare van May se ondersteuners wanneer iemand dit waag om die mag wat hy oor jong studente het, te bevraagteken – selfs in so ’n mate dat sy ondersteuners onbeskaamd klasse in biologie ontwrig omdat die leier sê evolusie is nie ’n geldige wetenskap nie.
- Alwetendheid van die leier. Dit behels die aanvaarding van die leier se oortuigings en uitsprake oor alle onderwerpe, van die filosofiese tot die triviale.
- Oorredingstegnieke van kultusleiers stem ooreen, van vriendelike tot dwangtegnieke wat nuwe aanhangers oorreed om aan te sluit en om die kultus se oortuigings by bestaande lede te herbevestig en te versterk.
- Verskuilde agendas is aan die orde van die dag en die werklike aard van die groep se oortuigings en planne word verswyg of net gedeeltelik aan potensiële rekrute of die algemene publiek geopenbaar.
- Misleiding. Die rekrute en volgelinge word nie alles vertel van dinge wat hulle omtrent die leier en sy binnekring behoort te weet nie, veral nie oor leemtes in hul karaktereienskappe nie. Sake wat die potensiaal het om verleentheid te veroorsaak, word verswyg of toegesmeer.
- Finansiële en/of seksuele uitbuiting. Rekrute en volgelinge word oorreed om geld en ander bates in die kultusgroep te belê. Dikwels ontwikkel seksuele verhoudings tussen die leier en een of meer van sy volgelinge. Koresh en Applewhite is tipiese voorbeelde van hierdie soort magspel en beheer oor volgelinge. Dit kan ’n mens die Elmer Gantry-faktor noem na aanleiding van Sinclair Lewis se gelyknamige karakter.
- Absolute waarheid. Geloof in die leier en die groep is van so ’n aard dat die indruk geskep word dat die leier die finale kennis oor enige getal onderwerpe en velde het.
- Absolute moraliteit. Volgelinge glo die leier en die groep het ’n stelsel van reg en verkeerd op denke en daad ontwikkel wat op lede en nielede van toepassing is. Dié wat die streng morele kode nakom, word en bly lede; dié wat dit nie doen nie, word uitgeskop of gestraf.
Margaret Singer verwys in Cults in our midst na kultusse en kultiese groepe as “any one of a large number of groups that have sprung up in our society and that are similar in the way that they originate, their power structure, and their governance. Cults range from the relatively benign to those that exercise extraordinary control over members’ lives and use thought-reform processes to influence and control members. While the conduct of certain cults causes nonmembers to criticize them, the term ‘cult’ is not in itself pejorative but simply descriptive. It denotes a group that forms around a person who claims to have a special mission or knowledge, which they will share with those who turn over most of their decision making to that self-appointed leader.”
Hoewel die eindtydvoorspellings gebaseer op die Maja-kalender nie identifiseerbare leiers het nie en nie aan die meeste van Shermer en Singer se vereistes voldoen om as kultusse beskryf te word nie, is die geskiedenis deurspek van kultusfigure wat juis die vrees vir die einde van die aardse bestaan aangewend het om mag oor ander mense te verkry. En dit gebeur soveel makliker wanneer mense moeilike tye beleef en ’n beter wêreld beloof word.
Wetenskaplikes se rol om onsin te bestry, is nie ’n keuse nie, maar ’n verpligting. Jocelyn Bell se reeks lesings om die Maja-voorspellings te weerlê, het daardie verpligting weer onderstreep. Dit sluit aan by Bertrand Russell, die Britse wiskundige en Nobelpryswenner in letterkunde in 1950, se wyse raad oor wie se plig dit nou eintlik is om onsin te bestry.
Russell skryf: “Baie ortodokse mense praat asof dit die besigheid van skeptici is om dogmas verkeerd te bewys in plaas van dogmatiste se verantwoordelikheid om dit as waar te bewys. Dit is natuurlik ’n fout. As ek sou beweer dat daar tussen die aarde en Mars ’n Chinese teepot in ’n elliptiese baan om die son beweeg, sal niemand in staat wees om my aanspraak verkeerd te bewys nie solank ek versigtig genoeg is om by te voeg dat die teepot te klein is om selfs deur ons sterkste teleskope waargeneem te kan word. Maar as ek sou voortgaan om te sê dat omdat my aanspraak nie verkeerd bewys kan word nie, dit ’n ondraaglike veronderstelling aan die kant van die menslike rede is om dit in twyfel te trek, sal mense tereg dink ek praat twak. As die bestaan van so ’n teepot daarenteen bevestig word in antieke boeke, elke Sondag as die heilige waarheid verkondig word, en ingedril word in die verstand van kinders op skool, sal traagheid om in die bestaan daarvan te glo ’n teken van eksentrisiteit wees en die twyfelaar blootstel aan die aandag van ’n psigiater in die verligte era of ’n inkwisiteur in ’n vroeëre tyd.”


Kommentaar
George, ek dink as die aarde skielik sou vergaan, sal dit dalk te wyte wees aan een of ander religie – soos Iran wat ’n kernbom op Israel gooi en globale bollie aan die gang sit.
Dis immers onmoontlik om die mag van menslike onnoselheid te onderskat.
fv
Daar word algemeen aanvaar dat ’n onvermoë om te onderskei tussen feite en fiksie, ’n deug is.
Ja wel, ene H.L. Mencken het gesê: "There is no idea so stupid that you can't get some professor to believe it", en Winston Churchill was van mening: "The greatest lesson in life is to know that even fools are right sometimes".
En as die teepot sy baan verlaat en met ’n moerse slag voor 1 Nov. op Stellenbosch val?
Groetnis
Raed-na-Gael
Claassen sê heel aan die begin dat die "eindtyd" glo hier êrens teen einde Oktober voorspel word. Ek sien egter elders dat die datum van 21 Desember as die dag beskou word. Ek stem natuurlik saam met hom dat dit alles ’n groot klomp twak is en net mooi niks gaan gebeur nie, maar probeer net duidelikheid kry oor die beweerde groot datum.
Ek vermoed dat 21/12 waarskynlik die eintlike datum is want dit is mos wêreldwyd bekend as sonstilstanddag. Selfs die astrologiese onsin maak meer sin met daardie datum!
Is alle godsdienstige instellings, die Christendom ingesluit, nie ook ’n kulte nie? Binne die Christendom is daar vandag meer as 3000 verskillende denominasies/sektes, elkeen met sy eie leier wat daarop aanspraak maak dat slegs hulle die waarheid verkondig. So per definisie is al hierdie instellings kulties van aard.