Koos Kombuis se i-Tjieng: “So diep soos Dickens maar so vars en onskuldig soos Liewe Heksie”.

  • 0

Deborah Steinmair is in gesprek met Koos Kombuis oor sy jongste boek, i-Tjieng.

Koos Kombuis is volksbesit. Hy skryf die soort boeke wat my laat wens ek het eerste daaraan gedink. Nou het hy weer ’n vlakhaas uit die hoed gehaal: die Afrikaanse i-Tjieng, ’n GPS vir verdwaalde siele. Dis ’n vertaling en verwerking van die I Ching, ’n antieke Sjinese geskrif wat soekers al eeue lank raadpleeg vir insig en leiding, met Koos se onmiskenbare stempel: eietydse staaltjies en segswyses skuur skouers met antieke gelykenisse van drake en agrariese metafore; elke hoofstuk het ’n uitkloplyn-opskrif; en die teks is deurspek met sy krabbel-sketse van Sjinese wyse manne, straatmusikante, boewe en rusbankpatattas, onder andere. Dis ’n boek wat na jou hand toe spring en hom nie maklik laat neersit nie.

Ek het Koos gepols soos ’n orakel oor sy jongste baba. Dis duidelik dat hierdie nie, soos dit met die eerste oogopslag mag lyk, ’n vermaaklike vingeroefening was nie: Koos het groot respek vir die I Ching.

Ons het hom leer ken uit sy boeke, saam voetgeslaan met die superslim kind, belese boemelaar, religieuse soeker, rock-ster. Soos ek êrens op die ‘net gelees het: “Hy is deur die mallemeule van roem en drank en dwelms, en anderkant uit.”

Ek wou weet of hy nog altyd gelowig was.

KK: Ek het op die ouderdom van sestien tot bekering gekom in wat vir my toe gevoel het soos ‘n opregte kennismaking met Jesus. Hierdie ervaring het my vir ‘n ruk gedra, totdat ek deurmekaar geraak het met Christene en kerke. Daarna het ek deur die mallemeule van dwelms gegaan, en ook vir ‘n kort rukkie geëksperimenteer met okkultisme. Eindelik was al hierdie ervarings leeg. Ek het nou, sowat veertig jaar later, my oorspronklike ervaring teruggekry, maar ek sien dit uit ‘n ander perspektief. Ek is nie ‘n Christen nie, eerder ‘n gelowige humanis, en ek kan my nie indink dat ek ooit aan ‘n kerk sal kan behoort nie.

Deur al hierdie fases het die wysheid van die I Ching my hier en daar van praktiese raad voorsien, amper soos ‘n goeie onderwyser of sielkundige.

DS: Ek is ook as jongmens deur ’n charismatiese tentkerk-fase waar die lewe vir my eenvoudig skisofrenies verwarrend was; elke straatnaam het ’n boodskap bevat, alles was woordslaai, tekens en wonders. Ek het so gestres om elke oomblik binne die volmaakte wil van God te leef en sy stem reg te hoor dat besluitneming hel was. Sedertdien is dit vir my so ’n helse verligting om min of meer self, op grond van intuïsie, oorweging en gesonde verstand, besluite te neem dat ek nie meer die begeerte het om ’n eksterne orakel te raadpleeg nie.

Wat is die bekoring van die I Ching?

KK: Natuurlik is die I Ching nie nodig nie. Mens kan presies dieselfde resultate kry deur meditasie, droom, intuïsie, gesonde verstand of langs die see loop met jou staffie. Maar dit neem langer. Die wonder van die I Ching is dat dit mens kriptiese leidrade verskaf wat die selfondersoek-proses vorm gee. En soms kom jy dan agter waar jy jouself probeer bullshit. Daar is besonder baie kommensens in hierdie boek! Hy is selfs slimmer as my vrou! 

DS: Leef ons vandag in meer chaotiese tye, of was elke epog bloedig en net-net onhanteerbaar?

Koos Kombuis (Foto: Chrizane van Zyl)

KK: Elke epog het maar sy verskrikkings gehad. Ek dink tog dat ons vandag in ‘n unieke situasie is, met die mensdom wat in sekere opsigte meer oopkop word, byna soos ‘n nuwe Renaissance, en in ander opsigte meer bekrompe en fundamentalisties. Met die verskriklike swetterjoel apps en inligting is dit asof veral die moderne Westerse mens hom in ‘n baie raserige chat room bevind. Dis moeilik om daardie oomblik van stilte in jouself te vind. Dis werklik moeilik om die kaf van die koring te skei en uit te vind wat is werklik belangrik; en intussen gaar die afvalplastiek op in die see en sterf die ysbere teen ‘n stink spoed.

DS: Om die I Ching, of i-Tjieng, te raadpleeg, is harde werk. Soos my broers se hillbilly-vriend by geleentheid oor die saksofoon gesê het: dis heavily complicated. [Vir dié wat nie weet nie, die metode werk so: Jy gooi drie eenderse muntstukke tegelyk. Die stertkante verteenwoordig jin (gebroke lyn) en die kopkante jang (vaste lyn). Jy gooi die drie muntstukke ses keer en teken telkens die resultate van onder na bo aan: soveel gebroke en soveel vaste lyne. Uiteindelik het jy ’n prentjie met ses lyne. Dié word nou gebruik, met die hulp van ’n tabel, om die primêre hoofstuk te vind wat jy moet raadpleeg. Daarna word die verwante hoofstuk bereken. Ensovoorts.]Selfs die alfabet-metode wat jy ontwerp het (en wat meer tot my spreek), is maar ingewikkeld. As ’n mens nie ’n kop vir syfers het nie, hoor jy dalk die verkeerde antwoord?

KK: Dit gaan glad nie oor die getalle en die syfers nie, maar bloot oor die feit dat jy jou die onderbewussyn moet kans gee om by die regte plek uit te kom. Ek het al fantastiese antwoorde gekry met die alfabet-metode – en dan die volgende dag besef ek het verkeerd opgetel. In daardie geval was selfs my optelfoute deel van die proses. Ek was nog nooit goed met somme nie.

DS: Dit lyk of jy dit geniet het om die boek te skryf. Ek hou daarvan as ‘n boek my daardie gevoel gee. Skryf jy maklik, of gaan dit met eindelose wroeging gepaard?

KK: Ja, maar dit was baie harder werk as wat ek aanvanklik besef het. Dit het ons drie jaar gevat op die ou end. Daar was sommige paragrawe wat iets soos twaalf keer oorgeskryf en geskaaf is. Ja, dit was nie speletjies nie, al lyk die Afrikaanse verwerking op die oog af nogal speels en eenvoudig. Die prentjies was veel makliker om te teken.

DS: Ek verstaan wel dat i-Tjieng eintlik net ’n werktuig is om ’n mens se persepsie te fokus, dat ’n mens eintlik, soos jy in die voorwoord sê, met jou hoër self kommunikeer. Op watter ander maniere maak jy ’n kanaal oop om net nuwe oë na dinge te kyk, vandat jy nie meer drugs doen nie?

KK: Die verskil tussen die I Ching gebruik en dwelmgeoriënteerde meditasie is byna dieselfde as die verskil tussen die I Ching en okkultistiese praktyke: laasgenoemde kan tydelik help, maar eindelik trek dit jou in, maak dit jou afhanklik, en spin dit jou toe in ‘n ewigdurende spiraal van onsekerheid en donkerte. Daar is ingeboude meganismes in die I Ching wat obsessiewe betragting “uitskop”. Na dertig jaar van omgang met hierdie boek is ek absoluut oortuig dat daar geen bose gees, Satan of vreemde mag agter die bladsye van hierdie boek skuil nie. Dit is so diep soos Dickens maar so vars en onskuldig soos Liewe Heksie.

Deborah Steinmair (Foto: Izak de Vries)

DS: Moet ’n mens in ’n hoër hand glo om die I Ching te raadpleeg? Party van my vriende is hondsdol ateïste.

KK: Die I Ching het niks te doen met die soort geloofsisteem wat jy aanhang nie. My gunsteling-filosoof, terloops, is juis Andre le Comte-Sponville, wat The Book of Atheist Spirituality geskryf het. Wat ek wel begin glo, is dat die I Ching die moderne mens twee dinge kan leer: dat die ou beskawings van sekere dinge meer geweet het as ons, en dat die alledaagse werklikheid baie meer misterieus is as wat ons ooit kan droom.

DS: Hoe het jy op die idee gekom om hierdie geskrif te vertaal/verwerk?

KK: Ek dink my vrou, Kannetjie, het dit eerste voorgestel.

DS: Ek hou hoofsaaklik van jou taalgebruik, jou eie staaltjies, die hoofstukopskrifte, sketse en die subtitel, “’n GPS vir verdwaalde siele”. Moes jy enige regte aan iemand betaal, of het die kopiereg al eeue gelede verval?

KK: Hoewel ek al baie vertalings gelees het en ook mettertyd ‘n persoonlike “gevoel” vir elke simbool ontwikkel het, het ek die Afrikaanse verwerking, i-Tjieng, gebaseer op die baie ou, baie letterlike Legge-vertaling eerder as die beroemde Wilhelm-vertaling. Daar is natuurlik kopiereg op die Wilhelm-vertaling. Legge se vertaling is moeiliker om te lees en verskil in sekere belangrike besonderhede van Wilhelm, maar as mens bereid is om daarmee te worstel, is dit selfs meer sin as die meeste van die ander vertalings en verwerkings.

Die idee vir die GPS het ontstaan tydens ‘n gesprek met Erns Grundling. Daar was ook ‘n liedjie, “Jy’s my GPS”, op my album dertien. Basies is ‘n GPS ‘n app, iets wat vir iemand wat dit nie verstaan nie, soos ‘n wonderwerk lyk. In terme van apps is die I Ching dalk een van die oudste apps in die geskiedenis van die menslike kultuur. Dit is basies ‘n manier om in jou eie onderbewussyn in te “hack” en dan ‘n printout te kry wat ‘n opsomming is van die issues waarmee jy op daardie oomblik worstel.

DS: Jy noem dat i-Tjieng nie ’n waarsêer is wat vir jou die Lotto-nommers gaan gee nie, tog het jy by geleentheid ’n waarskuwing ontvang in antwoord op ’n heel ander vraag. Ek haal aan: “Soms verras die i-Tjieng mens wel met ’n verbasend direkte antwoord, ’n beeld wat so duidelik is dat dit ’n mens eintlik met koue rillings laat. So het hy my eenkeer verwys na hoofstuk 3, lyn 6, waar die volgende beeld voorkom: Die perde en die koets word verplig om om te draai. Trane van bloed vloei. Kort daarna was ek en my gesin amper in ’n grusame motorongeluk. Ek kon eers nie verstaan wat die i-Tjieng vir my sê nie; dit was glad nie ’n verstaanbare antwoord op die vraag wat ek gevra het nie. Maar dit het my tog op my hoede gemaak en ek het ekstra versigtig bestuur.” Verduidelik?

KK: Die Sjinese boere in die oertyd het die eerste I Ching-tekste geraadpleeg om hulle te help besluit wanneer om te saai en te oes. Natuurlik is die I Ching betrokke by die toekoms. Ek het dit self aanvanklik gesien as ‘n metode om voorspellings te doen en niks anders nie. Wat die I Ching egter heeltemal anders maak as die meeste sogenaamde orakels, is dat dit, eerder as om te voorspel wat gaan gebeur, jou ‘n sleutel gee om jou eie toekoms te help skep uit al die swetterjoel moontlikhede. Die I Ching is gebaseer op vrye wil en persoonlike verantwoordelikheid.

Het die I Ching daardie dag geweet dat ‘n ou met ‘n lorrie oor ‘n rooi lig gaan jaag? Ek dink so. Maar op die ou end was dit dalk net fokken genade dat ek hom betyds gesien het uit die hoek van my oog, en ankers gegooi het.

DS: Glo jy aan toeval, of het alles betekenis? Is ons paadjie uitgestippel?

KK: Daar is voor elke mens meer as een uitgestippelde paadjie. Party paadjies is beter as ander. Dis jou keuse watter een jy elke keer mee loop. Die I Ching kan jou ook nie voorsê, of jou besluite vir jou neem nie. Ek is net baie bly dat ek hierdie boek ontdek het wat my soms help om helderder te dink. Wanneer ek ‘n goeie antwoord kry van die I Ching, is dit asof ek in die nag in my kar ry en ek sit skielik die ligte op bright. Ek sien alles net so ‘n klein bietjie beter.

DS: Is kunstenaars nie in elk geval sieners wat met die kosmos en die engele kommunikeer nie?

KK: Ja, en kunstenaars is soms ook chronies selfsugtige en onpraktiese wesens, dikwels swak verhoudingsmateriaal en onbeholpe met geld. Ons kan wel soms die engele hoor sing, maar ons is nie altyd nice mense om ‘n huis mee te deel nie.

DS: Het jy al gedink aan Afrikaanse fortune cookies, of het iemand dit al gedoen?

KK: Nee, ek sal nooit die wysheid van die I Ching wil vervlak tot die vlak van horoscopes of glasie-glasie-speel nie. Daar is wel rekenaarprogramme wat kamtig I Ching-antwoorde gee, en ek weet nie of dit werk nie, maar ek bly weg van daai soort ding. Dit klink te veel soos dobbel.

DS: “As jy ’n pol gras uittrek, kom daar wortels saam.” Verstaan jou kinders nog beeldspraak en idiome? Het Afrikaans arm geword as gevolg van tegnologie en kitsboodskappe?

KK: My kinders het die ou Afrikaanse idiome verloor, veral dié wat te doen het met die plaaslewe. Maar hulle kom dikwels te voorskyn met lekker vars nuwe segswyses. En my seuntjie het onlangs uit die bloute ‘n liefde vir klassieke musiek ontwikkel. So moenie die nuwe geslag weggooi nie!

DS: Is jy reeds weer besig aan ’n volgende boek en is jy bereid om iets daaroor te verklap?

KK: Dalk moet jy die i-Tjieng vra?

Ek het. My antwoord was: “Binne perke: veilige grense wat beskerm, nie onderdruk nie. ’n Balans tussen vryheid en dissipline, spandabel en suinig. Oormatige beperkinge lei tot frustrasie en opstand.” En: “Laat waai Meraai.” Sal moet nadink oor daai enetjie, maar ek reken dit klink belowend. Ons sal moet wag en sien.

Terug by die i-Tjieng: Ek beveel dit sterk aan, hierdie reis deur jou eie onderbewuste met behulp van “een van die oudste apps in die geskiedenis van die menslike kultuur”.


 

Kategorie: Nie-fiksie, esoterika
Taal: Afrikaans
Druknaam: Penguin
Regte: Suidelike Afrika
Formaat: D-formaat (215 x 150) HB
Omvang: 224 bl
Publikasiedatum: September 2013
ISBN: 978-0-14-353846-2
e-ISBN: 978-0-14-353108-1

 

DIE BOEK

Hierdie boek dui die weg na insig aan. Dit praat twee tale, antiek en modern. Antiek, want dit verduidelik 'n metode om dieper wysheid te raadpleeg wat teruggaan na die Sjinese filosoof Confucius in die newels van die tyd. Modern, want dit is in vandag se Afrikaans, so kleurryk en lewendig soos wat net Koos Kombuis dit kan praat.

Dit is die eerste Afrikaanse verwerking van die antieke Chinese I Ching, of ‘Boek van veranderinge’. Hierdie orakel is gebaseer op 64 heksagramme (kombinasies van deur­lopende en onderbroke strepe) wat die raadpleger lei tot beter begrip en die wyse weg. Die boek word wyd in die Weste gebruik, waar dit gesien word as ’n uitdrukking van wat Carl Jung die kollektiewe onbewuste noem. Dit gee elke mens dus toegang tot sy eie versteekte, innerlike wysheid, wat op sy beurt ingeskakel is by die groter geheel van menslike ervaring.

Hierdie uitgawe is ’n vertaling, aanpassing en verduidelik­ing van die i-Tjieng-stelsel, kostelik geïllustreer deur Koos Kombuis se tekeninge. Die boek dra die toepaslike subtitel ‘’n GPS vir verdwaalde siele’, en is in ’n moderne idioom en in eenvoudige taal geskryf. Net reg vir die hedendaagse Afrikaanssprekende wat verdwaal in ’n verdwaalde land voel, en wat na wysheid en begrip soek.

 

DIE SKRYWER

Koos Kombuis is die bedrieglike naam van een van die talentvolste Afrikaanse kunstenaars vandag. Koos het sy loopbaan as avant-garde-digter en -skrywer begin, waarna hy as liedjieskrywer en sanger ontpop het in die rebelse, dwelmdeurdrenkte Voëlvry-anti-apartheidsbeweging. Hy is vandag ’n gesinsman, ’n produktiewe skrywer, kommentator en rubriekskrywer met verskeie romans en albums op sy naam. Hy is ook ’n fanatieke i-Tjieng-gebruiker.

Koop i-Tjieng by Kalahari.com

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top