Koos Kombuis: "Dit is inderdaad deesdae lekkerder as ooit"

  • 1

Die skrywer en sanger Koos Kombuis het geen bekendstelling nodig nie. Hy beantwoord ’n paar vrae oor sy herontdekte liefde vir liedjieskryf en optree, boekskryf en die lewe.

Goeiedag, Koos. Hoe's dinge?

Ek vermoed dis ’n strikvraag. Wat bedoel jy? Ek ken jou soort! Jy’s een van daardie joernaliste wat my wil uitvang! Voor ek my kon kry het ek iets gesê wat maak dat die Menseregtekommissie my wil hof toe vat of Al-Qaeda my wil kom skiet, of Jan van Riebeeck raak betrokke, en almal is kwaad vir almal! Kan ons asseblief aanbeweeg? Is dit regtig nodig om so persoonlik te raak?

Jy het in ’n onlangse onderhoud met Murray la Vita van Die Burger gesê jy begin nou vir die eerste keer in ’n lang tyd weer musiekskryf waarlik geniet ... Daarom voel ek ook betreklik gemaklik om hierdie vrae vir jou te stuur! Wat het daartoe gelei dat jy musiekskryf vir ’n lang tyd nié geniet het nie, en hoe het die genotfaktor teruggekeer? Was die gebrek aan genot beperk tot die skeppingsproses, of het dit ook oorgespoel na optredes?

Oukei, oukei, jy het my oortuig. Enigiemand wat ’n pel is van Murray la Vita is ’n pel van my! Ek sal die res van jou vrae beantwoord! Here goes ... Ek wou eintlik lankal ophou liedjies skryf – soos jy weet, ken ek net ’n paar akkoorde, en hoe baie songs kan mens nou eintlik pleeg as jy nou nog sukkel met B mineur? – en ek is ook al geruime tyd lus om af te tree van lewende vertonings. Maar dit was voor Victor Matfield weer begin rugby speel het. Victor Matfield het alles verander. Victor Matfield was vir my ’n inspirasie om nog voort te gaan! As hy op die ouderdom van 37 nog kan spring in lynstane, wie is ek om te sê ek is te oud om rymelary te pleeg voor skares mense?

Jou jongste album, dertien, het in 2012 verskyn. Daar is genoem dat dit ’n soort van geestelike album is, maar ook nie full-on “gospel” nie ... ’n paar suiwer-pret-Koos-Kombuis-snitte soos “Vet vrou” en “Fat cat vastrap” was immers ook op die snitlys. Hoe voel jy terugskouend oor die album? Dit is nou al twee en ’n stuk jaar later. Is die rigting wat jy musikaal wil inslaan, nog soortgelyk aan wat jy met dertien wou doen?

Tegnies gesproke was die album dertien ’n mislukking, behalwe vir die “Vet vrou”-liedjie, wat oukei doen op iTunes. Die ding wat ek eers na die tyd agtergekom het, is as ’n ou ’n sogenaamde geestelike album uitbring, moet jy bereid wees om al die pad gaan. Jy moet die regte soort gel in jou hare smeer en jy moet optree by gospelfeeste en jy moet in elke onderhoud sê jy werk aan jou huweliksprobleme. Ek was eenvoudig nie dedicated genoeg om al daai effort in te sit nie.

Die album was basies ’n versameling liedjies wat ek geskryf het toe ek my geloof teruggekry het langs ’n kampvuur in die Karoo. Dit was vir my ’n baie persoonlike ervaring. Ek was nie lus om ’n hele promosieveldtog oor die storie uit te werk nie. So *** Radiokansel as hulle dit nie wil speel nie.

Dis ook interessant dat jy op dertien die gedig “ek dood” herbesoek het - as ek reg onthou, was dit een van jou gedigte in die Brekfis met vier-bundel in die tagtigs? In watter mate was dit vir jou, as ek die cliché mag gebruik, ’n herontdekking van die “roots”, of dan eerder ’n besoek daaraan? In hoe ’n mate pleeg jy daai herbesoek nou in jou skepprosesse, en hoe moeilik is dit om ná soveel jaar as musikant die motivering of inspirasie vir nuwe skeppings te vind?

Ek skryf gereeld ou liedjies oor, dan verander ek die woorde om aan te pas by nuwe omstandighede. Die liedjie “Sweet Paradise” gaan nou oor beurtkrag, en “Boer in beton” is deesdae “Boer in silikon”. Maar selfs ’n middelmatige rymsmous soos ek het al enkele kere in my lewe uitgestyg bo al die snert en, heel uit karakter, ’n waarlik groot stukkie kuns neergepen waaraan niemand ooit hoef te torring nie. (Sommige mense beweer “Lisa se klavier” was so iets.)

Die dag toe ek “ek dood” neergepen het, was een van daardie tydlose oomblikke toe ek per ongeluk iets geskryf het wat altyd met mense se koppe sal smokkel. My grootste vrees is dat iemand dit eendag sal toonset en iewers die word “bokkie” insit ...

My en Wilken se musiekgroepie, Die Skynmaagde, het nou al ’n paar keer die voorreg gehad om saam met jou op te tree, en nogal by diverse geleenthede - Park Acoustics, Bohemia, Die Boer, Dorpstraat Teater, selfs die Endler ... wat natuurlik afwisselende soort gehore lok, en ek het elke keer opgemerk jou interaksie met die gehoor is anders. Hoe ervaar jy die verskillende gehore? Hoe moeilik dit is om vir hulle te speel en om hulle te bevredig? Byvoorbeeld - jy raak seker in ’n stadium moeg daarvoor om “Johnny is nie dood nie” vir jillende jongmense van bedenklike nugterheidsvlakke te sing, maar tog is dit nou al die soveelste generasie wat genot daaruit put?

Ja, ek het gedink jou naam lui ’n klokkie! Jy was nog altyd een van my favourite Maagde! Hel, ja, ek geniet dit baie om met julle ouens te sing. Groepe soos Die Skynmaagde hou my jonk, en jy en Wilken pleeg doelbewuste en werklik snaakse rymdwang waaraan ek nooit self sou gedink het nie (en dit wil nogal gedoen wees!). Ek bedoel, wie anders sou “Morné Steyn” kon laat rym met “Lonmin-myn”? Dit verg ’n tipe brutale digterlike arrogansie wat grens aan die patologiese – beslis nie die soort trieks wat hulle ooit vir enigiemand sou kon leer by enige liedjieskryfkursus nie!

Benewens Die Skynmaagde was daar ook ander lekker collabs die laaste paar jaar, onder andere toere saam met sulke uiteenlopende kunstenaars soos Nicole Holm, Rocco de Villiers, Jak de Priester en Stef Bos. Een van die dae team ek op met my ou pel Andries Bezuidenhout, vroeër van die Brixton Moord en Roof Orkes, vir ’n paar konsertjies by die KKNK. Dis lekker om, tussen al die snert wat mens deesdae hoor, soms opwindende klanke te ontdek. Hoekom is ouens soos Abel Kraamsaal, Les Javan en HemelBesem nog nie wêreldberoemd nie? En ja, hel, selfs Deep Fried Man – hy was die inspirasie agter my Victor Matfield-send-up!

Verskillende kunstenaars inspireer my tot verskillende idees, en so inspireer verskillende gehore my tot verskillende benaderings. Dis nie dieselfde om “Johnny is nie dood nie” by Oppikoppi te sing as om “ek dood” in die Atterbury-teater op te sê nie. En tog is alles ewe intens en lekker. En dis nog steeds beter as om vir die Poskantoor te werk.

Ek was wel ook in die gehoor by Oppikoppi 2013 toe jou “tribute show” plaasgevind het ... dit was nogals ’n besonderse ervaring – byvoorbeeld, ek sweer dit was nie net die stof wat die trane nadergesleep het toe Andra met “Lisa se klavier” wegtrek nie. Hoe was daardie ervaring vir jou, om voor soveel duisende mense op te tree in wat as ’n verering van ’n nalatenskap beskou word? Jy tree immers nog op - wíl ’n mens terwyl jou loopbaan nog aan die gang is, so ’n tribute hê, of is dit tog goed om te sien hoe baie die musiek wat jy reeds geskep het, al is daarvan ook al dekades oud, vir mense doen?

Hel, Oppikoppi. Ja, dit was ’n belewenis. Daardie ouens was vir my soos familie. Hulle het ons destyds soos weeskinders opgetel na die pyn van die Voëlvry-toer en ons toegelaat om jare lank ons wonde daar te gaan lek op hulle Bosveld-plaas. Toe, eendag, ’n paar dekades later, het ek skielik net besef: dit was lekker, maar dis verby. Ek het by die punt gekom dat ek eindelik aan myself erken het ek wil nie meer op ’n bar counter rondspring met ’n glas brandewyn en Coke in my hand nie. My bene was net te moeg om langer deurnag te dans.
En toe gee ek vir hulle ’n farewell gig. Dit was uit die hart uit. En danksy Schalk Joubert se regie was dit ’n musikale meesterstuk, met enorme bydraes deur ’n hele klomp mense wat al jare lank saam met my die pad gestap het deur die wonderlike, woeste wildernis van rock ’n roll. Die hoogtepunt van die aand was toe daai dude van Black Cat Bones lostrek en “Bicycle sonder ’n slot” sing asof hy dit al vantevore iewers gehoor het.

Gepraat van die nalatenskap: jy het onlangs 60 geword (ek sou dit nie geweet het as ek dit nie in Murray se artikel gelees het nie). Jy's duidelik nie nou al naby aan aftree nie, maar sou jy in die afsienbare toekoms wou? Wat sou jy nog op die musikale front wou bereik, of waar sal jy nog wil optree, voor jy die kitaar semifinaal (dit sal sekerlik nooit finaal wees nie) ophang?

Die enigste probleem wat ek nou nog het met toer en regoor die land lewende solo shows doen – en ja, dit is inderdaad deesdae lekkerder as ooit! – is die feit dat ek dit soms haat om so lank weg te wees van my vrou en my kinders en my honde. Daar is ander goed waarvoor ek nooit tyd kry nie omdat ek amper elke naweek moet gaan sing. Gaan ek dan nooit eendag leer gholf speel nie? Gaan ek nooit ’n cocktail-meng-kursus kan bywoon nie? As ek aanmekaar weg is van die huis, hoe gaan ek ooit die eekhorings leer hoe om nie my vye te steel nie? Gaan ek nooit die kans kry om net ’n doodnormale ou toppie te wees met jig en spatare wat saans Binnelanders kyk met die TV-volume op max nie?

Jou vertaling van die i-Tjieng het ook betreklik onlangs die rakke getref. Hoe is die ontvangs daarvan tot dusver, en hoe voel jy terugskouend oor die publikasie? Wat wil jy, buiten die cool rubrieke, in die volgende paar jaar as skrywer doen? Vind jy dit makliker om fiksie of outobiografiese skrywes te pleeg?

Die probleem met die i-Tjieng-boek is, almal is te lui om die instruksies in die voorwoord te volg. Ek ken baie mense wat die boek gekoop het, maar ek weet van net omtrent twee ouens wat weet hoe dit werk. Mense lees eerder hulle eie zodiacs en horoscopes en kak as om die moeite te doen om uit te vind hoe akkuraat Confucius se toekomsadvies kan wees.

Die ding waaroor ek bly is, is dat daar ten minste nou ’n Afrikaanse vertaling van die I Ching beskikbaar is. Selfs al is dit eendag uitverkoop in boekwinkels en kry mense dit nie meer in die hande nie, is dit nog beskikbaar by Penguin as ’n e-boek. Ek vermoed daai boek se tyd gaan nog kom.

Die hele debakel rondom jou “Tipp-ex-Sonate” verlede jaar, toe studente aan Cambridge dié gedig met slegs punktuasie moes ontleed, was sekerlik nogal interessant! Hoe was die ervaring om te sien hoe dié destydse gedig opslae maak? As jy die eksamenvraag daaroor moes beantwoord, wat sou jou antwoord wees (as jy nie geweet het wat die bedoelde betekenis daarvan was nie)?

Ek sou gedink het: hierdie fokken digter is stapelgek, of hy was net te lui om woorde uit te dink wat sense maak. En ek sou dalk reg gewees het.

Wat is die sin van die lewe?

Om betyds uit te figure wie is die Antichris en dan so vinnig moontlik te fokkof.

 

Koos Kombuis is te sien by die US Woordfees 2015.

De Vette Mossel
Koos Kombuis en Schalk Joubert – 10 Maart 13:00|60min| R60 of R120 ligte ete ingesluit

Protea Hotel Tegnopark
Koos Kombuis en Schalk Joubert – 9 Maart 13:00|60min| R60 of R120 ligte ete ingesluit

Klik hier vir die volledige program.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top