Ek het ? vermoede die komende verkiesing gaan liewer deur klein as groot politieke kwessies in die land oorheers word. Dié spesmaas word onderskraag deur die onlangs landwye betogings oor die beweerde gebrek aan voldoende dienslewering op munisipale vlak – veral in verafgeleë, klein dorpies.
Ek vermoed dat dié betogings in die aanloop tot die verkiesing – wat waarskynlik in die tweede helfte van April gehou gaan word – gaan toeneem. Met die oog op die verkiesingseisoen blyk dit strategies ? slim skuif te wees omdat politici normaalweg gedurende dié tydperk baie sensitief vir konflik is.
Ontevrede en veral arm Suid-Afrikaners weet dit en gaan alles in die stryd werp om politici se gevoelens uit te buit. Reeds omdat politici bang is om stemme te verloor.
Betreurenswaardig is dat sommige politici min of niks doen nie om dié kwessies aan te spreek en/of op te los nie.
Die onlangse opstande in Uitenhage in die Oos-Kaap is tekenend daarvan. Ek het verneem soortgelyke optrede deur ontstoke inwoners kan dié dorp kort voor die verkiesing weer eens lam lê.
Regtig, ek hoop en vertrou dit gaan nie gebeur nie. Die regering en die leiers van die betogers behoort dringend blywende oplossings vir die probleme om die onderhandelingstafel te vind.
Die mees brandende of liewer klein politieke kwessies waaroor inwoners van Gerald Smith, Rosedale en KwaLanga in Uitenhage ontstoke is, is ? gebrek aan laekoste-behuising, onvoldoende vullisverwydering, slaggate in strate of toegangspaaie, en die hoë werkloosheidsyfer, veral onder die jeug.
Klein politieke kwessies lê aan die hart van ons arm mense, en politieke partye wat daarop fokus behoort goed in die verkiesing te vaar.
Dit is hoe wyle Dougie Josephs, voormalige Arbeidersparty-LP vir Riversdal, sy eerste driekamerparlement-verkiesing as ? onafhanklike kandidaat in 1984 gewen het. Josephs het aan my vertel hy het op klein politieke kwessies gekonsentreer en sy opponent op die afskaffing van die Groepsgebiedewet en apartheid. Volgens Josephs het hy gewen omdat sogenaamde klein apartheid arm mense baie seerder gemaak het as groot apartheid. Klein apartheid het die kern van ? gesonde gemeenskap – naamlik ? normale gesinslewe in ? ordentlike huis met werkende volwassenes, elektrisiteit, skoon water en gereelde vullisverwydering – vernietig.
Ek bedoel egter nie groot politieke kwessies is nie belangrik nie, maar Suid-Afrika bestaan grotendeels uit arm mense. Reeds daarom moet hul belange prioriteit geniet. As klein politieke kwessies naastenby so aandag geniet soos die skep van ? welsynstaat – beter bekend as die toekenning van maatskaplike toelaes – kan Suid-Afrika ? baie beter toekoms vir al sy inwoners bied.
? Welsynstaat skep egter die probleem dat ? land se inwoners toenemend afhanklik word van die regering se welsynsprogram. Om dit te voorkom moet daar gefokus word op die verbetering van munisipaliteite se diensleweringuiteensette. Dit kan gedoen word deur bekwame munisipale amptenare aan te stel.
Die verwesenliking van klein politieke ideale skep outomaties ? gunstige broeiplek vir groot politieke prestasies.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Hoë werkloosheid onder die jeug is tog nie 'n klein kwessie nie?
met vriendelike groete,
Eep Francken
Dankie Jason vir 'n interessante artikel. Persoonlik dink ek dat klein en groot sake is NIE meer waaroor dit gaan nie. Mense vertrou net nie meer die mense nie. Daar is maar GEEN politike party wat deesdae jou stem verdien nie. Die ANC is te opgeblase en luister nie regtig na die mense nie. Die DA is nog steeds te wit en transformeer gans te stadig. Agang is 'n nuwe baba met NET beloftes! Die ander klein klomp gaan nooit 'n verskil maak nie. Die ANC gaan sy grootse aantal mense dié keer verloor. Hulle het tot nou toe nie besef waarom hulle 10 en 'n half miljoen meerderheid in 1994 so konstant verminder het nie! ARROGANSIE!!! Jy kan nie mense elke dag en om elke draai verneuk nie! Tot tyd en wyl die ANC nie leer dat wanneer jy regeer doen jy dit ten bate van ALMAL en nie net Comrades nie gaan ons nooit regkom nie. Ek wens ek hoef NOOIT weer Jacob Zuma se naam te hoor nie. Hy was en is en sal nooit 'n geskikte en gepaste persoon wees nie! Hy moes NOOIT president geword het nie!!!!!! My eie pennie in die bordjie!