Kingdom of Earth

  • 0

Tennessee Williams se minder bekende Kingdom of Earth (eers getiteld The Seven Descents of Myrtle) is in 1975 geskryf en byna 40 jaar later kry hierdie toneel lewe op die Kaapse verhoog.

Die pasgetroudes Lot (Nicholas Dallas) en Myrtle (Anthea Thompson) kom by Lot se woning uit sy kinderjare aan om hier ’n lewe saam te begin. Hulle het die stad verlaat om in die Mississippi-delta ’n landelike bestaan te gaan voer en Myrtle is ekstaties om vir die eerste keer in haar lewe die “vrou van die huis” te wees, veral nadat sy as ’n vermoedelike prostituut die strate van Memphis gewandel het.

Daar wag egter twee onaangename verrassings op Myrtle en die eerste verrassing kom in die vorm van harde asemhaling uit die kombuis se rigting. Myrtle is aanvanklik onseker of die asemhaling aan ’n dier of ’n mens behoort. Dit is egter Lot se halfbroer, Chicken, wat op die perseel bly. Die volgende kinkel in die kabel is die ernstige vloed wat dreig om albei verdiepings van die huis teen die volgende môre te oorstroom. Chicken en die vloed bly konstante bedreigings vir Myrtle gedurende die toneel. Lot se terminale siektetoestand (tuberkulose) laat Myrtle twyfel aan sy vermoë om vir haar te sorg, en sy toenemende obsessie met sy oorlede ma laat haar boonop koud.

Die reëling tussen Lot en Chicken wat die verdeling van die huis aanbetref, is dat Chicken die huis sal erf wanneer Lot sterwe. Myrtle besef haar “lot” en moet baie strategiese besluite neem wat haar toekoms aangaan. Waar Chicken aanvanklik afskuwelik en bedreigend vir Myrtle was, raak hy later haar erotiese minnaar. Dit is debatteerbaar of sy vir Chicken werklik uit vrye wil kies, en of sy dit slegs om oorlewing doen wanneer sy besef dat Lot hoegenaamd nie haar beskermer is nie. Lot se obsessie met sy oorlede ma gaan gepaard met transvestisme, en hiermee lê Williams groot klem op geslagstereotipes. Chicken is byvoorbeeld die toonbeeld van manlikheid: hy is rof, sterk gebou, besonders seksueel; Myrtle verteenwoordig vroulikheid, alhoewel dit neig na die groteske, aangesien daar voorgestel word (en Lot beskuldig haar daarvan) dat sy ’n prostituut/hoer is. Lot is ’n tussengeval – hy is wel van uiterlike ’n man, maar verlustig hom in, en voel tuis tussen, vroulike items en kledingstukke, in so ‘n mate dat hy ten einde in sy oorlede moeder omvorm.

Williams is ’n meester in spanning bou met die gebruik van die fynste nuanses van die menslike gees. Sy hoofkarakters tree dikwels in ‘n morele stryd en wroeging vir hulle geestlike welsyn. In Kingdom of the Earth beklemtoon hy die konstante stryd tussen kultuur en natuur. Hierdie elemente lei tot die bou van die klimaks, waartydens Myrtle se besluit om haarself aan Chicken eerder as Lot te wy, duidelik word. Williams se skerp dialoog en volronde karakters maak dit maklik vir die akteurs om natuurlike diepte in hulle karakters te vestig. Dit help ook die gehoor om by te bly deur ’n 120-minuut-toneelstuk (met ’n 10-minuut-pouse tussenin).

Kingdom of Earth vind plaas in 1960, tydens die vormende jare van die Amerikaanse Burgerlikeregte-beweging. Amerika is self besaai met ’n geskiedenis van segregasie en diskriminasie en in die Suide van Amerika was dit veral prominent. Chicken se gemengde-ras-erfenis veroorsaak dat hy ’n buitestander in die gemeenskap is. Hy word deur Williams uitgebeeld as brutaal en kru, maar daar is veel meer aan Chicken se karakter as wat op die oppervlak te sien is. Alhoewel Lot se vooroordeel teenoor Chicken as ‘n gemengde-ras-persoon duidelik is, word Myrtle se vooroordeel uitgedaag wanneer sy Chicken in ’n ander lig sien – as haar verlosser en seksuele bevrediger.

Anthea Thompson speel ’n lewenslustige Myrtle en voer die gehoor mee na die salon in die Mississippi-delta waar die toneel se aksie plaasvind. Haar spel is byna hipnotiserend en sy dra die toneel. Marcel Meyer maak interessante keuses wat Chicken se komplekse karakter aanbetref en dra tot die gehoor se gemengde gevoelens teenoor die karakter by. Nicholas Dallas steek effens af teenoor die voorgenoemdes – sy spel voel voorgesê en skort in diepgaande karakteranalise en akteurskeuses.

Meyer se kostuumontwerp, Lingenfelder se klankbaan en Abrahamse se regie, stel- en beligtingontwerp werk saam om hierdie opvoering van Tennessee Williams se Kingdom of Earth tot volle reg te laat kom.

Kingdom of Earth speel tans by die Baxterteater se Flipside-teater tot 22 Februarie. Kaartjies beskikbaar by Computicket.

Teks: Tennessee Williams
Regie: Fred Abrahamse
Kostuumontwerp: Marcel Meyer
Stel- en beligtingontwerp: Fred Abrahamse
Komponis: Charl-Johan Lingenfelder

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top