Kaalgat tussen die Daisies

  • 0

Vir Louzel Lombard, ’n boer se kind van Cradock in die Oos-Kaap, was dit alreeds onortodoks om R600 vir ’n kaartjie vir die Rocking the Daisies-musiekfees op ’n plaas in Darling te koop. Die woonstelmaat van die stad het egter belowe dit sou die moeite werd wees, maar vir ’n first-time–feeskat van Cradock was die kultuurskok groot.

 

In die week voor die rockfees Rocking the Daisies in Darling plaasvind, loop net die ingenieurs nog op Stellenbosch klas. Vanaf Donderdag is dit asof iemand ’n amptelike openbare vakansiedag verklaar het, want studente vee bloot hulle agterstewe af aan enige verpligtinge.

Afrikaanse studente en Afrikaanse puriste sien Rocking the Daisies as ’n seën. “Stellenbosch is uiteindelik weer ’n opreg-Afrikaanse universiteit omdat al die souties in Darling is,” sê ’n verligte student op Facebook.

Studente van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad maak maklik die helfte van die 16 500 kampeerders uit wat vanjaar op Cloof Estate se gewese lusernlande gaan tent opslaan het. (Die ander helfte is ouer hippies en grys middeljariges wat hulle verbeel dit is nog cool om tussen gerookte jongmense rond te hang.)

Daar is ook werkende jongmense by die fees, maar hulle kom eers Saterdagaand op die donker kampeerterrein aan. Ander feesgangers weet nie juis of hulle ware ménse of sampioen-hallusinasies is nie. Die feit dat dié lot weer Sondagoggend douvoordag vertrek, verklaar nie juis die raaiselagtige stigma rondom hulle nie.

Ongeag die demografie is almal wat met die N7 deur Durbanville of die R304 deur die Malmesbury-plase op pad na Darling ry, op soek na ’n speed wobble wat hul lewens sal ophelder. Diegene wat by Rocking the Daisies en ander soortgelyke rock- en transfeeste uithang, verbeel hulle dat hulle tydelik aan die beperkinge van die sosiale orde kan ontsnap.

Gmf.

Om 16 500 ekstatiese mense te kan huisves, benodig jy júis sosiale manipulasie – iets waarvan daar geen tekort op die Rocking the Daisies-perseel is nie. Die organisasie agter die feesverwikkelinge is onberispelik, en nêrens, behalwe by die opslaantoilethokkies, staan mense ooit tou nie.

Die kampeerterrein is ook, soos ’n stad, uitgelê om dié met die meeste geld die gemaklikste te akkommodeer. Ja, selfs op dié kwasikultiese kampeerterrein is daar ’n goed-afgebakende klassestelsel.

In die terrein met die priváát badkamers kan jy in ’n luukse tweemantent op ’n dubbelbed slaap teen “nét R5 995”, adverteer die Rocking the Daisies-webtuiste.

Langsaan, in ’n gebied met kleiner tente, staan ’n geïrriteerde veiligheidswag onder die letters “VIP CAMPING” en hou moedswilliges wat die luukser badkamers wil gebruik, buite. Hiér kampeer die middelklas-feesgangers.

Buite, in die laatwinterreën-moeras, moet die res van die Daisies-samelewing ’n bestaan maak. Twintig PortaLoo-hokkies staan in die middel van dié proletariaat-gebiede in die wind en omwaai. Die desperates soek na ’n windstil hoekie agter bome om hul nood te verlig, en later – véél later – is die windstil hoekies ook maar opsioneel.

Om higiëniese en logistieke redes is dit belangrik om te verseker dat die tent waarin jy kampeer, waterbestand is. In die vroeë oggendure sien dronkes dikwels tente vir badkamerkrippe aan.

Wat nié juis opsioneel is nie, is die gebruik van stimulante om jou regdeur die aand aan die gang te hou. As jy al die optredes wil sien, moet jy op een of ander manier wakker bly. Die maatskappye wat feeste soos Rocking the Daisies reël, kan maar net sowel ’n strooitjie of twee tik aan die kaartjies vasspeld. Enige organiseerder wat die hoofvertoning vir middernag reël, behoort hul teikengroep beter te ken.

Foto: Gys Visser

 

Dwelms is so algemeen soos Enterprise-rooiworsies op die kampeerterrein. Elke middag rondom vieruur sal daar ’n opportunistiese “entrepreneur” by jou tent verbystap met ’n paar opsies in sy kleurvolle, geweefde bladsakkie: dagga vir beginners én veterane, sampioene vir die omgewingsbewustes en naturaliste, of MDMA (ecstasy) vir diegene wat met opset nie ’n tent gebring het nie – húlle slaap nie.

Nog ’n goeie voorbeeld van briljante marknavorsing wat vrugte afgewerp het, sou byvoorbeeld die aFREAKa-groep wees wat tydens die fees onesies verkoop het. Dié eenstuk-babygrows vir volwassenes word van ’n sagte, goedkoop flennielap gemaak en is in ’n reeks dieretemas, onder meer leeus, olifante en koeie, beskikbaar. Teen R700 stuk was die onesies ’n reusesukses. Die pakkies het veral teen die onplesierige wind op vanjaar se fees weerstand gebied.

Op papier moet Rocking the Daisies beslis die mees ekovriendelike plek op aarde wees. Volgens die webtuiste en die verskeie volhoubaarheidstalletjies op die terrein, het die fees al honderde toekennings ontvang vir hoe goed hulle rommel bestuur, toiletwater herwin en wie weet wat nog. Tog is dit moeilik om in te sien hoe enigiets weer ná die fees op die kampterrein sal groei.

Toe die feesgangers Sondagoggend hul tente (of dít wat daarvan oorgebly het ná die stormsterk wind) oppak en loop, was Cloof Estate besaai met álles waaraan jy kan dink. Dit het gelyk asof ’n spykerbom in een van Makro se gange ontplof het. Sommige armsalige studente het die geleentheid gebruik om rond te loop op soek na bruikbare goeters en onbederfde kos wat agtergebly het. Ten minste doen húlle eer aan die “Groen-wording en Volhoubaarheidsprogram” wat die webtuiste adverteer.

Een plek waar die feesorganiseerders wél baie gespaar het, is met watergebruik. Dit is blykbaar nie hipster genoeg om gedurende sulke feeste te stort nie. Die massas stinkgatte kan ten minste nie beskuldig word van watervermorsing nie.

Hoewel die organiseerders hul kaarte byna verspeel het deur vanjaar só baie mense by die fees in te laat, is die gevoel van feestelikheid nie heeltemal gekelder nie. Aanhangers kon ten minste steeds hul gunsteling internasionale musiekkunstenaars, soos ALT-J, The Hives en Skunk Anansie, te siene kry. En te oordeel aan die aantal kere wat jy “I love you so, I love you so” van ALT-J twee dae ná die naweek op Stellenbosch kon hoor, is dit veilig om te sê dat Rocking the Daisies wel ’n sukses was.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top