Jou wildste drome

  • 1

Die Britse droomkenner Charlie Morley het met Johannes de Villiers oor sy debuutboek, Dreams of Awakening, gesels.

Johannes Bertus de Villiers

So een keer per jaar kom ’n Brit met die naam van Charlie Morley Suid-Afrika toe om mense hier te leer hoe om bewustelik te droom.

Charlie, ’n inneemlike 31-jarige met ’n dik Engelse aksent, bied kursusse by retraîtsentrums in die Wes-Kaap, Johannesburg, selfs die Drakensberge aan, waar hy mense leer hoe om “helder te droom”. Op sulke werkswinkels, wat tipies oor vier of vyf dae en nagte strek en grotendeels deur plaaslike Boeddhiste bygewoon word, sit retraîtegangers bedags deur Charlie se lesings oor hoe mens die leisels van jou drome kan oorneem. Snags slaap hulle in beddens in ’n groot meditasiesaal terwyl Charlie dinge in hul slapende ore fluister of hulle van tyd tot tyd wakker maak om hul drome in joernale neer te skryf.

Die doel is om mense te help om tydens hul drome bewus te word daarvan dat hulle droom, sonder dat hulle wakker raak. As dit gebeur, so vertel Charlie, kan jy die leisels van jou droom oorneem en allerlei wonderlike dinge begin doen wat in die regte wêreld heeltemal ontmoontlik is.

Aweregs?

Seker. Maar al minder so.

Om helder drome (in Engels “lucid dreams”) te kan hê, is ’n rare, maar gesogte vermoë. Die meeste van ons skrik wakker as ons midde-in ’n lekker avontuur of nagmerrie besef dat ons besig is om te droom. Maar daar is ’n klein groepie mense wat die talent het om hul slaap – en dus hul drome – voort te sit selfs nadat hulle besef het dat hulle nie wakker is nie.

Charlie maak dit sedert 2008 sy taak om oor die wêreld heen vir mense te leer hoe om doelbewus helder drome te beleef en het ook pas sy eerste boek, Dreams of Awakening, gepubliseer waarin hy verduidelik hoe mens die tegniek kan aanleer.

Dis nie moeilik om die aanloklikheid van dié kursusse en boek te begryp nie. Dink net wat jy alles sal kan doen as jy in ’n droomwêreld, waar alledaagse reëls soos oorsaaklikheid en swaartekrag nie geld nie, helder word. Baie mense kies om te vlieg. Talle voer gesprekke met Albert Einstein of Elvis Presley. Party dromers gebruik dié tyd om vreemde lande te besoek; party gebruik die kans om stokperdjies soos joga, meditasie of perdry te beoefen.

Wetenskaplike studies wat sedert die 1960’s deur sielkundiges soos Stephen LaBerge van Stanford en Celia Green van Oxford gedoen is, toon meer as die helfte van die mensdom sal op een of ander stadium van hul leeftyd ’n helder droom beleef. ’n Baie klein groepie (minder as 5% van die mensdom) beleef dit gereeld.

Dit is Charlie se doelwit om meer mense, ook hier in Suid-Afrika, te leer hoe om helder te droom. Sedert 2010 besoek hy Suid-Afrika byna jaarliks met sy werkswinkels en openbare lesings. Hy bied ook soortgelyke kursusse in ander lande, waaronder Frankryk, Italië en Swede, aan. Met Dreams of Awakening (uitgewer: Hay House) hoop hy om nou ook ’n gehoor te bereik wat nie sy kursusse kan bywoon nie.

Charlie is vas oortuig hy is aan die voorpunt van die volgende groot gier in populêre sielkunde. “Almal is deesdae gaande oor aandagtigheid (mindfulness),” het hy onlangs in ’n lesing in die Kagyu-Boeddhistiese sentrum in Kenilworth, Kaapstad, vertel. “Maar die volgende revolusie gaan in slaap wees. The Guardian in Brittanje publiseer eersdaags hul vierde artikel vanjaar oor helder drome. Ek vermoed binne vyf jaar gaan daar terapeute wees wat helder drome in terapie gaan inspan. Pleks daarvan dat jy vir jou 3 nm-afspraak by die psigoanalis aanmeld, gaan jy vir ’n 4 vm-afspraak na die droomterapeut gaan.”

Tans verkeer baie mense nog onder ’n misverstand oor wat helder drome presies behels.

“’n Helder droom is nie sommer enige droom wat jy goed onthou of wat ’n indruk op jou gemaak het nie,” vertel Charlie as mens hom daaroor uitvra. “’n Helder droom is ’n baie spesifieke tipe droom waarin die dromer besef hy of sy is besig om te droom, terwyl die droom nog aan die gang is. Tydens ’n helder droom is ’n dromer gewoonlik in staat daartoe om die gang van die droom te begin manipuleer sodat hulle ervarings kan beleef wat nie vir hulle moontlik sal wees terwyl hulle wakker is nie.”

Self is Charlie deel van die gelukkige groepie mense wat vanself kon helder droom sonder dat enigiemand hulle daarin opgelei het. Hy het die vermoë al sedert die ouderdom van 9 onder die knie, maar het dit veral rondom die ouderdom van 16 begin benut toe hy uitvind dit stel hom in staat om aand ná aand ure lank met mooi meisies te vry en skaatsplank te ry.

As mens tussen die reëls lees, kry jy die indruk Charlie was bietjie van ’n skarminkel in sy jong dae. Sy ouers het hom in dié tyd onder meer na ’n leërskool gestuur, maar die militêre dissipline het min gedoen om hom te bedwing. In latere jare het hy onder meer ’n breakdancer en rapper geword. Dit was eers in sy vroeë 20’s dat hy ’n geestelike tuiste in Tibettaanse Boeddhisme gevind en gaandeweg tot bedaring gekom het. Spesifiek het hy by die Kagyu-skool, wat ook ’n paar takke in Suid-Afrika het, betrokke geraak.

En by die Kagyu-Boeddhiste het hy uitgevind daar is in die Himalajas ’n eeue oue tradisie van monnike wat helder drome gebruik om tydens hul slaapure veel meer stigtelike dinge te doen, waaronder meditasie en vrome visualiserings. Charlie het met een of twee Boeddhistiese leraars kontak gemaak en begin leer hoe helder drome en geestelike ontwikkeling mekaar kan komplementeer. Een van dié leermeesters was die Suid-Afrikaanse Boeddhis Rob Nairn, skrywer van onder meer A Tranquil Mind (wat aan baie Afrikaanse lesers bekend is via Karel Schoeman se vertaling, ’n Stil Gemoed).

Nou reis Charlie die wêreld vol om mense te leer hoe jy tydens jou slaaptyd ’n paar ekstra ure vir meditasie kan inruim. Die gehore is meestal die tipe mense wat Dalai Lama-boeke lees en op pofkussings mediteer, maar nie almal wat helder droom, doen dit om stigtelike redes nie. Onlangs, byvoorbeeld, het een van Charlie se Franse studente, ’n vrou met ’n swak liggaamsbeeld, haar selfvertroue leer herwin deur in haar helder drome ure lank kaalbas deur die strate van Parys te paradeer.

Baie lesers sal Dreams of Awakening in boekwinkels tussen die esoteriese leesstof oor kristalle en die Loch Ness-monster gaan soek, maar Charlie hou vol helder drome is nie net een of ander mistieke verskynsel waarvoor skeptici hul oë behoort te rol nie.

Toegegee, die boek maak ’n paar aanvegbare stellings oor telepatie en buiteliggaamlike ervarings, maar dit bevat ook nugtere opsommings van LaBerge se studies aan Stanford, wat met EKG-masjiene onder kliniese omstandighede gedoen is en dekades gelede al verrassende bewyse van helder drome opgelewer het. Die resultate is maklik aanlyn bekombaar, maar hier is een fassinerende bevinding: in een studie het LaBerge vasgestel dat dromers wat in sy laboratorium lê en slaap, vanuit hul helder drome met hom kan kommunikeer deur hul oogballe in voorafbepaalde patrone te beweeg. So kon slapende proefkonyne met hul oogbal-morsekode vir LaBerge van hul drome vertel terwyl hulle dit beleef.

En daar is selfs ’n paar verdere indrukwekkende studies oor die onderwerp wat nie Charlie se boek gehaal het nie. In 2012 byvoorbeeld het wetenskaplikes aan die Universiteit van Bern, Switserland, bevind dat sportlui wat tydens hul helder drome saans ’n paar ekstra ure se verbeelde oefening inkry (selfs al lê hulle tegnies plat op hul rug) die volgende dag veel beter vaar as hul mededingers wat van ander dinge gedroom het. Navorsers aan die Universiteit van Heidelberg het vroeër vanjaar dié bevinding bevestig.

Sommige terapeute het al begin vra of helder drome mense kan help om met depressie saam te leef (vermoedelik deur hulle te help voel dat hulle meer in beheer van hul omstandighede is).

Charlie is ook nie die enigste skrywer wat die laaste jare iets oor helder drome gepubliseer het nie.

Susan Blackmore, die hoogs gerespekteerde Britse bewussynsielkundige, het sedert 2010 begin om in van haar boeke wenke in te sluit oor hoe mens jou vermoë kan opskerp om helder te droom, onder meer in haar Introduction to Consciousness (uitgewer: Routledge), die beste inleidende werk oor die bewussynsielkunde wat tans in die vakgebied te lese is. Blackmore is ’n geesgenoot van Richard Dawkins en entoesiastiese kampvegter teen pseudowetenskap. As sy die groen lig aan die studie van helder drome gee, dan het dit beslis die hoofstroom bereik.

Charlie Morley (foto verskaf)

En Richard Wiseman, nog ’n gerekende Britse slaapkenner, se jongste boek, Night School: Wake up to the Power of Sleep, het in Mei vanjaar verskyn en bevat ’n paar wenke oor hoe om helder drome by jouself te induseer. Wiseman het ook enkele jare gelede saam met kollegas ’n selfoon-app ontwikkel waarmee jy jou helder drome se inhoud kan beïnvloed. Die app, genaamd Dream On, speel agtergrondgeluide wanneer jy in REM-slaap, oftewel jou droomfase, is en probeer so die inhoud van jou drome beïnvloed.

(Ek het Dream On op my iPhone. As jy wil droom jy is by die see, kan jy dit stel om brandergeluide te begin maak sodra jou iPhone se sensors aan jou oogbewegings agterkom dat jy in die REM-slaapfase is. As jy van ’n oerwoud wil droom, kan jy dit stel om die geluid van tropiese voëls na te maak. Daar is selfs ’n verstelling met toepaslike geluide as jy wil droom jy bevind jou in die zombie-apokalips.)

Alle aanduidings is dat ’n wêreldwye gier vir helder drome besig is om rondom ons los te bars.

Charlie en sy Tibettaanse leermeesters kla nie oor die belangstelling nie, maar tussen die sportoefeninge en nudistiese vermaak hoop hulle sekerlik die geestelike waarde van die verskynsel sal nie heeltemal vergeet word nie.

“Helder drome gaan nie net oor oulike hasies en reënboë nie,” vertel Charlie. “Dikwels vertel mense my dit word baie donker in hul drome. Jou onderbewussyn kommunikeer in jou drome met jou. Jou drome gaan nie net met jou oor koeitjies en kalfies gesels nie. Dit gaan gróót sake aanroer.”

En selfs meer gewigtig: in Tibettaanse Boeddhistiese kringe word helder drome gebruik as ’n tegniek om jou vir die dood voor te berei.

“As jy kan leer om in jou drome helder te word, kan jy begin beleef hoe dit voel om vry te wees van die beperkings van jou lyf, en selfs van die beperkings van jou ego. Dit is hoekom helder drome ’n voorbereiding vir die sterwensproses is.”

Charlie se hoop: As ons nou al kan oefen om elke aand ons kop bewustelik neer te lê en ons aandagtigheid te behou selfs nadat ons ons oë gesluit het, kan dit ons dalk net help leer om eendag, wanneer ons finaal tot rus gelê word, ’n tikkie helderheid na daardie finale donker nag met ons saam te neem.

“As ons net kan onthou dat ons elke oomblik besig is om onsself vir ons dood voor te berei, sal ons die dae – en die nagte – wat ons hier gegun is, tot die beste voordeel gebruik.”

Ek wil helder droom. Wat nou?

Talle wenke is al oor die jare geformuleer vir diegene wat hul nagtelike avonture wil beheer.

  • Die meeste kenners stem saam die eerste stap is om jou drome beter te leer onthou. Jy moet eerstens begin om ’n dagboek langs jou bed te plaas waarin jy elke oggend jou drome kan neerskryf sodra jy wakker word. Soos jy hulle neerskryf, sal jy mettertyd jou drome al beter begin onthou. En dan sal jy oplet watter patrone of verskynsels tipies in jou drome opduik. Wanneer jy dan eendag weer daardie patrone opmerk, sal jy hopelik besef jy is waarskynlik besig om te droom. En dan kan jy die leisels van jou drome gryp.
  • LaBerge en Blackmore stel albei voor dat mens ’n gewoonte moet ontwikkel om elke paar minute stil te staan en te vra: “Droom ek nie dalk nou nie?” As jy dit gereeld genoeg doen, sal die gewoonte jou ná ’n paar dae tot in jou drome volg. En as jy daar die vraag met ’n “Ja” kan beantwoord, sal jou droom eensklaps helder word.
  • Daar is ’n paar dinge wat mens nie in drome kan doen nie. (Dit het te doen met breinfunksies wat afskakel terwyl jy slaap.) In ’n droom kan jy nie ’n vertrek se ligskakelaar aan- of afskakel nie. Jy kan ook nie lees nie. As jy ooit wonder of jy droom, probeer een van dié dinge doen. As dit jou nie beskore is nie, kan jy begin vlieg.
  • Op Charlie se werkswinkels buk hy soms langs slapende studente en fluister in hul ore: “Jy is besig om te droom”, in die hoop dat die slapers hom sal hoor en dat hul drome sal verhelder. Dit is soortgelyk aan ’n tegniek wat Tibettaanse monnike in kloosters gebruik. Hulle leun oor ’n slapende vriend en wanneer hulle sy oë sien beweeg, fluister hulle in die vriend se ore: “Jy is besig om te droom.” As jy ’n vriend het wat bereid is om saans langs jou bed te hurk, kan dit dalk net werk …

Lees meer oor Charlie Morley se werk op www.charliemorley.com.

  • 1

Kommentaar

  • Schalk Schoombie

    Dankie Johannes Bertus. "n Prikkelende artikel met pitkos, ek het dit besonder insiggewend gevind. Ek was veral geïnteresseerd in die afleiding dat drome 'n mens dalk voorberei op die dood. Wie weet, dalk ook op wat anderkant die dood lê? Self kry ek van tyd tot tyd helder drome waar ek bewus is van my droomomstandighede en waarheen ek wil gaan daarmee. Ek het soortgelyke ervarings in my eie fiksie opgeneem en probeer verwerk.

    Voorts is dit vir my as Christen-gelowige interessant dat die Bybel vol helder en ook voorspellende drome is, sommige wel visioene, en dat God in verskeie Skrifgedeeltes met mense in hul drome kan praat. Dink veral aan Josef se drome. Dus is dit nie slegs 'n fenomeen wat figureer in die Oosterse filosofieë nie, maar beduidend oor kulture en geloofsgrense heen strek.

    Dit laat mens besin oor die geestelike waarde, daaglikse impak en bowenal doel van droom en drome, waar ons moontlik bewus raak van ander bestaansordes en wêrelde anderkant die reële en materiële. 

    - Schalk Schoombie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top