Huldeblyk: PEN Afrikaans oor André P Brink

  • 0

Dit is met leedwese dat die bestuur van PEN Afrikaans hierdie nuus moet deel: Een van ons mees gewaardeerde stigterslede, André P Brink, is op Vrydag, 6 Februarie, tydens 'n vlug van Amsterdam na Kaapstad oorlede. Volgens sy weduwee, Karina, het hy ongesteld begin voel tydens die vlug, en in die lugruim bo Brazzaville sy laaste asem uitgeblaas.

André Brink was een van die reuse van die Afrikaanse letterkunde, maar het ook in Suid-Afrika en internasionaal aansien verwerf danksy die vertaling van sy romans in Engels, Frans en 'n groot verskeidenheid ander tale. Hy het groot aansien geniet as akademikus en kritikus, en ironies genoeg is 'n groot deel van sy nalatenskap op 'n gebied waar hy nooit skeppend aktief was nie - die poësie. Brink het DJ Opperman opgevolg as samesteller van die Groot verseboek en op kenmerkende manier gesorg dat dié publikasie nog verder gewen het aan gesag.

Ons is by PEN Afrikaans ook baie aan hom verskuldig. Dit is danksy André Brink en Breyten Breytenbach se voorspraak dat ons erken is deur PEN International.

Brink het sleg deurgeloop onder die sensors van die vorige bedeling. Die verbod op Kennis van die aand en Droë wit seisoen het bygedra tot sy politieke aktivisme. Die beweging om die Afrikaanse letterkunde in 'n politiek betrokke rigting te stuur is gevoed deur sy aktivisme. Hy was dan ook in 1975 'n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde, wat nie alleen 'n waghond-funksie oor sensuur en vryheid van spraak vervul het nie, maar ook 'n nuwe tantième-bedeling vir skrywers gepromoveer het.

Brink was 'n skrywer wat alles in die stryd gewerp het vir sy mede-skrywers, 'n meer regverdige, nie-rassige Suid-Afrikaanse samelewing en die reg op vrye uitdrukking. Met sy afsterwe raak 'n baie besonderse stem stil. Ons as mede-skrywers is hom baie dank verskuldig en bring graag hulde. 

Indien jy 'n paar woorde oor wat André Brink se lewe en baanbrekerswerk vir jou beteken het, wil deel, stuur dit asseblief teen Donderdag, 12 Februarie, na PEN Afrikaans se e-posadres (penafrikaans@gmail.com) of laat 'n kommentaar op ons Facebook-blad (https://www.facebook.com/PenAfrikaans). Jy kan ook twiet na ons Twitter-rekening @PenAfrikaans - gebruik asseblief #DankieAndréBrink saam met jou twiet. Ons wil graag ons lede se huldeblyke in 'n spesiale nuusbrief deel.

Vriendelike groete

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top