Huldeblyk aan Anna Neethling-Pohl word staande toegejuig

  • 0

Liefde, Anna het by die 2012 Clover Aardklop Nasionale Kunstefees die staande ovasies van vol sale deur en deur verdien. Die produksie is veelvuldig bekroon. Die AngloGold Ashanti/Smeltkroesprys vir beste regie is toegeken aan Louis van Niekerk vir die manier waarop hy die teks tot lewendige en meesleurende teater omskep het.

Die dramaturg Schalk Schoombie stap weg met die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys vir die beste nuwe Afrikaanse teks wat by Aardklop debuteer. Sy verwerking van Anna Neethling-Pohl se lewensgeskiedenis tot indrukwekkende dokudrama verdien voorwaar erkenning. Hy tree in gesprek met Neethling-Pohl en gee haar stem dan vrye teuels, want sy was ? vrou wat haar sê kon sê. Vir haar uitstaande en veelsydige vertolking van Neethling-Pohl, haar eertydse mentor, sowel as vir haar rol in Oskar en die pienk tannie, ontvang Sandra Prinsloo die Clover Soveel Beter-prys vir beste aktrise. Ook Deon Lotz (Anna se vader en die rolle van ander mans in Anna se lewe) en Gustav Gerdener (aspirantakteur en vertolker van kleiner rolle) is prysenswaardig.

Die lewensverhaal van Anna Neethling-Pohl ontvou vanuit die raam van Anna se sterfbed. Sandra Prinsloo se vertolking van Anna in verskillende fases van haar lewe getuig van ? gesoute aktrise wat waarde heg aan fynproewersteater en afgeronde vakmanskap, soos Anna self ook het. Anna word onder andere uitgebeeld as ? dogtertjie wat van kleins af toneelspeel en grootword om pionierswerk te doen in die toneelbedryf. As taalstryder, stigter van toneelorganisasies en kampvegter vir die oprig van ? staatsteater was Anna altyd op ? drafstappie, soos sy ook in Liefde, Anna met ? komiese rympie en ? bietjie selfspot bevestig.

Neethling-Pohl se vernaamste rolle word deel van die produksie, soos haar rol in Hamlet teenoor die teaterlegende André Huguenet. Daar word ? fassinerende blik gebied op die talle liefdes in Anna se lewe, soos haar hegte verhouding met haar vader, haar liefdesverhoudings, die toneelbedryf, rugby, en ook haar noue band met oudpremier HF Verwoerd en met haar swaer, NP Van Wyk Louw. Temas van politiek, teaterproblematiek en liefdesteleurstellings word kundig verweef met tonele uit produksies en grepe uit haar lewensverhaal.

Tussendeur word die gehoor ook bederf met funksionele aanhalings uit die Afrikaanse poësie, van onder meer NP Van Wyk Louw en Eugène Marais. Prinsloo se besonderse voordrag van Van Wyk Louw se “Die beiteltjie” gaan gepaard met haar vertelling van André Huguenet se dood. Anna was pittig, vurig, uitgesproke, professioneel en passievol – en sy word in hierdie produksie nie alleen as teaterlegende nie, maar ook as mens én vrou vereer.

Aan die begin van Liefde, Anna word Shakespeare se bekende frase uit Hamlet aangehaal:“There are more things in heaven and earth, Horatio, than are dreamt of in your philosophy.” Inderdaad is dié produksie slegs ? blik op Anna Neethling-Pohl se lewe, verweef met die gepaardgaande veranderinge in die samelewing, politiek en toneelbedryf, maar dit is beslis ? blik om gesien te word.

Foto: Nerize Raath

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top