Haar naam is Ragel: 'n resensie

  • 0

Titel: Haar naam is Ragel
Skrywer: Helena Hugo
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780796316042

 

 

 

Koop Haar naam is Ragel by Kalahari.com.

Helena Hugo, die gewilde skrywer van onder meer geestelike romans, se jongste boek pryk met ’n gefolterde glimlaggie op al wat ’n boekwinkelrak is. ’n Roman is ’n roman en om te bepaal of dié boek goed of sleg is, moet daar eerstens gekyk word of Haar naam is Ragel aan die basiese vereistes van ’n goeie storie voldoen – en ook aan die vereistes vir hierdie spesifieke genre.

Dié roman is nie op sand gebou nie: dit is van die begin af duidelik dat die skrywer, kenmerkend van ander skrywers in hierdie genre, ’n stewige fondament vir haar verhaal gelê en storielyne bedink het wat haar karakters deeglik beproef: dis nie maklik om ’n karakter in ’n boek soos hierdie te wees nie. ’n Mens kry soms die gevoel dat Hugo Stephen King se “resep” vir romanskryf gevolg het: verf jou karakters as’t ware in ’n hoek vas en laat dit aan hulle self oor om daaruit te kom.

Ragel Steinbach-Naudé se sprokieslewe ruk tot stilstand wanneer Frankie, haar seuntjie, in ’n motorongeluk sterf. Dié tragedie dryf haar en Stephan, haar aptekerman, se huwelik tot baie na aan die afgrond. Ragel se depressie help nie juis om Stephan uit sy beeldskone kollega se arms te hou nie. Boonop het Frankie se dood Stephan en Ragel se geloofslewe verpletter.

Ragel doen wat vroue in sulke romans gewoonlik doen wanneer hulle nie meer kans sien vir die lewe wat deur ’n oënskynlik genadelose skrywer aan hulle opgedwing is nie: sy vlug. Platteland toe, natuurlik, onder ’n skuilnaam; en sonder dat Stephan of enige van haar vriende weet waar sy is. Sy ontmoet nuwe mense, al sou sy verkies om alleen in haar huurhuisie weg te kruip. Maar dis die nood van ander wat haar eindelik teruglok léwe toe. Sy begin weer omgee. Sy begin opnuut oor die Bybel wonder en begin weer teken. En stadig, stadig wikkel sy haar los uit die web waarin God (of die skrywer) haar verstrengel laat raak het. Maar sy is steeds salig onbewus van Stephan wat al hoe stywer onder sy skelmpie se blad inkruip ...

Haar naam is Ragel lees vlot en maklik. Die verhaal oortuig en lesers van toeganklike romans sal dit boeiend vind. Én ontroerend, indien hierdie genre op jou van toepassing is. Daar is geen diepsinnige teologiese of filosofiese diskoerse nie: dis immers ’n ontspanningsroman, ’n “gewone” boek vir “gewone” mense. Oordeelkundige lesers sal dalk vra of sulke gewigtige temas regtig in ’n boek soos hierdie tuishoort – of dit nie lewer aan teoloë oorgelaat moet word nie; en of hierdie genre nie alleenlik op stewige verkoopsyfers staatmaak vir sy bestaansreg nie. Die antwoord is natuurlik: godsdiens raak almal. En daar is meer as genoeg mense wat godsdiens beleef soos Hugo se karakters dit beleef.

Hugo gló in haar karakters. Haar lesers ook. Die betreklike voorspelbaarheid van Haar naam is Ragel is in orde vir hierdie genre. Die vraagstukke waarmee die hoofkarakters aan die begin van die verhaal gekonfronteer word, word sinvol opgelos: daar is geen oorhaastige of “maklike” uitweg vir Ragel en Stephan nie.

Al beswaar is dat twee karakters – Anke, ’n huisvrou en ma met ’n onwaarskynlike aanleg vir motorenjins; en Ciska, ’n sterwende tantetjie – blykbaar sommer net deur die skrywer opgeraap is en dat hulle nie meer funksioneel by die res van die verhaal inskakel nie: die leser sou graag meer van dié twee wou sien. Aan die ander kant dra hulle skynbaar onbeplande opwagting by tot ’n bietjie spontaniteit.

Haar naam is Ragel slaag as storieboek én as ’n Christelike roman, een wat nie te ver vir oorsese eweknieë (wat gereeld in Afrikaans vertaal word) hoef terug te staan nie.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top