Gustaf Pienaar skryf elke week vir LitNet 'n regsrubriek met 'n verskil: hy soek 'n hofsaak uit wat gedurende daardie spesifieke week opslae in die land gemaak het. Dit maak nie saak in watter jaar dit gebeur het nie. Broedertwis, ouerskapkwessies, daggaplantjies in die tuin, rusies oor speelgoed en dronkbestuur met 'n verskil ... Verstommende stories het al aan die lig gekom. 'n Nuttige toevoeging tot die rubriek se navorsing het ook pas bygekom: Jutastat borg vir Gustaf Pienaar gratis toegang tot hul aanlyn regsbiblioteek sodat hy bygestaan word in sy navorsing.
Maar waar kry Gustaf Pienaar in die eerste plek sy idees vir die rubrieke? Naomi Meyer vra vir die man wat die werklikheidsverhale só vertel dat dit vreemder as fiksie klink, wie hy is.
Hallo Gustaf, dankie dat jy tyd maak vir die gesprek. Jy is ‘n advokaat en woon in Vleesbaai. Maar was jy nie die grootste deel van jou regsloopbaan 'n prokureur nie?
Dankie vir die uitnodiging, Naomi. Laat ons net eers die "advokaat"-ding uit die pad kry: ja, ek was sedert 1983 tot verlede jaar aan die prokureursprofessie verbonde (dit sluit die twee maer jare in wat ek kandidaatprokureur was). Om praktiese redes – veral ons verhuising na Vleesbaai - het ek my verlede jaar van die rol laat verwyder, maar ek wou nie sommer my "professionele status" (wat dit ook al mag beteken) prysgee nie. Die maklikste uitweg was om as advokaat toegelaat te word. Daarby hou ek nogal van die titel Advokaat Pienaar 🙂 en Corlina spot my: sy is nou Mevrou Advokaat! Maar ernstig: ek praktiseer nie in daardie hoedanigheid nie, en sal seker nie maklik 'n opdrag aanvaar nie. Vergeet asseblief dus die advokaat-besigheid.
Vertel vir ons lesers nog van jou agtergrond?
Wel, ek is op Brits (in deesdae se Noordwes) gebore. My ouers was albei hoërskool-onderwysers. Ek is trots op wat hul vermag het en wie almal onder hul hande as opvoeders deurgeloop het. Hul was wys genoeg om nie vir my te wou skoolhou nie, en het my gestuur na my pa se alma mater, die Heidelbergse Hoër Volkskool. Op skool wou ek al advokaat word en het met 'n staatsdiensbeurs regte aan RAU (nou UJ) gaan studeer. Ek was een van daardie klein groepie pionierstudente wat in 1968 op die tydelike kampus in Braamfontein begin studeer het. Dit was opwindend om te help bou aan 'n georganiseerde studentelewe. Om die rektor, Gerrit Viljoen, van naderby te leer ken, was 'n voorreg wat my tot vandag bybly. Ná verwerwing van die BIuris-graad is ek egter eers vir 11 jaar SAUK toe – aanvanklik as omroeper by die destydse Afrikaanse Radiodiens en toe oplaas as bestuurder: Uitsaainavorsing. Die SAUK was vir my baie goed en het my in staat gestel om talle interessante mense te ontmoet en wyd te reis. Gedurende ons verblyf in Aucklandpark in die skaduwee van die SAUK se toringgebou het ek deeltyds vir die LLB-graad aan die nabygeleë RAU gestudeer. En toe was ek soos die spreekwoordelike hond wat 'n kar gevang het: ek moes "iets" met my regsopleiding begin doen. Hoewel ek dus my SAUK-loopbaan terdeë geniet het, was dit in 1983 tyd om 'n 180°-skuif te maak, regspraktyk toe. Dáároor was ek ook nog nooit spyt nie.
Jy behartig 'n weeklikse rubriek op LitNet, Regsalmanak. Wat het jou die idee hiervoor gegee en hoe het LitNet oor jou pad gekom?
Ek het dit "afgekyk" by my liewe swaer, Albé Grobbelaar – ook 'n SAUK-kollega uit die 1970’s/’80's - wat vir etlike jare die rubriek “Historiese almanak” op Monitor behartig het. Ons hofverslae is 'n onuitputlike bron van die wonderlikste, interessantste stories – party snaaks, party grusaam, party bisar, party bitter moeilik om te glo. Maar elkeen van daardie stories het 'n "datum" – byvoorbeeld die datum waarop die verhoor plaasgevind het, of waarop die hof sy uitspraak gelewer het, of die datum van die gebeurtenis wat op die besondere hofsaak uitgeloop het ('n moord; kontraksluiting; motorbotsing; een of ander ramp – noem maar op). Die dagpers, radio en TV herdenk daagliks gebeurtenisse in die verlede op daardie datum, en dit blyk steeds gewild te wees. Waarom dan nie ook die datums van "mylpale" in ons regsgeskiedenis herdenk nie?
Jy skryf nou al ‘n paar maande lank vir ons sonder dat jy daar in Vleesbaai toegang het tot ‘n regsbiblioteek. Waar op aarde kry jy elke week ‘n idee vir ‘n rubriek?
Jong, die ding kom darem al 'n paar jaar lank aan. Die firma op George waaraan ek vir 'n kwarteeu verbonde was, het 'n uitstekende regsbiblioteek en ek kon saans – wanneer ander mense TV kyk of slaap – met groot vreugde deur die gedrukte hofverslae snuffel op soek na stories. Op dié manier het ek darem 'n "voorraad" opgebou. Sedert ons op Vleesbaai woon, was dit – altans, tot onlangs toe - nogal 'n probleem om elke aflewering van Regsalmanak finaal gereed te kry vir plasing op LitNet. Jy sal begryp dat 'n mens seker moet maak dat elke storie wat jy so vyf, tien jaar gelede geskryf het, nog "geldende reg" verteenwoordig. Gelukkig kon ek darem nog steeds op my ou firma op George reken wanneer ek vasgebrand het. Daar was gewillige mense wat gou vir my iets in die biblioteek sou gaan naslaan en per e-pos deurstuur.
Hier het 'n groot ding gebeur gedurende Februarie, omdat jy nou, met komplimente van Jutastat, gratis - en vir ‘n jaar lank - toegang het tot hul aanlyn biblioteek. Wat sal dié toegang jou in staat stel om te doen? Watter inligting is nou aanlyn tot jou beskikking?
Jis, Naomi, jy moet sien hoe omvangryk die bronne is waartoe Juta vir my toegang gee! Dis 'n skatkis van kennis en inligting oor die Suid-Afrikaanse reg en dis geweldig verbruikersvriendelik. Nou kan ek nuwe stories opdiep en seker maak dat my stories van 'n dekade of wat gelede nog op datum is. Ek geniet dit terdeë en is verskriklik bly oor hierdie geleentheid. Ons "afgetredenes" het dit ook nie aldag so breed nie :), en die waarde van hierdie toegang is etlike duisende rand werd.
Swem jy elke dag in die see? Stap jy langs die strand? Wat doen jy as jy nie jou regsrubriek skryf nie?
Ek en Corlina sê dikwels vir mekaar ons swem te min; ry te min fiets in hierdie wonderlike omgewing; kuier te min by ons wonderlike vriende. (Ons stap darem gereeld.) Ons dae is regtig vól: ek lees verbete (by voorkeur biografieë en goeie letterkunde, waarvoor ek nooit kans gehad het toe ek nog gewerk het nie); ek speel graag klavier (probeer nou 'n paar Beethoven-sonates onder die knie kry); ons reis nogal baie; gaan doen weekliks inkopies op Mosselbaai; kuier vreugdevol by die kinders en kleinkinders. En dan, natuurlik, is daar nog Regsalmanak ook ...


