Geen kriptiese kitsbevrediging hier nie – Chris Karsten gesels oor sy manuskrip vir die GAR

  • 0

By die prysuitdelingsfunksie het jou uitgewer, Janita Holtzhausen, aan my genoem dat sy baie opgewonde is oor die nuwe rigting wat jy ingeslaan het met ’n Man van min belang. Gaan jy vir Abel eers tot ruste lê na die derde boek (wat later vanjaar verskyn) of kan ons meer van hom te wagte wees in die toekoms?

In die derde Abel-boek, wat in Augustus gepubliseer word, sluit speurder Ella Neser haar uitgerekte moordsake in die Abel Lotz-geval af en gaan sy ’n bietjie rus. Miskien duik daar vorentoe weer ’n interessante geval vir haar op. Die nuwe rigting met hierdie spesifieke manuskrip is bloot om my vlerke meer lug te gee sodat ek nie vasgevang word in ’n spesifieke drukgang van die misdaadgenre nie. Spanningsfiksie strek tog veel wyer as net die uitoorlê-spel tussen speurder en moordenaar, en ek leer graag by gesoute skrywers soos Elmore Leonard, John le Carré, Henning Mankell en Gerald Seymour.

In hul commendatio het die beoordelaars spesifiek verwys na die groot klomp verskillende kennisgebiede wat jy met die verhaallyne vervleg - alles van Italiaanse operas tot die sekslewe van die seepok. Steek die joernalis in jou steeds kop uit terwyl die romansier aan die werk is?

Die kennisgebiede wat ek vir elke boek ontgin, is die noodsaaklike agtergrond wat nodig is om karakters en situasies te kan laat leef. Elke skrywer doen sulke navorsing. Die feit dat ek eens ’n joernalis was, is bloot toevallig. Wat ek van die joernalistiek geleer het, is om nuuskierig en objektief te wees, en dit, hoop ek, word wel in my skryfsels gereflekteer. Boweal respekteer ek my lesers om aan hulle die vryheid te gee sodat hulle hul eie menings in die leesproses kan vorm.

Het die feit dat jy op die oomblik in Kanada woon, ’n invloed op die manier waarop jy Suid-Afrika in jou werk uitbeeld? Is hierdie buiteblik vir jou as skrywer ’n nuttige perspektief?

’n Kopskuif is nodig vir elkeen wat uit ’n vertroude posisie verplant word. Om van ’n afstand na ’n bekende toneel te kyk – na ’n land met sy eiesoortige mense en situasies – het sy voor- én nadele. Een van die voordele is dat jy ’n rustiger perspektief het, dat die afstand jou juis losmaak van ’n sekere benepenheid. Die gevaar is in dieselfde asem dat jy nie meer jou vinger op die pols het nie. Maar ek probeer om nooit beoordelend of bevooroordeeld te wees nie deur my skrywerstem doelbewus soveel as moontlik te verskraal of selfs te verswyg.

Is daar nog ruimte vir fiksie in die hedendaagse wêreld, en veral in Suid-Afrika, waar die waarheid dikwels heelwat vreemder as die vreemdste fiksie is?

Die waarheid was nog altyd vreemder as fiksie. Die plig van skrywers is om deurentyd grense te probeer oorsteek om die fiksieruimte vir lesers te vergroot. Spanningsfiksie het wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, ’n getroue korps aanhangers. Die grootste uitdaging lê daarin om hierdie leeskring te behou (en verkieslik uit te brei) te midde van elektroniese verslawing aan kriptiese kitsbevrediging.

Keer terug na die GAR–indeksblad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top